Blouberg is ’n inselberg wat deel is van die Soutpansbergreeks, maar van die res van die reeks geskei word deur sowat 30 km se relatief gelyk vlakte. Die hoogste punt is 2 151 m – ook die hoogste punt in die Soutpansberg.

Blouberg is ’n provinsiale natuurreservaat

Hier is kilometers goeie grondpad vir wildritte – die reservaat het baie bokspesies, onder meer gemsbokke, rooihartbeeste, elande en swartwitpense, asook roofdiere soos luiperds, vaalboskatte, rooikatte, bruin- en gevlekte hiënas.’n Trop van ongeveer 200 buffels wei ook.

Dis ook ’n boomliefhebber se droom met tamboties, vyeboomwoude en kremetarte wat in die reservaat groei.

Die reservaat se bekendste inwoners is egter die stuk of 1 000 broeipare kransaasvoëls wat in ’n kolonie op die berg nesmaak.

Jy kan met ’n sedan by die aasvoëlrestaurant uitkom, waar karkasse elke nou en dan uitgesit word vir die aasvoëls om aan te peusel. Dis ’n spesiale geleentheid vir hulle, soos ’n ghrênd middagtee: Die skedule is nie vasgestel nie sodat die aasvoëls nie op dié kos staatmaak nie.

Geriewe en koste:

Hier is vier verblyfopsies, almal selfsorg.

1.    Die Mashatu-kamp het vier huisies, elk met slaapplek vir vier. Koste vanaf R900 per eenheid per nag.

2.    Die Tamboti-tentekamp is effens meer basies. Hier is vier safaritente met slaapplek vir twee, met ’n gemeenskaplike ablusieblok en kombuis. Net een groep word op ’n slag toegelaat: R850 p.p. vir tot vier mense, plus R150 p.p. wat bykom (maksimum agt mense).

3.    Die Molope-boskamp het vyf private kampplekke in die hartjie van ’n huilboerboon-en-njalaboomwoud. Die ablusieblok het storte met warm water en spoeltoilette. R250 p.p. vir die eerste twee mense plus R80 p.p. wat bykom (maksimum ses mense per staanplek; geen elektrisiteit nie).

4.    Modumele is ’n afgesonderde wildernisboskamp met beperkte geriewe: ’n emmerstort, ’n puttoilet en afdakskuiling. Net een groep word op ’n slag toegelaat: R340 p.p. vir die eerste twee mense, plus R120 p.p. wat bykom (maksimum 12 mense).

Aanwysings: Ry van Polokwane af met die R521 na Vivo en Alldays. Draai in Vivo links in die rigting van Ga-Kibi en 9 km later regs na die Bloubergnatuurreservaat.

GPS: S22.58391 E29.09030

Kontak:  078 869 5240; info@kunemoya.co.za; bloubergreserve.co.za