Die selfsorghuise in die Phillipskop-bergreservaat staan midde-in ’n fynbostuin. As jy vroegoggend die gordyne ooptrek, flits glasogies en suikerbekkies tussen die proteabosse verby jou venster.

Elke naweekhuisie wat sy sout werd is, het ’n lekker kuierstoep. Buite op die houtdek wat uitkyk oor die fynbos en die Overberg se heuwels hoor jy die raps van suikervoëls se sterte wat mekaar rondjaag. En terwyl jy ’n vleisie op die ágterstoep braai, kan jy opkyk na die Klein-Rivierberg en natuurlik die Phillipskoppiek.

En vir kouer naweke is hier ’n kaggel binne. Klink perfek, nè.

Stap Saterdagoggend die 3,5 km-sirkelroete na die waterval. Dis ’n maklike stap; vat gerus die kinders saam. Net ná die tweespoorpaadjie staan ’n piekniektafel onder ’n groot ou klipkershoutboom, maar hou aan.

Voor die waterval vurk ’n paadjie op na ’n grot waar julle Provitas en Melrose-kasies kan eet. 

Terug by die huis sien jy van die houtdek af doer onder ’n postal na links. Dis die Klein-Rivierplaas. Loer in by die Picnic Shed en bestel ’n kaasbord (R250 vir 2) en ’n bottel wyn uit die Overberg of snuister en proe eers ’n paar kase (gerookte Stanford, parmesaan, havarti, gruberg) en slaan jou eie piekniek aanmekaar – hier’s mandjies, komberse en messegoed. Jou kinders gaan ’n stuk kaas gryp en verdwyn tussen die klimrame, trampoliens en sandput in die speelarea. Én hier’s bokkies en ganse om hulle besig te hou. (028 341 0693; kleinrivercheese.co.za)

En dan is daar natuurlik die hele Stanford om te verken.

Waar? Die afdraai is op die R326, sowat 7 km oos van Stanford. 

Koste? Die oopplanhuis is ruim met slaapplek vir ses mense in drie kamers. Vanaf R1 500 p.n. vir 4 mense, R220 per ekstra volwassene en R110 per ekstra kind.

Dagbesoekers: Die reservaat is oop van 8 vm.-5 nm., maar bel vooraf. R40 p.p.; gratis vir kinders jonger as 5.

Kontak: 073 621 1808; phillipskop.co.za