Onlangs stap ek by ’n Wimpy in die Bosveld in – en daar sit ou Skroef by ’n tafeltjie teen die venster, geboë oor ’n hamburger en ’n koppie kof?e.

Eers het ek effens getwyfel of dit wel hy is, want toe ek hom hoeveel jare gelede die laaste keer gesien het, was sy hare donker en het hy so ’n waterpas Beatles-kuif gehad. Die hare van die ou daar by die tafeltjie was grys en aan die yl kant.

Toe sy linkerhand my oog tref, toe weet ek dit móét Skroef wees: Hy het doerie tyd al net drie en ’n halwe vingers aan daardie hand gehad.

Hoe ouer ’n mens word, hoe meer gebeur dit met jou: Jy is iewers op reis of stap in ’n winkelsentrum, dan doem ’n vaagweg bekende iemand voor jou op. Soms weet jy dadelik wie dit is; ander kere sukkel jy met ’n naam vir daai gesig wat nou die tekens van die ouderdom saamdra.

Ek het by ’n tafeltjie skuins agter Skroef gaan sit, en toe ek afkyk na die vloer, het ek glad nie meer getwyfel of dit hy is nie: Aan sy voete was Grasshopper-skoene – ligbruines wat met militêre bruin politoer rooiblink gepoets is. Destyds is sy skoene altyd so blinkgemaak. 

Dis vreemd hoe ’n mens se geheue werk. Opeens was ek lus en skreeu daar voor al die mense in die Wimpy vir Skroef: “Jaag maar aan, ou bul! Neuk op! Oor alles hou die wurm wag!”

Dis wat Skroef eenkeer vir my geskreeu het omdat ek ’n gat skeef geboor het in die boekrakkie wat ons by hom in die klas moes maak.

Opeens was ek lus en skreeu daar voor al die mense in die Wimpy vir Skroef: “Jaag maar aan, ou bul! Neuk op! Oor alles hou die wurm wag!”

’n Ander keer, terwyl hy besig was om iets aan die klas te verduidelik, het ek ingedagte met die bankskroef by my werkplek staan en vroetel.

Skielik het hy stilgebly en gebulder: “Snyman, ek draai jou peester in daai skroef vas en smyt die slinger by die venster uit! Verstaan! Jy! My!”

Daar in die Wimpy was ek sommer van vooraf vies oor die keer toe hy my drie houe geslaan het net omdat ek ’n beitel laat val het. Hy het my wel met die linkerarm geslaan, maar dit was steeds deksels seer.

Ou Skroef mag nie regs geslaan het nie. Kopbeen, die hoof, het hom dit glo verbied nadat Boesman Pretorius se pa gaan kla het omdat hy Boesman se boude stukkend geslaan het toe hy hom eendag gevang rook het.

Party kinders het vertel dat Skroef eens op ’n tyd “vir die polisie geslaat” het. Destyds kon die hof nog jeugmisdadigers vonnis tot byvoorbeeld “ses houe met ’n ligte rottang” oftewel “latjies”, en Skroef, met sy formidabele regterhand, het glo daarmee gehelp.

EEN DING BESEF ek al hoe meer: Die reise deur jou geheue kan net so avontuurlik wees soos enige reis padlangs. Ek het skielik weer allerhande dinge van Skroef onthou, want houtwerkonderwysers was mos effens anders as “gewone” onderwysers.

Nie net was hulle klaskamer eenkant op die skoolterrein nie; hulle was ook so half eenkant van die ander onderwysers. Hulle het nie ’n das soos die res gedra nie, want ’n das kon in ’n saag of iets beland.

En vra maar enige seun wat in daardie jare op skool was: Baie houtwerkonnies het ’n vinger of twee kortgekom – iets wat nogal ’n indruk op jou maak as jy as standerdsessie by die houtwerkklas instap.

Houtwerkonderwysers het ook byna altyd ’n sterk bynaam gehad: Hamer, Ore, Bees, Galtros, Spyker, Krummels, Boel, Snor…

Ou Skroef, onthou ek, het ook nooit juis lank saam met die ander onderwysers in die personeelkamer gekuier nie. Hy het gewoonlik pouses op die speelterrein met oubaas Oosthuizen, die skool se nutsman (oftewel “ons faktotum,” soos die hoof hom altyd genoem het), gestaan en gesels en ’n Texan Plain gerook.

Ek kan ook nie aan een keer dink dat Skroef die oggendgodsdiens in die skool se vierkant waargeneem het nie. Dít terwyl elke ander onderwyser ’n beurt gekry het.

Die meeste houtwerkonderwysers waarmee ek te doen gekry het – Skroef ook – het nie soos ander onderwysers met ’n gewone rottang straf uitgedeel nie. Hulle het meer gevorderde, soms doelgemaakte, toerusting gebruik – ’n plank met ’n naam (Skroef s’n se naam was Doors), ’n bordpasser of een van daai lang liniale.

Hulle rygoed was ook anders; gewoonlik ’n bakkie wat hulle nie by die ander onderwysers se motors geparkeer het nie. Hulle het tot langs hulle klaskamer gery, want ’n houtwerkonnie het gewoonlik ’n projek of twee aan die gang gehad waarmee hy sy salaris aangevul het.

Op ’n dorp soos ons s’n het die houtwerkonderwyser ’n soort ereposisie beklee, want hy kon met ’n draaibank werk en dus stoel- of tafelpote “draai”.

Eenkeer het Skroef ook vir ’n maand elke dag ’n ou LeeEn? eld-.303, ’n geweer wat deur die Engelse soldate gebruik is in die Anglo-Boereoorlog, skool toe gebring.

“Oukei, bulle,” het hy dan gesê wanneer hy in die klas kom. “Gaan aan met julle projek. Ek soek nie moeilikheid nie, oukei?”

Dan het hy by sy bank aan die Lee-En? eld gewerskaf om dit in ’n slanke jaggeweer te omskep, terwyl ons met ons projek, ’n boekrakkie, aangegaan het. Of, liewer, toe het almal behalwe Kosie Pronk aangegaan met ’n boekrak.

Kosie, wat in die weeshuis was en al die tweede jaar in st. 6 gesit het, het besluit om ’n skip te bou, ’n replika van die passasierskip die SA Vaal, rofweg gegrond op ’n foto wat hy uit ’n Patrys geskeur het.

Skroef het nie dadelik van Kosie se boot uitgevind nie, want hy was besonder besig. Dit was daardie jare hoogmode om ’n klein duiwehok op ’n hoë paal in jou voortuin te hê vir jou fantail -duiwe, en Skroef kon nie voorbly om sulke hokke te maak nie.

Tog, tussen alles deur het hy gesag afgedwing en ons die basiese beginsels van houtwerk geleer: Om saam met die hout se grein te skaaf, om weg van jou lyf af te beitel, en, bowenal – blykbaar die sleutel tot ’n blink houtwerktoekoms – om altyd ’n B-potlood te gebruik en nié ’n HB-110 soos in gewone klasse nie.

Een van Skroef se mees gedugte wapens was die onvoorbereide toets. Op ’n goeie dag, dikwels nadat hy ’n duiwehok of twee voltooi het, sou hy ons skielik tref met ’n onvoorbereide toets, met vrae soos: Noem die kenmerke van die penbankhamer. Of: Watter gebruike het balsahout?

En dan, sommer dadelik, het hy die toetse gemerk, besluit almal met minder as 15 uit 20 kry drie houe, vir Doors uit die kas gehaal en ons boude met die linkerarm warm gewiks.

Ek weet nie of Skroef ’n traumatiese ervaring met ’n vallende beitel gehad het nie, want jy kon maar ’n hamer in sy klas laat val, of ’n plank, of jy kon self op die vloer neerslaan – Skroef sou niks sê nie… maar die oomblik dat ’n beitel geval het, het hy onmiddellik geroep: “Daai man wat die beitel laat val het, kom hier!” En dan is Doors maar weer uit die kas gehaal.

En as die een wat die beitel laat val het, nie na vore gekom het nie, het Skroef maklik almal in die klas in ’n ry laat staan en ons almal deurgedraf.

NADAT EK MY KOPPIE Wimpy-kof?e gedrink het, het ek opgestaan en vir Skroef gaan groet. Hy kon my nie onthou nie, maar was nogtans bly iemand het hom herken.

Ons het maar gewone dinge vir mekaar gesê: Hoe die tyd vlieg en, ja, hoe houtwerk deesdae by talle skole nie eens meer as vak aangebied word nie.

Skroef woon nou in ’n aftreeoord in Polokwane.

Op pad terug Pretoria toe kon ek hom net nie uit my gedagtes kry nie. Om so deur jou geheue te reis laat jou met sagter oë na mense uit jou verlede kyk, het ek besef.

Ek het oor en oor gedink aan daardie dag toe Skroef uitgevind het Kosie Pronk is besig om ’n skip pleks van ’n boekrak te maak.

Kosie se skip was al halfpad toe Skroef die dag in daai Grasshoppers van hom by sy werkbank vassteek en uitroep: “En wat de bloemin hel gaan hier aan, Pronk?”

Toe is hy met Kosie aan die oor en Doors in die hand in die pakkamertjie agter in die houtwerkklas in.

As Skroef jou dáár ingevat het, moes jy weet: Hy gaan Kopbeen se verbod oortree: Hy gaan regs slaan.

Nog voor ons die eerste hou op Kosie se boude kon hoor val, het Kosie begin skree: “Ek wou net ’n bootjie bou, Meneer! Ek wou net ’n bootjie bou!”

Toe het die eerste hou geval.

Ons het daar by ons werkbanke gestaan, doodstil, terwyl nog ’n hou val, en Kosie aanhou skree: “Ek wou net ’n bootjie bou, Meneer! Ek wou net ’n bootjie bou!”

Daar het nie nog ’n hou geval nie. ’n Paar oomblikke later het die pakkamertjie se deur oopgeswaai en Skroef en ? huilende Kosie het uitgestap gekom.

“Julle kan maar verdaag as die klok lui,” het Skroef met ’n diep frons gesê. Toe het hy die res van die periode in die son voor die klas gestaan en aan ’n Texan geteug.

Die volgende keer toe ons weer by hom in die houtwerkklas kom, het Kosie Pronk se halwe skip vir hom op sy werkbank gewag, met ’n paar noukeurig gesaagde plankies daarby. Amper soos ’n legkaart wat net voltooi moes word, het dit daar gelê.

Dit was vir ou Skroef ook belangrik dat Kosie sy houtskippie klaar moes bou.