Die eienaars, Theuns en Val Steenkamp, kom oorspronklik van KwaZulu-Natal af en het dié grond in 2011 gekoop sodat Theuns sy droom van voltyds boer en Val haar toerismebelangstellings kon uitleef.

Dis ’n wenkombinasie. Val se selfsorgverblyf is silwerskoon en goed deurdag en Theuns se plaas loop soos ’n goedgeoliede New Holland-trekker.

Kinders is welkom en word soos eregaste behandel. Hulle kan elke aand die lammers, varkies, eende en alpakkas voer en hulle kan ook eiers uithaal vir ontbyt.

Hier is trekkerritte en oorgenoeg plek om rond te hardloop en fiets te ry. Die swemdam is so helder dat jy die bodem kan sien – al is dit vier meter diep. Gryp die roeibootjie of een van die binnebande en plons na hartelus.

Die avontuurlustiges kan tot bo-op ’n berg met twee uitkykpunte stap of fietsry, of net rustig raak met ’n koppie tee en ’n boek.

Kontak: 082 653 8110 (Val); gaan na die webblad (landmeterskop.com) vir meer inligting.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #152 (Junie 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.