Vir die Smitte, die eienaars van die Pot & Gieter Guesthouse, was die fliek Vrou soek boer die deurslaggewende faktor. “Die fliek is op die dorp geskiet,” vertel Lizet Smit. “Nadat ons dit gekyk het, het ek vir J.J., my man, gesê: “Ek moet Wakkerstroom toe – dit lyk idillies”.

Dit ís idillies. Hier is geen verkeersligte nie, boerbokke en beeste drentel in die strate (meestal grondpaaie), ou wilgerbome wieg in die wind en tarentale sit en kek-ek-ek-kaaaaa op byna elke erfhek.

Voëlkykers van reg oor die wêreld stroom hierheen. Hier is ’n wye verskeidenheid biome in die omgewing: grasveld, kolle woud en die vleiland wat al langs die westekant van die dorp lê.

Die gastehuis is op die laaste erf in Vleistraat en uit die tuin het jy ’n onbelemmerde uitsig oor die vleiland met Langberg en Spitzkop in die agtergrond.

Lizet en JJ was moeg vir die stad en op soek na ’n huis op die platteland. Lizet glo in “tekens” en daar was baie die dag toe hulle op dié erf rondkyk.

“Die erf is op 20 Augustus 1863 geproklameer. Ek is 20 Augustus 1963 gebore,” vertel sy. In die huis het dieselfde kantgordyne as haar ma s’n gehang.

Die dahlias in die tuin was een van haar oumas se gunstelingblom, en die windpomp het haar aan haar pa laat dink.

Pot & Gieter Guesthouse
Pot & Gieter Guesthouse
Pot & Gieter Guesthouse
Pot & Gieter Guesthouse

Die kersie op die koek was toe hulle die koopkontrak teken – die verkopers se van was Potgieter. “My nooiensvan!” roep Lizet uit. “En dit is hoe Pot & Gieter ontstaan het.”

Die Smitte het die 120 jaar oue melkstal opgeknap en in ’n selfsorghuis omskep. Kom beleef ’n tipiese Wakkerstroom-oggend: Teug aan ’n koppie koffie op die stoep (Lizet bederf besoekers met ’n baksel beskuit) en kyk uit oor die vleiland terwyl die perde Calypso en Spartan aan die gras knabbel en ’n tarentaal sy bes probeer om hom op die heining te balanseer.

Pot & Gieter Guesthouse
Lizet Smit

Geriewe: Hier is slaapplek vir vyf mense (wat mekaar góéd ken) in ’n oopplan-slaap-en-leefvertrek en ’n klein kombuis. Bonus: die beddens het elektriese komberse, wat noodsaaklik is vir die ysige winters.

Koste: R380 p.p., R180 vir kinders jonger as 12.

Waar? Op die hoek van Vlei- en Hoekstraat.

Kontak 072 392 6064 of soek na Pot & Gieter Guesthouse op Facebook.

Wat nog? Van September tot Maart is die vleiland oortrek met voëls. En dan kan jy dié geveerdes, wat in Suid-Afrika se hoogland-grasveld voorkom, afmerk: die drakensberglewerik, vaalrivierlewerik, geelborskoester, bloukorhaan en kalkoenibis.

Pot & Gieter Guesthouse
Pot & Gieter Guesthouse

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook