Een middag in Oktober verlede jaar kom ek, Toast Coetzer en die twee kameramanne van Weg Agterpaaie moeg en stowwerig van die dag se grondpaaie ry op Jacobsdal aan. (Die dorpie lê rofweg tussen Koffiefontein en Kimberley).

Teen die breër landskap van die Vrystaat, wat dié tyd van die jaar maar vaal is, lyk Du’Villa se groen grasperk en groot koeltebome ekstra verwelkomend en ons swaai alte dankbaar by die hek in.

Op die oog af lyk die gastehuis se naam soos ’n spoggerige sinspeling op “Die Villa,” oftewel, “die huis”. Nogal vreemd, dié Italiaans so diep in die hartjie van die platteland, sou jy dink. Maar wanneer die eienaar, Rika Oberholzer, jou die oorsprong vertel, is dit volbloed-Vrystaats: “My pa, Willie Du Plooy, het ’n brahman-stoetery gehad en toe ek ’n gastehuis wou begin, het hy vir my ’n geldjie voorgeskiet. Pa Willie se vriende noem hom ‘Willa,’ en die gastehuis kry toe dié bynaam, met ’n stukkie van sy van by.”

Du’Villa het vier en suite-kamers – een met ’n dubbelbed, twee met twee driekwartbeddens, en ’n gesinskamer met ’n dubbelbed en twee enkelbeddens. Elke kamer het ’n kombuistoonbankie met ’n yskassie, mikrogolfoond en koffiestasie.

Die kamers het ook lugversorging en elk ’n televisie met beperkte DStv-kanale. In die groot tuin is ’n gemeenskaplike braaiplek, sou jy ’n paar tjoppies in die koelboks hê of sommer net ’n bietjie in die vuur wil staar voor jy môre weer die langpad aandurf.

Die woonhuis is op dieselfde werf, en jy kan enige tyd gaan aanklop as jy iets kort. Dis ook hier waar Rika besoekers met ’n stewige ontbyt trakteer. Wanneer jy aansit vir ’n bord pap, gevolg deur spek, eiers, worsies en aartappelkoekies, gaan jy spyt wees oor al daai tjoppies wat jy gisteraand weggepak het.

Koste: Die drie dubbelkamers kos R700 p.n. vir 2 en R400 p.n. as jy alleen oorbly. Die gesinskamer kos R1 100 p.n. vir 4 en R900 p.n. vir 3 mense. Ontbyt: R75 p.p.

Waar? Aan die suidelike punt van Jacobsdal, by Voortrekkerstraat 1

Kontak: 082 823 8198 (Rika Oberholzer); duvilla.co.za