Ek en my beste pêl Jacobus was nog altyd lief vir kampeer en het menige skoolvakansie saam met dié of daai se familie aan die Weskus gaan tent opslaan. En toe ons ná skool sélf kon ry waarheen ons wou, het ons nooit veel van ’n verskoning nodig gehad om die grondpad see toe te vat nie. 

Daai jare het ons sommer op ’n Vrydagoggend besluit ons slaap vanaand by die see. Ná werk jaag ons huis toe, gryp wat ook al in die yskas is en steel ’n krat hout en ’n rooster by sy pa. Ons gooi alles in die kar saam met ’n arm vol komberse en ’n geleende tent en daar gáát ons. 

Dit was nog in die maer jare voor ons ordentlike rygoed kon bekostig (eintlik kan ek steeds nie, maar nou ja…). Daardie jare het ’n gesinskar van Jacobus-hulle, ’n 1200cc Uno, ons op vele avonture geneem. En dit was g’n fancy kar nie: Die pasasierskant se ruit kon nie oop nie, daar was geen lugverkoeling nie, en die outjie was lief vir oorverhit. Sy ratte het ook net met ’n sekere triek gewerk. Maar ons was lief vir hom, soos ’n mens maar is vir jou ou wiele, en hy was beter as niks. 

Ons het leer bestuur in ou karre, en die Uno was een van vele. Jacobus se pa het altyd ’n sagte plekkie vir sy rygoed gehad en ek onthou daar het maar altyd ’n ou kar of twee in hulle erf gestaan. Ou staatmakers wat in ’n stadium die gees gegee het, maar wat om sentimentele redes nog nie afgeskryf is nie. Want ééndag sal hulle nog reggemaak word… 

Ons moes op ’n keer vir ’n wetenskaptaak ’n stukkie roes skool toe vat. Ek lag nou nog as ek terugdink hoe Jacobus ’n blikbeker onder die deur van ’n ou Hilux op die werf neergesit, die deur toegeklap en toe selfvoldaan vir my die halfbeker roes gewys het wat onder uitgeval het. 

In elk geval, so vat ons een Vrydagmiddag die pad. Ons gunsteling-kampplek is ’n stukkie ongerepte kuslyn waar daar níks is nie. Die naaste plaashuis is omtrent 6 km weg en daar is ook nie ’n selfoonsein nie. Maar dis wat dit so lekker maak. Agterin die Uno, tussen die stapels voorraad, sit Jacobus se meisie, Emily, ’n Aussie (en deesdae darem al sy vrou), wat, afgesien van die taal, nog ons ander snaakse Afrikaner-gewoontes moes probeer baasraak. Ek kan net wonder wat sy gedink het toe ons in die sinkplaat-grondpad af skud met stof wat by die oop ruite inborrel in ’n kar wat klink of dit enige oomblik uitmekaar kan val. Ja, óóp ruite, want dit was bleddie warm en die lug wat by die arme Uno se luggate uitgekom het, het omtrent jou armhare geskroei. 

Ons het by die huis al gevoel die windjie begin stoot, maar toe ons uiteindelik by die strand aankom, pomp hy behoorlik. Ons is lankal gewoond daaraan; dis nou maar eenmaal hoe dit is in die Weskus in die somertyd, en meestal gaan lê hy darem so ná sononder. 

Dit is egter ’n geneuk toe ons probeer tent opslaan. Dis veels te winderig by ons gereelde kampplek, en ons ry ’n ent verder met die kronkelrige grondpaadjie. 

Ons kom oor ’n bultjie waar die sand effens los is op die afdraande, maar die Uno gly maklik af. Aan die onderkant is ’n groot melkbos en saam met die bultjie is dit die beste beskutting teen die wind wat ons kan kry. Ná ’n lang gesukkel het ons uiteindelik die vierman-koepeltent se penne in die grond en die stutte in plek, maar die wind wil net nie gaan lê nie. 

Die son sit al laag en ons is moeg gestoei met die tent, daarom gaan sit ons binne-in, deels vir beskutting en deels om die tent op sy plek te hou voor die wind hom skep. Maar toe ons later begin kromnek sit soos die wind die tent se dak op ons koppe afdruk, besluit ons om tou op te gooi. 

Ons klim uit. Die tent, wat gewoonlik kophoogte is, is nou kniehoogte soos die wind dit platdruk. Ons slaan maar af en pak op. Al plek waar daar nog nie sand ingewaai het nie, is tussen die stywe fronse op ons voorkop. 

Toe ons die volgende oggend wakker word, lyk ons soos drie basaar-pannekoeke met ’n dik laag kaneelsuiker oor – die mis het in die nag verbygedryf en ons en ons slaapsakke is vol sand.

Die Weskus se vissermanne sal jou vertel ’n bottel Old Brown Sherry is die beste middeltjie teen die koue. Ons het altyd ’n bottel Oubies saamgevat as ons gaan kamp vir ’n warm magie voor ons in die slaapsakke kruip. Nou ja, dit lyk nie of ons vanaand gaan kamp nie, so toe haal ek maar die bottel uit en ons drink ’n skemerkelkie terwyl die son sak. Wel, miskien het ons ’n páár kelkies gehad, want ons kry toe nuwe moed. Ons het mos gekom om te kamp, so kamp gaan ons kamp, tent of nie. Arme Emily gee ons net ’n kyk. 

Daardie aand maak ons ’n vuur wat met horisontale vlamme brand. Ons wors het ’n lekker bros sandlagie oor, maar ons kou maar, want dit proe in elk geval ’n bietjie na Oubies. Dis nie koud nie, daarom klim ons in ons slaapsakke langs die vuur. Ons zip hulle nogtans toe sodat net ons neuse uitsteek. Ten minste waai die wind die wolke weg en ons lê en sterre kyk tot ons aan die slaap raak. 

Toe ons die volgende oggend wakker word, lyk ons soos drie basaar-pannekoeke met ’n dik laag kaneelsuiker oor – die mis het in die nag verbygedryf en ons en ons slaapsakke is vol sand. Maar ten minste is dit ’n pragtige dag en ons slaan ’n lekker ontbyt aanmekaar. Met vol mae het ons ’n high five-oomblik. Ons het die elemente oorwin! Ou Ranulph Fiennes sou trots gewees het. Nou kan ons maar huis toe gaan en die sand in ’n lekker stort gaan afwas. 

Dis toe dat ons sien daai duintjie waarteen ons gistermiddag so maklik afgegly het, lê van hierdie kant af soos Duin 7 voor ons. Jy kan sommer met die oog sien ons gaan dit nóóit maak nie, maar ons probeer nogtans. Twee, drie, vier keer, elke slag sonder enige sukses. 

Daar is ’n ander ompaadjie, maar die sand daar is net so dik. Ons pak klippe, grawe spore, trek dooie melkbosse nader en probeer selfs ’n ou stuk groen vissersnet wat eenkant lê om die Uno vastrapplek te gee, maar dis alles vergeefs. Ons gly maar weer terug soos ’n spinnekop in ’n wasbak. 

Wat nou? 

“Ons kan try op die strand af ry,” stel Jacobus voor en wys na ’n plek sowat ’n halwe kilometer teen die strand af waar die grondpad teen die strand draai. Daar is geen ander voertuie in sig nie en ons kan niemand bel nie. Om te stap gaan bitter lank vat en niemand is daarvoor lus met die Oubies-spook wat nog loop nie. 

Ek is nie baie optimisties oor dié plan nie, want daar is ’n goeie stuk dik sand tussen ons en die harder grond, en sover ek weet is Uno’s nie bekend vir hulle sandryvermoëns nie. Daar is ’n fyn lyn tussen dapper en naïef, maar uiteindelik besluit ons tog om dit te probeer. 

Die strategie was riskant. Die Uno moet teen ’n helling af, deur ’n dip en dan reguit see toe oor die dik sand om by die harde sand naby die water te kom. Met Jacobus agter die stuur neem ek en Emily posisie agter die kar in en begin stoot. 

Die momentum teen die helling af dra die Uno deur die dip. Ons bly stoot. Die Uno se dun wieletjies skop twee strale sand agter uit en aan die voorkant kerm die 1200cc-enjintjie, maar ons beur vorentoe. 

Oor die dik sand is dit soos om ’n gelaaide kruiwa deur modder te stoot en eintlik, as ek kon kies, was ’n Uno die beste voertuig waarvoor ons in hierdie situasie kon hoop. 

Toe die karretjie se voorwiele die eerste harde sand voel, trek hy uiteindelik onder ons hande uit, spoeg vir oulaas nog ’n paar sandkorrels in ons oë en begin hardloop. Sy gat gly-gly sulke S’e in die sand, maar Jacobus hou sy voet op die pedaal en mik reguit vir die grondpad doer onder teen die strand. 

“Jacobuuus, stoooooop!” gil Emily hier langs my. Sy verwag hy moet haar oplaai, maar watwou! Ek juig, deels uit blydskap en deels vir die komieklike karretjie wat soos ’n strandloper langs die water af hol. 

“Ek het net kleintongetjies in die spieëltjies gesien,” lag Jacobus toe ons op harde grond by hom aansluit. Ja, nóú kan ons almal lekker lag, maar ons is stilweg net te bly ons hoef nie vir Jacobus se pa te bel en te verduidelik waarom sy Uno op die strand lê nie.

* Hierdie artikel het oorspronklik in die WegRy  van November 2014 verskyn.