Baie mense is grootmond oor hoe hulle eendag  alles gaan verkoop en die langpad vat.  Die Kapenaars Louis en Kareen Broodryk het die daad by die woord gevoeg. Hulle het reeds deur Botswana, Namibië, Angola, Zambië, Malawi en Tanzanië gereis, en op Zanzibar gesnorkelduik. Die reis het sy uitdagings, veral omdat Louis ’n rolstoelgebruiker is.

Die reisgogga het Louis kleintyd gebyt toe hy saam met sy ouers in hulle Valiant deur Suid-Afrika getoer het. Teen die tyd dat hy in 2003 met Kareen getrou het, was Louis reeds gedeeltelik verlam ná ’n ongeluk waarin hy deur ’n plafon getrap het.

Dié twee avonturiers het sedertdien al saam in Suid-Amerika getoer, en sonsverduisterings in Australië én Japan beleef. Sedert 2013 deel hulle hulle reise op onder meer YouTube en Facebook.

Kareen is die versigtiger een en sê: “As dit kom by reise en roetes kies, glo Louis mos daar’s geen vrees wat te groot is om te oorkom nie!”

In Julie 2018 het albei hulle jare lange poste by twee groot finansiële instellings vaarwel geroep. Sedertdien het Kareen al aan ’n vlieghamburger in Malawi gehap en mopaniewurms geproe. Hulle het die hoogste boom in Zambië gesien, langs die Karibameer gekamp, ’n vlermuismigrasie aanskou en ’n halfuur lank ’n luiperd langs die pad sit en dophou in Savuti, Botswana.

Hoe reis en bly julle meestal?

Louis: Ons slaap meestal saans in ’n daktent bo-op ons Toyota Hilux genaamd Ufudu (dit beteken “skilpad” in Zoeloe). Kamp is goedkoper. Ons gebruik die apps Tracks4Africa en iOverland om inligting oor kampplekke te kry, en die web-blaaie CouchSurfing en Airbnb vir goedkoper oornagplekke op dorpe.

Bestuur Kareen die hele tyd?

Louis: Nee. Ons het ’n handbeheerstelsel laat inbou sodat ek ook kan bestuur. Oral op die bakkie is ekstra handvatsels waaraan ek vashou en op my manier kan staan wanneer ons dinge in- en uitlaai of die daktent opslaan. Wanneer ons ry, word my rolstoel in ’n aluminiumkis gebêre wat buite-op die bakkie aan die bestuurderkant gemonteer is.

Daardie einste aluminiumkis het glo vir konsternasie gesorg?

Kareen: Ons het vier dae lank gesukkel om ’n maklike, veilige roete uit Angola oor die Zambesirivier tot in Zambië te kry. Dié dag het ons drie uur aan 60 km gery deur baie dik sand, en moes onsself twee keer uitgrawe. Toe skuur die bakkie ook nog op ’n smal stuk sandpad teen ’n boom, en die kis ruk los. Die rolstoel het op twee plekke gebreek. Ons was só moedeloos.

Die kis het nie in ons kajuit gepas nie. ’n Taxibestuurder het die kis aan die noodwiel vasgesweis sodat ons die volgende dorp kon haal.

Wat is mense se gesindheid teenoor julle?

Louis: Altyd hulpvaardig! Dikwels het mense gesê ek’s die eerste rolstoelgebruiker wat hulle besoek. Ek’s nooit mal daaroor as mense my wil stoot nie.

In Angola was mense na my sin amper opdringerig en oorgretig, maar my Portugees was te swak om te kon verduidelik dat ek sou regkom. In Tanzanië weer het mense dadelik aanvaar as ek die eerste keer hulle hulp van die hand wys.

Kareen: Dis Louis se keuse om dinge op sy eie te probeer doen. Ander mense verstaan dit nie altyd so nie. Twee keer in Botswana het mense vir my gesê ek’s ’n slegte vrou omdat ek hom nie help nie!

Is Afrika rolstoelvriendelik?

Louis: Buiten Suid-Afrika en enkele plekke in Namibië, beslis nie. Bygesê, ons het meestal by kampopsies of goedkoper verblyf gehou.

Ons het nog net twee rolstoelvriendelike badkamers gekry – in winkelsentrums in Lusaka. Nie eens die toilet in Dar es Salaam se lughawe is rolstoelvriendelik nie, ongeag die bordjie by die ingang.

Dalk is dit my verbeelding, maar rolstoele is nie eens algemeen in ’n land soos Angola met ’n geskiedenis van burgeroorlog en landmyne nie.

Vertel ons van julle liefdadigheidsprojek?

Kareen: Ons wil graag ’n verskil maak in mense se lewe terwyl ons reis. Ons samel geld in vir herbruikbare sanitêre doekies van ’n wasbare, duursame soort materiaal wat ons by skole uitdeel. Ons het al R30 000 se voorraad by drie skole (in Suid-Afrika, Botswana en Namibië) uitgedeel.

Louis: Ons het dit aangekoop danksy vriende en kollegas se borgskappe.

’n Skenking van R250 help een meisie omtrent regdeur haar hoërskoolloopbaan.

Julle het nog nooit voorheen deur Angola gereis nie. Hoe was die ervaring?

Kareen: Ons het nooit onveilig gevoel nie. Ons sou langer in dié mooie land wou bly as daar maar net meer kampplekke was. Die Pedras Negras-gebergte was ’n hoogtepunt, en ook om te sien waar die Kunenerivier by die see inloop. Die pad soontoe was net ’n nagmerrie!

Louis: Angola was moeilik om te deurkruis, maar is my gunsteling-bestemming tot dusver. Daar is min geriewe vir toeriste, en inligting is skraps. In ons maand in Angola het ons net by drie kampplekke oornag.

Al die ander aande het ons maar teen skemer iewers langs die pad afgetrek. Steengroewe was ideaal omdat dit beskut is en ’n mens uit die oog hou.

Kry julle heelwat Suid-Afrikaners langs die pad?

Nee, behalwe dalk in Namibië en Zanzibar. In Malawi was daar opmerklik baie Nederlanders op fietse. En in Stonetown in Zanzibar het ons by ’n Pool oornag wat ná verblyf in Mitchell’s Plain in Kaapstad Engels met ’n duidelike Kaapse aksent praat!

Ry julle elke dag?

Kareen: ’n Mens kan nie – die kajuit raak klein! Soms ry ’n mens heeldag aan net ’n paar kilometer. Jy moet eenvoudig soms stop vir ’n paar dae, wasgoed was en die yskas ontvries.

Wat is deesdae julle definisie van klein luukses?

Louis: Sjokolade. ’n Mens kry dit gewoonlik net in groter dorpe. Ek kon nog net een keer bad – in ’n hotel in Lusaka.

Kareen: As dit koud genoeg is om onder ’n duvet te slaap. My standaarde van ’n lekker stort het ook heeltemal verander! Ek’s net dankbaar as daar minstens warm water is. Goeie waterdruk is ’n bonus!

Wat wag volgende?

Louis: Ons moet teen middel Junie terug in Noord-Zambië wees om ’n lodge-eienaar se diere op te pas. Ek sal raad gee oor die rolstoelvriendelike geriewe wat die eienaar wil byvoeg. Kareen gaan die personeel leer hoe om met naaimasjiene kussingslope en lakens te maak.

Ons wil uiteindelik Ethiopië en selfs Soedan bereik voordat ons teen Desember terugkeer Suid-Afrika toe.

Gunsteling-rolstoelvriendelike kampplekke in Suid-Afrika

Louis reken net Sanparke kry dit besonders goed reg om goeie kampplek en geriewe vir rolstoelgebruikers in Suid-Afrika aan te bied.

Sy gunsteling-kampplekke is daarom in die Augrabies- nasionale park, Twee Rivieren en Mata-Mata in die Kgalagadi-oorgrenspark, en die meeste ruskampe in die Krugerwildtuin.

Reis saam Volg die Broodryks se reis op Facebook, die roete-app Polarstep en YouTube. Soek vir “Fearless on Four Wheels”. Jy kan hulle liefdadigheidsprojek ondersteun via www.backabuddy.co.za/fearless-on-four-wheels of ’n toervideo op www.patreon.com/fearlessonfourwheels borg. – Engela Duvenage

Só kan jy makliker kamp in ’n rolstoel

Kies wys. Soek ’n kampplek wat ’n bietjie gras of ten minste ’n harde kleioppervlak het. Louis reken ’n mens kan nie langer as drie dae uithou as jy deur dik, fyn sand met ’n rolstoel moet sukkel nie. Hy het byvoorbeeld swaargekry in die Sentraal-Kalahari-wildreservaat in Botswana, en wanneer hulle op ’n strand gekamp het.

Beste plan. Die eienaar van die Makuzi Beach Lodge langs die Malawimeer het deurgesnyde geute soos ’n spoorlyn neergelê sodat Louis makliker oor die strand tot by die water kon kom.

Tel. Let op hoeveel trappe daar na ’n kampterrein se geriewe is voordat jy sommer net jou tentpenne inslaan.

Wasdag. Louis ry ’n rubbermatjie saam waarop hy kan sit en was. Rolstoele pas nie sommer deur ablusieblokke se deure nie. Plastiekstoele waarop ’n mens kan sit en stort is ook nie altyd byderhand nie.

Reis saam
Volg die Broodryks se reis op Facebook, die roete-app Polarstep en YouTube. Soek vir “Fearless on Four Wheels”. Jy kan hulle liefdadigheidsprojek ondersteun via www.backabuddy.co.za/fearless-on-four-wheels of ’n toervideo op www.patreon.com/fearlessonfourwheels borg.