Die huisies word omring deur die voetheuwels van die Swartberg – om hier uit te kom, ry jy met ’n kronkelende grondpadpas en die enigste verkeer wat verbykom is bokke, koeie en elke nou en dan ’n kind met ’n draadkarretjie.  Hier’s ’n piekniekplek langs die Gamkarivier net vir Matjiesvlei-gaste) en maak jou reg vir ’n ordentlike uitspansessie.

Hier is nie selfoonontvangs of TV nie, maar wel elektrisiteit en al die huisies is goed toegerus en smaakvol ingerig met antieke meubels. 

Waar bly ek?

Die Stalle (slaapplek vir ses) en Bokwagtershuis (slaapplek vir ses) is altwee in die hartjie van die vallei naby die plaasdam, met 360 grade-uitsigte, en puik braaiplekke en stoepe. Middelplaas (slaapplek vir vier) is 2 km weg op die oewer van die Gamkarivier. 

Wat kan ek doen?

Besoek die klein museum naby Die Bokwagtershuis, wat die storie van die vallei vertel.

Die Calitzdorpstreek lewer van Suid-Afrika se beste port: Gaan proe by Boplaas (044 213 3326) en De Krans (044 213 3314). Of ry die Groenfontein-sirkelpad (53 km) aan die voet van die Swartberg vir uitsigte oor die rooi sandsteenheuwels en ongewone stopplekke soos die Kruisrivier-galery (044 213 3100) en die Groenfontein-speelgoedprojek (072 118 5008).

As jy weer terug is op Calitzdorp, loer in by die NG Kerk, wat een van mees manjifieke orrels in die land het (044 213 3311). 

Hoe kom ek daar?

As jy van Ladismith af kom met die R62, draai links 2 km ná jy oor die Gamkarivier gery het (5,5 km voor Calitzdorp). Van hier af is dit nog 7 km tot by ’n T-aansluiting: Draai regs vir Die Stalle en Die Bokwagtershuis en links vir die ander huisie. 

GPS: S33.443362, E21.630417 (Middelplass). S33.447458, E21.651295 (Bokwagtershuis & Stalle)

Prys: Die Stalle, Bokwagtershuis en Middelplaas: Tussen R410 en R470 per volwassene; Kinders jonger as 12 betaal halfprys. 

Kontak: 066 221 4452, calitzdorpaccommodation.co.za

Die Stalle
Die Stalle
Bokwagtershuis
Bokwagtershuis
Matjiesvlei
Matjiesvlei