Tog is hier ’n paar kolle waar dinge nog teen ’n stadige pas beweeg. Pringlebaai, sowat 85 km van Kaapstad af, is so ’n kusdorpie.

Die meeste paaie is grondpad en ruie bosse fynbos staan heuphoogte tussen van die huise.

As jy op die strand stap of sandkastele bou, hoef jy net jou kop effens noord te draai vir ’n uitsig op die grysblou Kogelberg wat bo die dorpie uittroon. Diep in dié berge ontspring die Buffelsrivier wat uiteindelik op Pringlebaai se strand uitmond – die kleinspan met hulle vlerkies en boogie boards kan ure lank in die vlak water van die strandmeer plas. 

Ná ’n dag onder ’n sambreel kan julle laatmiddag mik vir die Kogelberg-natuurreservaat, sowat 20 km van Pringlebaai af op die R44. In dié reservaat kan jy al langs die Palmietrivier stap. Dis ’n maklike gelyk roete; selfs kleuters sal ’n ent kan baasraak. Hier’s plek-plek ’n afdraaipaadjie na ’n oop kol of ’n rotsplaat langs die rivier waar jy kan inspring om af te koel en die seesout van jou lyf af te was.

Jy stap met dieselfde pad terug – dus kan julle self besluit hoe ver julle wil stap.

En hoe sluit jy so ’n salige dag af? Met ’n vleisie en worsie op die kole, natuurlik!

Waar bly ek? Die knus Swallows Nest-huisie is in ’n stil doodloopstraat – sowat 5 minute se stap van die strand af. Hier’s slaapplek vir 4 mense in ’n slaap- en dakkamer, en buite is ’n beskutte braaiplek. Jy kan maar in die winter kom – hier is ’n kaggel. Troeteldiere is welkom.

Koste: Vanaf R950 p.n. buite seisoen en R1 000 p.n. hoogseisoen

Kontak: 082 566 4899; baytown.co.za (Baytown bied ’n verskeidenheid strandhuise te huur op Rooiels, Pringle- en Bettysbaai.)

Kogelberg-natuurreservaat: 087 288 0499; www.capenature.co.za/reserves/kogelberg-nature-reserve/