Dié plaas is inderwaarheid vyf plase wat oor die jare saamgelas is.Die onderskeie plaas- en skaapwagterhuise het jare lank leeg gestaan totdat hulle vyf hiervan opgeknap het. Rooiheuwel het ook ’n ou skuur wat in ’n slaapsaal vir groter groepe omskep is, sowel as ’n kampterrein.

Hier werk alles met sonkrag en gas, maar jy hoef nie koud te stort nie en al die huise is keurig met ou plaasmeubels ingerig, met volledige kombuise (sommige het nog ’n koolstoof!), kuierstoepe, ’n braaiplek en ’n swemdam vir die somerdae. 

Sylvester, die bekende rondloperleeumannetjie, het vir vier dae op Rooiheuwel kom ronddwaal! ’n Groot deel van die destydse soektog na die Karoo- nasionale park se voortvlugtende het op Rooiheuwel afgespeel. 

Maar leeu of te not, Rooiheuwel sorg steeds vir avontuur – kyk maar net na die stuk of 18 uitgemerkte staproetes op die plaas. ’n Stapper sal nie weet waar om te begin nie! Hier is volledige stapkaarte beskikbaar en jy kan self besluit: van ’n kort oggendwandeling tot ’n sewe dae lange kuitbyter waarvan elke skof jou daagliks ’n ander rigting veld-in lei. En jy kan kies of  jy self jou goedjies wil saamdra, of dit na die volgende oornagplek toe aangery moet word.  

Hier’s ook vyf 4x4-roetes (van 4 km tot 25 km)  waarop jy jou ryding se spiere kan kom bult. En bergfietsryers kan ook op Rooiheuwel kom rondrits – die 7 roetes wissel in afstand van 40 km tot ’n uitdagende 172 km!

Wintertyd is jagters welkom

Waar?  Draai by Leeu-Gamka noord op die R353 na Fraserburg en hou vir 44 km aan. Draai dan regs op die grondpad na Beaufort-Wes en 13 km verderaan links. Rooiheuwel se werf is dan nog net 3,5 km se ry. 

GPS:  S32.374689 E21.887617

Verblyf

Die Grootdroomhuis sit teen ’n rantjie en het slaapplek vir 14 mense. (Prys: R330 p.p.p.n. (R165 vir kinders tussen 7 en 14, gratis vir kinders jonger as 7)

Boplaas het slaapplek vir 12 en Middelplaas vir 10 mense. Verblyf in hierdie plaashuise kos R330 p.p.p.n. (R165 vir kinders tussen 7 en 14, gratis vir kinders jonger as 7).

Verblyf in die Cottage (1 dubbelbed) kos kos R330 p.p.p.n. (R165 vir kinders tussen 7 en 14, gratis vir kinders jonger as 7).

’n Lêplek in die skuur kos R190 p.p.p.n.

Die Skaapwagtershuisie (2 enkelbeddens) met sy sinkbad, buitestort en lanterns kos R280 p.p.p.n. 

Bloubos by Middelpaas is hulle jaghuis met 4 slaapkamers. (R330 p.p.p.n., R165 vir kinders tussen 7 en 14, gratis vir kinders jonger as 7).

Elma’s Place is ’n toegeruste huis met elekstrisiteit, swembad en braai-area. (R330 p.p.p.n. (R165 vir kinders tussen 7 en 14, gratis vir kinders jonger as 7).

Hier is ook kampplekke langs ’n rivier. Bring jou eie drinkwater saam as jy hier onder die doringbome tent gaan opslaan. Slegs 4 persone op 'n staanplek.

Doendinge

Om op die plaas te stap kos R190 p.p.p.d. en 4x4 kos R200 vir die eerste voertuig en roete, daarna R50 vir elke bykomende voertuig en roete. Jy kan die plaas ook met jou bergfiets verken en rondry op verskeie bergfietsroetes.

Kontak: 023 4121 669; 083 3876 699 (Marge); rooiheuwel.com