Dis nawinter 1993 en ons bevind ons op die oewer van die Zambesirivier. Dis ’n rustige Saterdagmiddag en ons sit en ontspan in die kampterrein van die Hippolodge.

Daar is geen bosoorlog-kleure meer nie; net die vaalbruin kleur van die water wat verby vloei. Ons is ’n geselskap van vier manne met ’n Land Cruiser-plaasbakkie wat Willie de Graaff van Maun goedgunstiglik aan ons verskaf het. Ons het gisteraand in die donker hier aangekom nadat ’n doeanebeampte (nogal aan die Namibiese kant) besluit het ons is te laat. Hy het net geen saak gehad met die Afrikaskedule van die pont nie.

Ná ’n goeie nagrus en met die stof van Moremi, Savuti, Chobe en Sesheke afgewas, beplan ons ons tiervisstrategie met net ’n afgeleefde tweemanbootjie tot ons beskikking.

BEHALWE ONS S’N is net een ander staanplek in die kampplek beset. Op dié staanplek staan ’n wit Cortinabakkie met ’n Vrystaatse nommerplaat en ’n ouerige wit-en-blou Gypsey-woonwa.

Terwyl ons middagkoffie geniet voor ons die tiervis gaan aandurf, kom stel Kerneels hom voor. Ons kom gou agter hierdie man is honger én dors: honger vir geselskap en dors vir die goed in die glas wat hy sommer saamdra.

Dit blyk toe hy het ’n vulstasie iewers in die Suid-Vrystaat en het sowat ’n week of wat gelede besluit hy gaan self kyk hoe lyk dit “doer bo in Afrika”. So het hy en Titos toe die Gypsey gehaak en noord begin ry. Titos is ’n petroljoggie, maar het nou die verantwoordelikheid om Kerneels se kampstoel reg te sit, sy glas vol te hou en die woonwa staan te maak (in dié volgorde, ja.)

Ons wil eintlik net rus en die stilte geniet ná byna ’n dag se ry van die Victoria-waterval af oor Livingsone na Sesheke. Maar Kerneels is lus vir gesels.

Sy bakkie is nie ’n 4x4 nie en sy woonwa nie van die off-roadsoort nie, en hy beduie op ons vrae dat hy maar teerpad langs deur Suidwes en die Caprivi gekom het. Maar hy en Titos gaan nou ’n bietjie van die teerpaaie af. Hulle “wil ook sien hoe lyk die veld en die diere”.

Hy voel seker maar ons stilswye oor sy plan: “Nee manne, ek het nou nie ’n fôbaai-fô nie, maar met hierdie Ford en hierdie Gypsey ry ek enige pad.”

Ons beduie ons moet nou gaan kyk of ons nie die belangstelling van ’n tiervis of wat kan prikkel nie.

ONS MOET BEURTE MAAK met die bootjie, en twee sit eers op die wal. Die bootjie se enjin het net begin proes en stotter, toe kom Kerneels ook daar aan, glas in die hand. En Titos kom getrou agterna met die koelboks en kampstoel.

Ons wil eintlik net rus en die stilte geniet ná byna ’n dag se ry van die Victoria-waterval af oor Livingsone na Sesheke. Maar Kerneels is lus vir gesels.

Weer word ons rustigheid stukkend gepraat oor niks en nog wat. So tussendeur kry ons dit darem reg om van ons reis ook te vertel, en van die slegte ding met die hiënas van Savuti wat ons uit ons tentjies wou haal. Ons noem ook dat ons g’n wapen gehad het om ons te verdedig nie – nie eens ’n kettie nie.

Kerneels laat hoor weer dadelik van hom: Só dom is hy nie; hy het sy .303 Lee-Metford saamgebring...

Ons vra of hy ’n invoerpermit vir die geweer gekry het, veral aangesien hy deur Botswana en nogal oor Savuti wil terugry huis toe. Vol selfvertroue antwoord hy: G’n mens sal weet van dié roer nie. In geen onduidelike taal nie vertel ons hom dat ons groot rooi gevaarligte vir hom sien flikker.

In die eerste plek gaan hy nie die pad oor Savuti met sy bakkie en woonwa maak nie, en tweedens gaan hy in groot moeilikheid wees as ’n geregsdienaar of ander amptenaar op daai geweer afkom. Maar nou ja: As ’n man aanhoudend uit die fontein van wysheid drink, is daar geen salf aan hom te smeer nie. Sy geweer is goed weggesteek onder sy bed, en hy het mos al gesê met sy bakkie en woonwa sien hy kans vir énige pad.

Teen sononder stap ons met twee kleinerige tiervisse terug kampplek toe – dis nou nadat ons vir Kerneels duidelik laat verstaan het ons moet gaan pak. Vroegoggend vertrek ons na die Nakatwa-lodge aan die Kwando.

TOE ONS MET EERSTE lig die Cruiser aan te gang kry, is dit soos verwag doodstil by die wit-en-blou Gypsey.

Ons gesels net ’n enkele keer of wat oor Kerneels en sy planne, en vergeet gou van hom. Ons geniet die olifante wat by die hoek van die houthuis boomwortels grawe, leeus wat só naby brul dat ’n mens dit voel, en seekoeie wat onder in die rivier nurk.

Die tyd vlieg en ons moet teësinnig terugkeer na ons huise en verantwoordelikhede toe. Dis toe ons by die Ngomagrenspos stop dat ons dit sien: die Cortina en die Gypsey...maar hulle lyk anders as toe ons hulle laas gesien het.

Ons vra of hy ’n invoerpermit vir die geweer gekry het, veral aangesien hy deur Botswana en nogal oor Savuti wil terugry huis toe.

Die wit bakkie is vaalbruin, maar die woonwa lyk die ergste: Aan die voorkant het die klippe hom verfaf en vol letsels geslaan, en die vensters het ingeval (of het dit dalk uitgeval?). Nou ja, ons het hom mos gewaarsku.

Ons stryk haastig by die doeanekantoor in, want Savuti lê nog ver. En daar, in daardie einste kantoor sien ons vir Kerneels en hy vir ons. Hy kom vinnig aangestap, die gesig bedremmeld. Sy stem is bewerig toe hy lostrek: “Manne, is ek bly om julle te sien... julle moet my help, asseblief... Hulle het my woonwa deurgesoek en die geweer gekry, en nou wil hulle my toesluit…”

Ons is vir ’n oomblik sprakeloos. Natuurlik sou ons wou help, want ons is immers goed grootgemaak, maar die harde werklikheid van die situasie stuit ons, want die laaste ding wat ons nou nodig het, is om saam met Kerneels gesien en opgehou (of dalk selfs aangehou) te word. Asof uit een mond sê ons hoe haastig ons is, en dat ons in elk geval ongelukkig niks vir hom sal kan doen nie. Ons draai weg, voltooi die papierwerk sonder om rond te kyk, kry ons stempels en maak dat ons by die Cruiser kom.

 Die aand om ons laaste groot vuur – om die hiënas weg te hou – wonder ons wat met Kerneels gebeur het, of nog gaan gebeur.

Vandag, ná al die jare, wonder ek steeds: Wat het van hom en Titos met die Cortina en die die Gypsey geword? En met die die Lee-Metford...


Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy & Sleep #1 (Augustus 2017) verskyn.