Die grond is in 1770 deur die setlaar Martin Melck gekoop en die plaas is sedertdien in die familie. Julian, ’n agstegenerasie-Melck, is tans aan die stuur.

Dit kos meer as ’n deursneebed-en-ontbytplek, maar dié geskiedkundige gasteplaas is luuks. Die gastekamers het antiekmeubels en swaar gordyne, en die hele gesin sal lekker kuier rondom die groot ontbyttafel.

Besoekers kan stap deur die indrukwekkende hoofhuis – ’n nasionale monument – en in die weelderige eetkamer aansit vir een van Julian se beroemde aandetes.

Dit voel asof jy op die stel van Downton Abbey beland het.

Buite die kamers gaan die plaaslewe soos gewoonlik aan. Hoenders skrop en skape word kraal-in gejaag, ’n bok stoot teen ’n heining op soek na ’n peuselhappie en ’n trekker ry weg in ’n stofwolkie – jou kinders gaan mal wees hieroor. 

Ry bergfiets op die omliggende grondpaaie of vat jou verkyker en voëlboek af rivier toe. Of sit op die wye stoep met ’n koppie koffie en ’n boek, en dink aan ’n tyd toe die lewe nie so ’n dolle gejaag was nie.

Verblyf en koste: Die Gatehouse Cottage het slaapplek vir tot vier mense in twee slaapkamers, met ’n ruim kombuis, eetkamer en sitkamer (R720 per persoon). 

Die is ook  ’n verskeidenheid van vyf en suite-kamers op die plaaswerf (vanaf R720 – R930 per persoon). Alle pryse sluit ’n groot ontbyt in. Die plaas het ook ’n gelisensieerde kroeg. 

Aandete in die hoofhuis kos R315 p.p. 

Waar? Kersefontein is sowat 140 km noord van Kaapstad, halfpad tussen Velddrif en Hopefield aan die oewer van die Bergrivier. 

Kontak: 083 454 1025 (Julian); kersefontein.co.za