Ek hou daarvan dat elke ding in my huis sy plek het, maar tydens die maande van inperking het dit ietwat van ’n obsessie geword. Neem byvoorbeeld my kruidenierskas. Dit was voorheen altyd half deurmekaar gestapel met geblikte lensies en oop pakkies pasta.

Maar nou is dit ’n ode aan orde – en die magtige Ziploc-sakkie. Selfs die grondboontjiebotter het nou ’n spesifieke staanplek in die kas: Tweede rak van onder, derde bottel van regs. En my kêrel, Chris, weet dit nou óók nadat hy nou die dag die soutpotjie op die grondboontjiebotter se plek neergesit het...

’n Hoogtepunt in ons daaglikse ingehokte roetine is wanneer my buurvrou se kat, Gus, kom kuier.

Gus is ’n nukkerige katjie en laat net Chris toe om aan hom te raak. Dit ontstel die buurvrou hewig, want Gus laat háár glad nie toe om aan hom te vat nie. Dis vir haar só erg dat sy Gus na ’n katsielkundige wil stuur...   Om 7.25 vm. elke oggend skyn ’n streep sonlig by my sitkamervenster in. Dit val oor my lessenaar waarby ek reeds die afgelope uur sit om e-posse te beantwoord. Dis ’n teken dat dit koffietyd is.

‘ ’n Hoogtepunt in ons daaglikse ingehokte roetine is wanneer my buurvrou se kat, Gus, kom kuier.’

Daar is twaalf treë van my lessenaar na die ketel waar ek vir my ’n sterk koppie Nescafé Gold maak, en dan sestien treë van daar agtertuin toe. Op pad soontoe is ek opnuut bewus van die ongewone stilte wat oor die stad hang. Die dag moet nog behoorlik begin. Die televisie is afgeskakel en dis nog vroeg genoeg om WhatsApp-boodskappe te ignoreer sonder om aanstoot te gee. 

Ek gaan sit op die koue baksteentrappies wat na my klein binnehof lei en neem langsaam ’n slukkie koffie.

Ek verkyk my aan my bure se enorme loodglasvensers wat in die oggendson glinster. ’n Mens sien nie sommer loodglas in moderne huise nie, maar ek is mal daaroor. Dit laat my dink aan my hoërskool se kapel, en die vreugde van my ouerhuis daar naby.

My familie se kleinhoewe, Folly Hill, is bo-op ’n heuwel genaamd Mount Michael in die Middelland van KwaZulu-Natal. As kind het ek vas geglo die heuwel is na my pa vernoem – sy naam is Michael.

In die Middelland reën dit amper elke middag in die somer. Tussen November en Maart is die humiditeit intens en die hele omgewing grasgroen. Dit herinner my altyd aan ’n oerwoudtoneel uit Barbara Kingsolver se The Poisonwood Bible.

Ek dink aan die koelteplekke op die plaas waar ons as kinders modderkoekies gebak en forte gebou het. Ná die eerste ryp van die jaar verander die grasvelde van groen na koringgeel – ’n teken dat my pa voorbrande moet begin maak. My ma is oortuig daarvan dat hy ’n piromaan is sedert hy in 2006 amper die hele Mondi-plantasie langsaan afgebrand het.

Ek onthou die blombedding vol boslelies onder die boomhuis waar ouma Ingrid se as gestrooi is, en die kuifkopvisvangers wat hulle nessies in die wal langs die grastennisbaan gemaak het. As kind het ek gedroom om eendag my trou-onthaal op daai einste tennisbaan te hou. Daar is egter intussen ’n skaapskuur gebou. My planne is dus tot niet, tensy ek in die skuur wil trou en als so effe na skaapmis ruik...

Hoewel ek ver weg van my familie in Kaapstad woon, vind ek troos in die wete dat my pa dalk op hierdie einste oomblik saam met die honde af dam toe stap. Hy gooi altyd ’n stok in die water en lag alte lekker wanneer hulle almal tegelyk deur die water plons om daarby uit te kom.

Ek weet ook my ma lê reeds op die sitkamerbank met ’n koppie koffie, besig om ’n boek teen ’n stink spoed te lees. Sy het onlangs ’n voorliefde vir Skandinawiese rillers ontwikkel – veral dié deur Jo Nesbo. Sy sê die moordtonele in “normale” rillers is nie naastenby kreatief genoeg nie.  

Gus klouter oor die muur. Hy lyk soos ’n konsertinatjie daar waar hy deur my onkruidbesaaide blombedding strompel met sy vet lyfie en stomp beentjies wat hy stokstyf trek wanneer hy loop. Ek strek my hand uit om aan Gus te vat (ander mense het al vingers op dié manier verloor) – en tot my verbasing begin hy spin!

Troos lê nie net in herinneringe nie, maar ook in klein, wollerige wesens – selfs dié wat ’n bietjie terapie nodig het.