Lisensie, asseblief

’n Padblokkade is nooit lekker nie, tensy jy deur ses leeus op die Tlou-roete in die Pilanesberg-wildreservaat voorgekeer word! Dié twee jong mannetjies en vier wyfies het reguit op my voertuig afgepyl toe ek die reservaat vroeg in Maart besoek het. Dis nie elke dag dat ’n mens ’n trop leeus só in ’n ry sien loop nie...

KARIN VAN ZYL, Brits

Hoekom so baie satelliete in ’n ry?

Ek en my vrou, Antoinette, het onlangs in een van die Eagle’s Nest-huisies by Klein-Aus Vista in Namibië gebly. Ek het my kamera om 8 nm. begin regstel om foto’s van die Melkweg te neem en toe ek opkyk, sien ek ’n satelliet verbykom.

Ek het my vrou geroep om te kom kyk. “Dis te oulik,” het sy gesê, maar ek het besef dat ek en sy nie na dieselfde satelliet kyk nie – daar was sowaar drie! Ek het die kamera se sluiter 30 sekondes lank oopgelos en dié foto geneem. Ons het daardie aand agt satelliete waargeneem wat almal in dieselfde baan beweeg het – hulle was ook ongeveer almal dieselfde afstand uitmekaar.

Dit lyk my daar sweef baie blik in die ruimte rond...

FREDDIE VAN RENSBURG, Pretoria  

Die sterrekenner WILLIE KOORTS sê:

Freddie-hulle het ’n paar van die honderde Starlink-satelliete gesien wat Elon Musk en sy maatskappy, SpaceX, die ruimte instuur. Daar word 60 van hierdie satelliete op ’n slag gelanseer en hulle beweeg mettertyd verder uitmekaar – aan die begin lyk hulle soos ’n string pêrels in die nagruim.

Die satelliete is aanvanklik baie helder, maar word oor ’n tydperk van ’n paar maande stelselmatig in ’n wentelbaan van 550 km bo die aarde geplaas, waarna hulle nie meer met die blote oog sigbaar is nie.

SpaceX beplan om uiteindelik 1 584 satelliete te lanseer om wêreldwye internetdekking aan sy intekenare te verskaf, maar menige sterrekundige het al sy misnoeë oor dié helder satelliete uitgespreek. Dit bemoeilik wetenskaplike waarnemings en maak dit byna onmoontlik om ’n wyehoekfoto van die sterre te neem sonder dat ’n klomp satellietstrepe dit bederf. Die Starlink-ingenieurs het gelukkig ’n plan beraam om die satelliete te verdof.

Trek af en skep asem

’n Jaar of wat gelede het ek en my vrou, Alma, vier weke lank deur die suide van Namibië getoer. Ek het op die ingewing van die oomblik op die B4-pad tussen Aus en Lüderitz stilgehou om ’n foto te neem – die wye, oop spasies van Namibië sal my altyd teruglok.

BEZ BEZUIDENHOUT, Vanderbijlpark

Kyk waar jy ry!

Ek, my vrou, Janine, en ons seun, Christopher (5), gaan gereeld Krugerwildtuin toe. Ons hou baie van Berg-en-Dal en op ’n besoek in Desember 2018 het ons een van ons beste wildkykoomblikke nóg ervaar. Ons was laatmiddag op die S110 toe dié ietermagog oor die pad draf. Ons was te ver om baie foto’s te neem, maar het darem genoeg om te bewys ons het dié skaars diertjie gesien!

DERIK VISSER, Strand

Soos klokslag in die Kruger

Ek het met groot vreugde die artikel “Die wildtuin waarvoor ons lief is” in die Mei-uitgawe (Weg #187) gelees. Dis interessant om te sien hoekom mense graag in die wildtuin kuier – en hoeveel keer hulle al daar was.

Ek hou ook boek van my en my vrou, Charlotte, se besoeke aan die Kruger: Ons was al 76 keer in die wildtuin, het al 406 nagte daar geslaap, en dit het ons tot op hede R199 432 uit die sak gejaag. (In 1973 het dit net R3 gekos om in ’n hut in Punda Maria te bly!)

Ek het dié luiperd in Maart 2020 by die Gardenia-skuiling op die S119-sirkelpad afgeneem.

NICO LIGTHELM, Faerie Glen 

Kyk dié ou draadsitter!

Ek het hierdie blouaap tydens die nasionale inperking afgeneem. ’n Trop ape kom kuier byna elke dag in ons agtertuin in die Western Deep Levels-gebied. Ons het baie bome wat vrugte dra en die ape is mal daaroor om in ons avokadoboom rond te klouter. As ons ’n deur oop vergeet, sal hulle selfs in ons huis kom om kos te steel.

ASHLEY NIEUWENHUYZEN,  Carletonville

Agter slot en grendel

Ek en my vrou, Di, het in Maart vanjaar op ’n twee maande lange kamptoer na afgeleë dele van Namibië en Botswana vertrek en het selde toegang tot die nuutste inligting oor die Covid-19-pandemie gehad. Ons het by die Mahangu Safari Lodge in die Zambesistreek in Namibië uitgevind ’n staat van inperking het in Suid-Afrika begin.

Ons het die Suid-Afrikaanse hoë kommissaris in Windhoek gekontak en is ingelig dat die grens net vir ’n kort tydjie sou oop wees vir reisigers om terug te keer huis toe.

Ons het byna 1 700 km binne twee dae gery net om by die Noordoewer-grenspos weggewys te word: Ons name was nie op die lys van mense met toestemming om oor die grens te beweeg nie. Ons het in die Amanzi-rivierkamp op die oewer van die Oranjerivier in Namibië gebly totdat ons aansoek goedgekeur is. By Vioolsdrift, die Suid-Afrikaanse kant van die grens, was almal baie behulpsaam. Polisiebeamptes het ons na die Nababeep-hospitaal vergesel vir ’n vinnige ondersoek en vandaar is ons na die Springbok-woonwapark langs die N7 suid van Springbok geneem. Alle reisigers uit Namibië moes hier onder toesig van die polisie en weermag in kwarantyn bly.

Dit was ’n wonderlike plek om 14 dae te verwyl. Ons het ’n groot, oop omgewing gehad vir rondstap en ons het saam met mense gekamp met dieselfde belangstellings as ons. Ons het uiteindelik ’n permit ontvang om huis toe te gaan en ons is drie keer op pad daarheen voorgekeer, maar die polisie- en weermaglede was oral vriendelik. Ons het ons hart verloor op die kampplek in Springbok, en ons sal beslis weer by Amanzi bly.

STEVE BERRY, Kaapstad

Dankie vir die inspirasie

Ek het tydens die nasionale inperking om Covid-19 te bekamp deur my ou tydskrifte geblaai en ’n foto van ’n Herero-vrou in Weg #111 se Portefeulje het my oog gevang – ek is mal oor haar interessante rok. Ek het die fotograaf Heinrich van den Berg gekontak om toestemming te vra om sy foto te verf – dié skildery is vars van die esel af.

ADELE JOUBERT, Pretoria

W is vir Weg...

Die nasionale inperking was tot dusver vir almal ’n aardige ervaring, maar daar is elke dag ’n ligstraaltjie en op 28 April was dit dié foto. Dit was ’n reënerige dag en ’n meenthuis kan klein raak vir peuters wat nie kan stilsit nie. Maison (links) is amper vyf jaar oud en Handré (regs) is drie. Hoewel hulle nie ’n woord kan lees nie, het dit hulle nie gekeer om aandagtig na die prentjies te kyk nie.

ILKE POTGIETER, Johannesburg

Stilte of skoorsoek?

Ek het die Kgalagadi-oorgrenspark in Maart saam met my ma, Rynette, en pa, Braam, besoek. Ons geniet die stilte in die park en vat nooit ’n satellietfoon saam nie. Ons het eendag leeus in die Auobrivier naby die Rooibrakwatergat gesien. Die ander leeukykers deel toe die skokkende nuus: Almal moet oor twee dae by hulle huis wees – die hele land word om middernag op 26 Maart ingeperk! Ons het na Mata Mata gery om die nuus te bevestig en by die kampkantoor is ons ’n kopie van pres.

Cyril Ramaphosa se toespraak in die hand gedruk. Skielik was ons idilliese besoek in onsekerheid gedompel. Wat nou? Ons het ver gery en lank gewag vir ons vakansie en dit was reeds te laat om die park te verlaat voordat die hekke vir die dag sluit. Ons het nog een nag in die Kalahari-tentekamp (foto) gebly en die volgende dag die pad huis toe aangedurf. Die park was ongemaklik stil en leeg.

Dié vakansie het ons geleer om altyd ’n plan B hê – wie weet wanneer die seëning van stilte in skoorsoek verander!     

MARYKE SCHEUN, Pretoria

’n Laaste stappie voor inperking...

Toe gerugte van ’n moontlike nasionale inperking in Suid-Afrika ons op 21 Maart bereik, het ek en my vrou, Althea, ons kinders Nils (7), Finley (5) en Maja (2) geneem om die Elandsrivierroete te gaan stap. Dié roete in die Limietberg-natuurreservaat begin by die Hugenote-tonnel langs die N1 op pad na die dorpie Rawsonville.

Op die foto verken Finley die Du Toitskloofberg. Ek smag nou na dié mooi uitsigte en bergpoele en is dankbaar vir die herinneringe.

SIMON LE ROUX, Kaapstad

Kamp in jou agterplaas

Wie het gesê jy kan nie kamp tydens die nasionale inperking nie? Ek is bevoorreg om ’n tuin te hê waar ek kan kamp. Ek het een van die resepte uit die nuutste Weg Kuierkos, wat saam met die April-uitgawe verkoop is, beproef – die Spaanse hoenderpot op bl. 8 is ’n wenner! Ek bly naby The Farm Inn-wildplaas en ons het selfs die gebrul van ’n leeu en die gelag van ’n hiëna gehoor, wat tot ’n regte kampatmosfeer bygedra het!

PAULO FERNANDES, Pretoria 
SKRYF AAN ONS EN WEN!
Karin wen ’n stel Zartek TX-8-tweerigtingradio’s ter waarde van R1 000. Die TX-8 is Zartek se nuutste model en is liggewig met ’n slim ontwerp. Die klank is hard en duidelik en die reikwydte ’n hele paar kilometer. Die stel het ’n wieglaaier, USB-laaikabel en ’n netjiese huls wat aan jou gordel pas. zartek.co.za
Gesels met ons
Skryf aan redakteur@weg.co.za of Weg, Posbus 740, Kaapstad 8000. Jy ken die storie... verkieslik minder as 300 woorde, en gee asseblief jou voornaam, van én tuisdorp. Weg behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort en op ons webruimte te plaas.