Dis ’n raps ná nege die oggend by die Darling-sportklub en die parkeerterrein is vol Toyotas en wit plaasbakkies vuil van stof en modder. Dis bewolk en koud.

Ek is by die vendusie ten bate van die plaaslike NG kerk se koffers. Soos baie ander moet dié gemeente ook maar die sente omdraai. Jy bring jou item, dit word opgeveil, en 10% van die opbrengs gaan na die kerk toe.

KWV Roodeberg, ’n “kerkorrel”, ’n John Deere-baler, Krugerrande en ou parsmandjies is van die items op die veilinglys in my hand.

Wat is dit van ’n vendusie wat mense lok? Is hulle bang hulle loop ’n bargain mis? Bring bie dieselfde opwinding as om jou hele salaristjek op die casino se roulettetafel op rooi te sit?

Nog ’n paar dinge tref my oog: ’n Mossberg-pompaksiehaelgeweer, rooikranshout, ’n Healthwalker (nee, twéé van hulle), ’n 486-rekenaar, rooikranshout en ’n “groen tas”.

Eenkant in die klubsaal verkoop die kerksusters boereworsrolletjies en gemmerbier. En natuurlik kaneelpannekoek – daar is mos altyd pannekoek by ’n kerkbyeenkoms (en dis ’n goeie ding).

Buite by die skaapkamp roep die driejarige De Wet Visser: “Hoe maak julle skapies? Julle maak mê-ê-ê!” Hy druk sy hand deur die tralies om aan hulle te vat, maar tree verskrik terug toe ’n ram nader kom. Sy oupa, Henry van Reenen, tel hom op. “Ek gaan nie bie nie,” sê oom Henry. “Mense raak mos aan veiling verslaaf. En dan bie hulle en dan moet hulle ’n prys betaal wat duurder is as in die winkels.”

Dis juis hieroor dat ek effens bekommerd is. Want sien, dis my eerste vendusie dié. En daai parsmandjies praat met my… By die registrasietoonbank vul ek ’n vorm in en kry ’n bie-nommer (nommer 674). Dankie tog – een van my groot vrese is dat ek met ’n taai bieëry ewe onskuldig aan my oor vat of iets, en dan word ’n bod van derduisende op my toegeslaan. Nou moet die afslaer die nommer kan sien.

Mense staan in ’n halfmaan om die afslaer. Basie Louw, ’n prokureur op die dorp, wys met ’n stokkie na die vendusie-items wat uitgepak staan op die rye lang tafels.

“Is dit vierhonderd?” vra oom Basie terwyl hy wys na ’n stapel horings, meestal koedoe en gemsbok. “Viérhonderrand, ek het vierhonderrand, het ek viervyftig, het ek viervyftig, uhuh, ek het vierhonderd…” Party mense staan en hou hom versigtig dop. Ander weer is ooglopend érnstige bieërs: Gekruiste arms, vasberade kyk in die oë, ’n gevoude of opgerolde veilingslys onder die arm. Hulle is die ou hande, mense wat net elke nou en dan hulle nommer flits of met geoefende selfvertroue die kop knik.

“Viérhonderrand, is julle álmal klaar op vierhonderraaaand? Vierhonderrand! Nommer 673! Baie dankie!” Nommer 673 is Jerome Cupido wat Iets van Als, ’n pandjieswinkel in Atlantis, bedryf.

“Ek koop om te kyk wat ek kan gebruik, en ook om te kyk wat ek kan verkoop,” sê hy, opgerolde veilinglys onder die arm. Die lekkerste veiling vir hom is Malmbesbury se maandelikse baljuveiling. Almal daar ken hom. “Hulle bel my om te kom.” Oom Basie het intussen ’n blaaskans gevat. “Ek het op Vredendal gepraktiseer, en daar moet ’n man maar alles kan doen, ook opveil,” vertel hy. “En as dit begrafnis is, moet jy begrafnis ook kan hou.”

In die agtergrond veil André Kirsten, die instaanafslaer, die “groen tas” op. Dis net wat dit sê, ’n groen tas van nagemaakte leer. Hy haal R50, en vertrek op sy volgende reis.

Oom Basie is ook ’n bedrewe musikant. Soos ons gesels, kom nommer 58 – die “kerkorrel” (eintlik net ’n gewone orrel wat in ’n kerk gebruik is) – aan die beurt. En oom Basie gaan hom toetsbestuur. Hy skuif hom reg op die orrelbankie, rus sy vingers op die orrelsleutels, en val weg met wat hy noem Saterdagmusiek (“want dié orrel ken mos nét Sondagmusiek”). Die mense klap hande en juig terwyl oom Basie se vingers oor die sleutels dans.

“Wie gee vierduisend rand?” vra André. Niemand steek hulle nommer in die lug nie. “Is hier enigeen wat belang stel? Praat dan ná die tyd met die dominee. Ons moet aanstap, mense, hier’s nog baie goed om op te veil.”

“Raait, hier’s ’n lekker diep skaap,” sê André vir ’n span boere en ’n klompie ander mense buite by die skaapkamp.

’n Skaapveiling is vir die oningelyfdes ’n duistere storie. Maar dit lyk of die manne wat hier bie, presies weet wat ’n “diep skaap” is. “Dié ramme is almal reg. Gee hulle net ooie, dan sal hulle die job doen,” begin André. “Die eerste ram is hierdie een, lot 400. Dis ’n dubbel-A-ram met ’n liggaamsmassa van 2,65 en ’n relatiewe waarde van 22,78.”

Ek het geen benul waarvan hy praat nie en hou my nommer styf onder my arm vasgeknyp. Dan begin die bieëry: “Reg, Menere, wie gee vir my vir dié ram tweeduisend? Tweeduisend? Tweeduisend? Duisend-vyfhonderd? Ek het duisend-vyfhonderd hierso. Kom mense, help!”

As gewone vraag en aanbod nie werk nie, word die gewete ingespan: “Dis vir die kerk ook.” Die eerste ram haal R1 500, maar dan verkoop die ramme vir tot R4 800. Ná die skaapveiling verduidelik Hoffie Basson vir my dinge soos relatiewe (teel)waarde. Dit gaan, klink dit vir my, oor hoeveel uitgeslag kan word.

Hoffie, wat hier in die distrik boer, het die skape vir die vendusie geskenk. Dis sy oorskotramme. Vir hoeveel verkoop ’n prima-ram dan? “Hulle het gegaan in Bloemfontein nou die dag vir honderd-en-tweeduisend. Nee, twééhonderd-en-tweeduisend. Maar dis die nasionale veiling.” Dis darem baie geld vir ’n skaap. Ek meen, vir dié soort geld kan jy amper twéé Bantam-bakkies koop.

Namate die dag vorder, koop die Reef-man al hoe meer implemente. Is hy ’n ryk boer van die omgewing? Het hy groot geërf? Of is hy ’n rekenmeester met ’n ongewone belangstelling in plaasimplemente? (Later hoor ek hy is ’n professionele duiker.)

’n Boer het my vroeër vertel jy moet aan die ram se peersak vat om te weet of hy ’n goeie koop is. Dis nie ’n storie nie, sê Hoffie. “Dis ’n móét. Een wat groot knaters het, kan meer saad produseer. Maar dit moet nou nie so lank wees dat dit op die grond sleep nie – anders haak dit aan die bosse.”

Nou gaan die groot goed – plaasimplemente en voertuie en so aan – opgeveil word. ’n Man met ’n swart Reef-baadjie en spieëllensonbril koop ’n Massey Ferguson-ploeg vir R7 000.

Namate die dag vorder, koop die Reef-man al hoe meer implemente. Is hy ’n ryk boer van die omgewing? Het hy groot geërf? Of is hy ’n rekenmeester met ’n ongewone belangstelling in plaasimplemente? (Later hoor ek hy is ’n professionele duiker.)

’n Ford Ranger Supercab, ’n Mazda3 en ’n trekker of twee kry nie baas nie – die resessie byt maar oral. “Onthou, dis vir die kerk,” moedig die dominee ons elke nou en dan aan.

Ek weet nie of dit die dominee se inspirerende woorde is nie, maar Die Kooplus is besig om in my op te wel. Ek bie amper op ’n gegalvaniseerde kalwerhok en ’n John Deere-baler, net omdat ek kan. Hier moet ek wegkom. Maar dis by lot nommer 242 en 249 dat ek baie amper swig: dennehoutbalke en ou vensterrame waarvan die verf afskilfer. Moet ek? Moet ek nie? Wat is ’n goeie prys vir dennehout? Dis ’n fyn lyn, dié bieëry.

Die grens tussen ’n werklike winskoop en net daai éffens te lank bie en te veel betaal, is maar dun. Maar die bod word op die dominee toegeslaan nog voordat ek genoeg moed bymekaar kan skraap om te begin bie.

Die vendusie staan einde se kant toe. Buite begin ’n motreëntjie neerstuif. In die agtergrond hang die Reef-man nog rond, sonbril nou op die kop.

Uiteindelik is dit tyd dat die parsmandjies opgeveil word. Gaaf, dink ek, nóú gaan ek bie. Die mandjies word in vywe verkoop. As ek so na die toestand daarvan kyk, skat ek R100 is ’n goeie bod. Tot my skok word dit vir veel meer as dit verkoop. Trouens, die bieëry begín by R120. Ek hou verby – ek sal maar weer na ’n vendusie toe moet gaan, want dit lyk my nie Die Kooplus gaan wyk nie.

Dis nou amper halfvier en die vendusie is verby. Die boere, die pannekoektannies en Reef-man is almal op pad huis toe. Terwyl hulle na hulle motors stap, kielie Basie weer die orrel. Saterdagmusiek.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #72 (Oktober 2010) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.