“Jy moet blomme kyk met bye in jou hare en stuifmeel op jou skoene,” sê Elizna Louw van die Brandkopgasteplaas. “Nie uit ’n kar uit nie – gaan op jou knieë.”

Waar kyk ek blomme? Op die plaas self kan jy uitkyk vir blomme al langs die 6 km-roete na die kothuis in die veld. Ná ’n goeie reënseisoen is al die ou landerye op die plaas teen einde Augustus met plate blomme versier: oranje en wit Namakwa-madeliefies (Dimorphotheca pluvialis en Dimorphotheca sinuata), salmpienk kewergousblomme (Osteospermum pinnatum; hier rond praat die mense ook van jakkalsbos) en geel gansogies (Cotula barbata).

Elizna en haar man, Pieter, stuur gaste graag na ander plekke in die omgewing waar hulle by die locals nóg blomme kan gaan kyk, soos by Matjiesfontein en Papkuilsfontein suid van Nieuwoudtville.

Verblyf

Hier is ’n groot plaashuis met ’n kaggel en binne- én buitebraai.

Dis naby die werf en kyk uit op die Bokveldsrivier. Die huis het vier dubbelkamers (slaapplek vir 8). Dit kan ook twee afsonderlike eenhede wees wat elk 4 gaste huisves.

Die privaatkothuis in die veld het twee dubbelkamers (slaapplek vir 4) en ’n groot leefvertrek met ’n kaggel en braaiplek.

Hier is nog ’n private kothuis wat in 2018 deur die egpaar gerestoureer is. Dit het twee dubbelkamers, kombuis, leefarea en braai.  

Al die huise is volledig toegerus met gas en sonkrag (geen elektrisiteit). En die dons van die snoesige duvets op al die beddens is van ganse op die plaas!

Koste: Verblyf in die plaashuis en die kothuis kos vanaf R350 p.p. Jy kan ook braaipakke koop. (Hierdie wêreld se skaap vreet al die regte bossies!).

Kontak: 027 21 81 254; 083 635 3147; brandkop@hantam.co.za

brandkop.yolasite.com

Aanwysings

Volg die R357 uit Nieuwoudtville in Loeriesfontein se rigting vir 20 km.

GPS: S31.24372 E19.20126


Tussen die grootpad en Brandkop se werf ry jy verby ou murasies van toentertyd se inwoners. Dié geboue was destyds die stel van die TV-reeks Die Manakwalanners!