Dis jou teken om die koffiefles te gryp en te mik vir een van die drie voëlskuilings langs die pan. En jy kan maar rustig deur jou verkyker tuur; die blomme lig in elk geval eers hulle koppe as die son al hoog sit.

Rocherpan is ’n klein reservaat, maar kan jou vir ’n week besig hou.

Bring ál jou speelgoed saam: jou blom- en leesboek, swemklere, stapskoene, fiets...

 Stap die 9 km lange Rocherpanroete (3-4 uur), of volg die Strandroete (7 km) – in die duine kan jy soek vir vygies en die skaars rooibobbejaantjie (Babiana hirsuta).

Vir middagete kan julle braai naby een van die voëlskuilings of piekniek hou hoog bo die sandduine.

Laatmiddag, wanneer die blomme toevou, kan jy van jou stoep af kyk hoe die dag wegsypel. En nes die son gesak het, hou die gekwetter eensklaps op.

Foto: Shelley Christians
Foto: Shelley Christians

 Waar kyk ek blomme? Aan die Weskus hou die blomme nie by reels nie. Jy behoort langs enige pad in die omgewing plate wit of oranje magrietjies (verskeie spesies van die Ursinia-genus) teë te kom.

Ry ’n sirkelroete via Aurora, Redelinghuys en Elandsbaai – dis meestal grondpaaie – en wees op die uitkyk uit vir poprosies (Hermannia scabra) en geel varkslaai (Conicosia pugioniformis).

 Die verblyf? Hier is verskeie opsies om van te kies. Moenie skrik vir die ekotoilet nie – dit “spoel” met grond pleks van water en het g’n klankie nie.

Van die huisies het ook ’n swembad en klimraam vir die kinders.

 Koste:  Bewaringstarief: R50 p.p. (R30 per kind jonger as 12); ekohuisie: tussen R850 en R1 190 (afhangend van die seisoen) vir 2 mense en R170 p.n. vir elke ekstra gas.

 Aanwysings? Volg die Dwarskersbospad noord uit Velddrif en hou vir nog 10 km anderkant Dwarskersbos aan.

 GPS: S32.61595 E18.30247

 Kontak: 079 203 1092 (Rocherpankantoor); 087 087 8250 (besprekings en permitte); capenature.co.za/reserves/rocherpan-nature-reserve 

* Voetnota Die pan is droog tussen Maart en Junie.