Dit winter is so te sê op ons. Jy’t seker nou al die elektriese kombers uit die kas gehaal en daai man oor die kaggelhout gebel. Maar as jy vir ’n wyle genoeg gehad het van jou wolmus en jou lang onderbroek, kan jy jou wa haak en Limpopo toe sleep.
Onder kampeerders het die naam Tshipise omtrent dieselfde trefkrag as Muhammad Ali onder boksers, maar met een verskil: Tshipise gaan nog vir ’n hele paar dekades kook.

Dis waarom Tshipise ’n jaarlikse oorstaanplek is vir die land se swerwer-kampeerders. Dié kampeerders werk as ’n reël nie meer vir ’n baas nie, maar geniet eerder hulle oudag se geld buite in die natuur. Wanneer dit té warm raak in die noorde, suiker dié ouens af Kaap toe, agter die koeler weer aan, en wanneer die seisoen weer verander, is Tshipise op sy beste: steeds warm, maar lékker warm. 

Bly nog ’n rukkie

Selfs al is dit nie vakansietyd nie, en al is die winter besig om tande te wys, ry ’n mens nie sommer net by Tshipise in en kies die eerste die beste plek nie. Hier is ’n paar honderd staanplekke, maar selfs in die winter is omtrent die helfte van hulle beset. En as ’n mens kyk hoe die mense hier opslaan, is dit duidelik hulle oornag nie net nie. Nee, hier word die penne sommer vir ’n maand of twee ingeslaan.

Die bure se bagasiewaentjie wat agter hulle Jurgens aandraf, is toegetrek met ’n laslappiekombers wat van wol gehekel is en ’n hele klompie manne het selfs vir die sleepvoertuig ’n tydelike afdakkie langs die wa opgeslaan. Langs een van die toegangspaaie staan ’n klompie satellietskottels op ’n knop; een van hulle kiertsregop vasgemaak aan ’n tuinvurk. Een kampeerder het 19 sakkies braaihout voor sy plek gestapel. 

Soggens en smiddae is dit die groot trek na die warmswembad toe: Een ouer man sukkel stadig oor die pad met krukke in albei hande. ’n Vriend stop langs hom met sy kar en skerts hy moet vinniger stap. Nie ver agter hom nie loop nog twee pare mense, elk met ’n swembadnoedel in die hand.

Vroegoggend staan die stoom dik bo die warmwaterswembaddens, en jy sien die koppe van ’n klomp baaiers wat net-net bo die water uitsteek soos boeie in die diepsee. Byna roerloos sit hulle. Eenkant in die water staan ’n groot groep mans wat lyk of hulle aan ’n paar ernstige praatjies herkou, en aan die anderkant is ’n klomipie vroue wat geselsies maak. Soos nog mense aansluit, word almal gegroet. 

Soveel kampplekke, soveel keuses

Staanplekke verskil van kol tot kol waar dit in die oord lê. Party het lowergroen gras met koelte; party het net son; en ander het weer geen gras nie, maar baie koelte. Die staanplekke is merendeels plat en met kniehoogte pale afgebaken. Jou kragpunt (’n woonwasok) en kraan is gerieflik naby aan jou staanplek; as dit nie deel van jou staanplek is nie, is dit teenaan. Hier is hordes los staalbraaiplekke rond wat jy kan neersit waar jy dit verkies.

Maar wanneer jy jou staanplek kies, is dit veel belangriker om eers ’n ablusieblok te kies. As jy enigsins kan, probeer ’n staanplek naby nr. 1 te kry. Net die badkamers is vyf sterre werd. Aan die mans se kant is daar selfs vars blomme op die marmerblad langs die keramiekwasbakke. Die teëlwerk is modern, en die storthokkies ook prakties (al wat pla, is die hokkie se deur wat na binne oopmaak).

Die opwasplek (vir skottelgoed en wasgoed) is agter die ablusieblok. Reg agter die ontvangsgebou is ’n paar winkels wat die stad se gerief nader bring. Die algemene winkel verkoop al die noodsaaklike dinge – van vars groente en brood tot tydskrifte, roomys en ’n swetterjoel swemklere; binne is ook ’n drankwinkel en slaghuis. Die waskamer is ook hier. 

Doendinge

Klim die berg. Om die koppie uit te klim wat bo die oord uittroon, moet jy stap tot by die ou Tshipise-hotel op die verste punt van die oord. Hier begin ’n grondpad met ’n waarskuwing dat dit nie oop is vir die publiek nie. Maar net ’n paar treë verder, is ’n hek in die heining links waar die voetslaanpad na die koppie begin. Dit is steil en klipperig, maar jy kan binne 20 minute bo wees.

Doen die boomloop. Omtrent reg rondom die oord wys bordjies teen bome vir jou ’n sirkelroete om van die bome te leer ken (daar’s groen voetjies op die bordjies). Die roete het nie ’n begin of einde nie, maar vat jou kloksgewys in die oord van boom tot boom. Hier kan jy van ’n slaploot en stinkwitgat sien tot die kanniedood- en anaboom. Die roete is 2,2 km lank en gaan jou omtrent ’n halfuur besig hou as jy gemaklik stap.

Soek die oog. Tussen die swembaddens en die hotel is die oog waar die warmwater uit die aarde borrel. Dit is toegekamp hier, maar jy kan van ’n hoogte af kyk hoe die duisende borreltjies na bo dryf.


WegSleep sê: ’n Kampplek waar jy net jou woonwa heen moet sleep – verder is hier alles wat ’n goeie kuier verseker. 

Kortliks Forever Resorts Tshipise

Kampplek: 370 staanplekke, sommige met gras en koelte; ander met son en g’n gras.

Ablusiegeriewe: 7 skoon en netjiese badkamers.

Prys: Afhangende van die seisoen. Spesiale tariewe geld vir pensioentrekkers en langtermynkampeerders.

Kontak: 015 539 0634/0651/0658; tshipise@foreversa.co.za; forevertshipise.co.za 

Naaste dorp? Musina, 38 km.

Hoe lyk die pad? Teer tot hier. 

GPS: Ontvangsgebou: S22.605996 E30.173337; kampplek: S22.607747 E30.168943