Ek is dalk nie die grootste Bob Dylan-aanhanger nie, maar hy wás ’n uitstekende digter. Kunstenaars soos hy word gewoonlik geïnspireer deur moeilike tye en monumentale oomblikke, en lewer dan van hulle beste werk. Ek het sy liedjie “The Times They are a-Changin’ ” onlangs op die radio gehoor terwyl ek by die huis was. Die liedjie was vir my diep ironies omdat dit sóveel met die huidige stand van sake resoneer.

Dit is ’n tyd van vrees en onsekerheid, en vir baie ’n tyd van honger en swaarkry. Ouers moet hulle kinders tuis onderrig – ek is seker daarvan baie paartjies was nog nooit só lank aaneen in mekaar se geselskap nie.

Maar dit is ook ’n tyd vir selfbesinning. Baie van ons het tot die besef gekom dat ons werk en loopbaan nie regtig so hoog op ons lys van lewensvoorkeure hoort soos wat ons gebreinspoel word om te glo nie. Ja, ’n vaste en voldoene inkomste is belangrik, maar ek glo baie mense was verbaas oor hoe vinnig dinge inmekaar kan tuimel weens iets buite ons beheer.

Ek het jare terug al ’n doelbewuste besluit geneem om te “werk om te lewe” eerder as om te “lewe om te werk”.

Die ding wat ek die meeste mis gedurende die inperking, is die vryheid om my Cruiser te laai en bos toe te mik.

Dit beteken jou loopbaan is bloot ’n deel van jou lewensreis en hoegenaamd nie die belangrikte aspek daarvan nie.

Ek weet dit is ’n moeilike beginsel om klein te kry en ek sê nie vir een oomblik jou betrekking is bloot iets om vir jou lewenstyl te sorg nie. Maar dit is vir my belangrik dat ’n mens dít wat jy vir ’n lewe doen, ook geniet. Mense wat hulle werk geniet, is gewoonlik ook diegene wat vir beter resultate sorg.

Daar is egter mense vir wie werk die belangrikste ding in hulle lewe is, en dit is dié mense wat sukkel om die leemte te vul wanneer dit weggeneem word.

Die ding wat ek die meeste mis gedurende die inperking, is die vryheid om my Cruiser te laai en bos toe te mik. Hy staan nou al weke lank in die oprit en is gekoppel aan die batteryherlaaier terwyl hy wag om weer in die pad te val.

Dit lyk amper hartseer. Niemand weet wanneer ons weer gaan uitkom nie, maar die tyd sal wel aanbreek. Wanneer dit gebeur, gaan ek ’n ernstige poging aanwend om die vryheid wat ons voorheen so maklik as vanselfsprekend aanvaar het opnuut te waardeer.

By my is geen twyfel nie dat baie dinge nog vir baie lank anders gaan wees. Maar ons voorliefde vir reis, kampering, verkenning en ontdekking van die buitelewe gaan hierna sterker wees as ooit tevore.

Dit is verblydend hoe die natuur terugbeweeg na omgewings wat oor ’n tydperk deur mense beset is. Hoewel ek versigtig is vir al die fopnuus wat ’n mens op die internet teëkom, is daar al hoe meer nuus van diere wat vrylik rondbeweeg op plekke waar hulle nie voorheen sou nie. En dit gebeur net omdat mense in hulle huis toegesluit is.

Dit is ’n klein aanduiding van hoe wonderlik die natuur werklik is. Vir my is daar geen beter medisyne nie as om in die buitelewe te wees en die kleure en geure van die natuur in te neem. Ons moet regtig begin om beter daarna om te sien.

Ek wens jou voorspoed en vrede toe in hierdie tye, en hoop ek loop jou binnekort weer êrens in die natuur raak.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook