1. Augrabies- nasionale park

Die Augrabies- nasionale park is soos ’n verrassingspakkie.

Van ver af lyk die granietlandskap dor en leeg, maar sodra jy dit van nader bekyk, sien jy dit wemel van lewe rondom jou: Dassies en akkedisse bak in die son, bleekvlerkspreeus wip blinkoog nader wanneer die kelner jou bordjie tjips voor jou neersit in die restaurant, en die Oranjerivier bulder in die kloof af – en val 56 m!

Volgens oorlewering is die kolkgat onder die waterval die tuiste van reuse-babers en genoeg spoeldiamante om jou skatryk te laat.

Die selfsorghuisies is stapafstand van die waterval af en die plankiespaaie vat jou na platforms wat oor die ravyn uitkyk (van die roetes is rolstoelvriendelik).

As jy hier bly of as dagbesoeker aandete by die Quiver Tree-restaurant langs die ontvangskantoor bespreek, kan jy ná sonsonder ook gaan kyk hoe die rivier in die kloof afstort – die waterval word snags verlig.

Kry die kaart by ontvangs en laat die Dassiesirkelroete (5 km) jou na punte lei waar jy meer oor die geologie, diere en plante van die streek leer. Jy kan ook die 3 dae lange Klipspringer-staproete (36 km) in die ravyn takel, maar die roete is slegs van April tot Oktober oop.

Verken die reservaat op ’n begeleide wildrit of op jou eie – kameelperde, klipspringers, sebras, springbokke en gemsbokke kom hier voor.

Waar bly ek? Hier is kothuise vir gesinne en selfsorghuisies met slaapplek vir 2-4 mense. Elke huisie het braaiplekke en lugreëling (baie belangrik as jy nie daarvan hou om warm te kry nie).

Jy kan ook by een van die staanplekke in die ruskamp tentpenne inkap. Hier is kragpunte en ook ablusiegeriewe.

Koste Besoek Sanparke se webwerf vir die pryse van die kothuise, kampplekke en selfsorghuise.

Bewaringstarief: R53 per volwassene en R27 per kind jonger as 11 jaar; gratis as jy ’n Wild Card het.

Hoe kom ek hier? Die park is sowat 120 km wes van Upington. Volg die bordjies van die N14 af. Die hekke is van 7 vm. tot 6 nm. oop.

Kontak 054 452 9200; augrabiesres@sanparks.org; sanparks.org 


2. Rooipan-gastehuis

Trek af by dié bees-en-skaapplaas in die Soutblok (’n deel van die Kalahari waar geen drinkbare grondwater voorkom nie) vir ’n lekker plaaskuier.

Daantjie en Lizette Knoetze, die eienaars, het ongeveer 30 jaar gelede ’n teekamer op hulle plaas begin en dit het gou gegroei tot die eerste gastehuis in die gebied.

“Die Kalahari is werklik ’n besonderse plek om te bly,” sê Lizette. “My agtertuin is ’n rooiduin, en my mooiste blomme is die rooi en geel aalwyne wat hier voorkom. In die somer is dit lekker om rondom ’n kameeldoringvuur te kuier terwyl die weer in die verte rammel.”

As jy belang stel in die geskiedenis van die gebied, is jy op die regte plek: Lizette is ’n Kalahari-ensiklopedie en kan jou meer vertel oor die beginjare van boerdery in dié dorre streek, die sout wat op die panne gemyn word, en die dierelewe en plantegroei wat hier floreer.

Gaan stap in die veld of kuier rustig op die stoep.

Foto: Martinette Louw
Foto: Martinette Louw

Die hoogtepunt? Geniet skemerkelkies op ’n hoë duin terwyl die son sak oor die soutpan waarna die plaas genoem is.

Waar bly ek? Die gastehuis het slaapplek vir 8 mense in en suite-dubbelkamers. 

Hier is ook ’n tuinwoonstel reg langs die gastehuis met slaapplek vir 3 mense. Die tuinwoonstel het een slaapkamer met ’n dubbelbed en nog ’n bed in die leefgedeelte en is volledig toegerus met ’n yskas, gasstoof, waaiers en ’n rak vol interessante boeke oor die gebied. Gaste het toegang tot die tuin, swembad, braaigeriewe en ’n binnenshuise kaggel. Wi-Fi beskikbaar.

Hoe kom ek hier? Die gastehuis is sowat 124 km Noord van Upington op die R360. Draai links by die bordjie en ry sowat 3 km op die grondpad tot by die huis.

Kontak 082 415 1579 (Lizette); rooipan@gmail.com

3. Molopo Kalahari-lodge

Molopo, sowat 60 km van die Kgalagadi-oorgrenspark af, is versier in die kenmerkende safaristyl van Afrika-lodges (dierevelle, volstruiseierdoppe en houtbeelde) en is verder opgedollie met ’n oordaad van optel-en-hougoed.

’n Lewensgroot windpomp is in die middel van die restaurant staangemaak, en verder sien jy roomyskarretjies, fietse en selfs ’n perdekar hang tussen die dakbalke. Die mure is versier met emaljewaskomme, melkkanne, sinjale, ou tikmasjiene, en skoenlese...

Ouma en Oupa gaan mal wees oor die ou goed en sal heelaand stories vertel oor die ou dae. Laat die kinders in die swembad rondplas en met die reuse-skaakstel speel wanneer hulle kriewelrig raak.

As jy hier slaap op pad na die park, kan jy vroegdag al by Twee Rivieren se hek aanmeld.

Foto: Martinette Louw
Foto: Martinette Louw

Waar bly ek? Die lodge het ’n wye verskeidenheid verblyfopsies – van chalets en rondawels tot kampchalets en ’n kampeerterrein.

Hoe kom ek hier? Molopo is sowat 200 km noord van Upington op die R360 – en net 16 km van Askham af.

Kontak 054 511 0008; namrod13@lantic.net; ncfamouslodges.co.za

4. Kgalagadi-lodge

By dié lodge is jy nie net op die drumpel van die park nie (dis net 5 km verder), maar jy het ook vir Botswana op jou voorstoep – die grens lê net anderkant die pad.

Bly hier as jy die park net vir ’n dag besoek en daar wil wees wanneer die hekke oopmaak, of as jy vir jou eerste nag in die park by een van die noordelike kampe plek bespreek het.

Die lodge is teen ’n tamaai duin geleë (as jy baie rondloop, sal jy rooisand uit jou skoene moet skud) en polle boesmangras en wilde bossies omring die chalets. Mak springbokke, koedoes, blouwildebeeste en emoes wei op die werf en dalk is dit net omdat die park so naby is, maar die landskap voel wilder hier.

S.J. en Denise Koortzen, die eienaars, het aan alles gedink: Die chalets en kampplekke is netjies en gemaklik, en die lodge het ’n klein supermark, ’n slaghuis, restaurant en drankwinkel. Hier’s ook ’n swembad – bring dus jou kinders se vlerkies saam.

Jy gaan sukkel om ’n beter uitsig te kry as die een van jou chalet se stoep af: Kalahari-duineveld strek tot teen die horison en snags voel dit asof jy tússen die sterre braai.

Foto: Martinette Louw
Foto: Verskaf

Waar bly ek? Die meeste van die chalets is bo-op die duin, maar hier is ook huisies aan die onderkant.

Hier is chalets, luukse eenhede en gesinseenhede. Daar is ook kampplekke bo-op die duin. Elke staanplek het sy eie badkamer, kragpunt, kraan en braaigeriewe.

Hoe kom ek hier? Die lodge is sowat 5 km van die Twee Rivieren-ruskamp en die ingang van die Kgalagadi-oorgrenspark op die R360 af.

Kontak 054 325 0935; 082 303 8768; 083 225 0331; kgalagadi-lodge.co.za