Daar was ’n tyd toe reise na verre plekke moeilik was. Voor die internet was vreemde plekke vir Jan Alleman ontoeganklik. Jy moes staatmaak op die reisboeke van skrywers wat die onbekende namens jou verken het. 

Dié skrywers is soms erg meegevoer deur die reisgees. “We faced adventure with grim reluctance,” skryf D.M. “Danny” Booy in Rock of Exile, waarin hy sy besoek in 1942 aan die afgeleë eiland Tristan da Cunha beskryf. “The spirit of Drake, if it was present at all in our little party, quailed before the chill, dank breath of the South Atlantic.” 

Hy beskryf hoe hy op die kaai staan in Simonstad, wagtend op ’n skip wat hom na Tristan da Cunha sal neem. 

Sowat 70 jaar later is ek ook op pad na Tristan da Cunha. Maar dinge het verander. Ek het die vorige aand eers gepak. Die oggend van my vertrek was ek nog op kantoor, besig om werk klaar te maak en kamerabatterye te laai. 

Daarna het kollegas my inderhaas na die hawe geneem waar die SA Agulhas II lê en wag. Ek was net-net betyds – ’n beampte het vir my gesê as ek 30 sekondes later daar opgedaag het, sou ek die boot verpas het! 

Ek het teen die loopplank opgesukkel met my sakke, toe in die skip gaan soek na die immigrasiebeamptes, al swetend – ’n stresvolle paar minute. Dinge was glad nie so romanties soos in Booy se tyd nie. Boonop was daar buite op die kaai ’n geblêr van onvanpaste musiek (“Gangnam Style”) en later ’n lang, vervelige toespraak van ’n regeringsamptenaar wat moes kom gesig wys by die vertrek van die Agulhas II. 

Kon dit werklik wees dat ek op pad was na die mees afgeleë permanent-bewoonde eiland ter wêreld? ’n Plek van albatrosse, eindelose storms, uitgestorwe vulkane? Dit het gevoel asof die popmusiek en die regeringsretoriek die hele ding kniehalter. 

’n Hand vol vriende het op die kaai gestaan om tot siens te wuif. Al was hulle net 30 m van my af, het ons met mekaar gepraat op ons selfone. Inderdaad nie meer die era van seinvlae nie! 

Die gemak van moderne langafstandsreise maak die eksotiese bestemming waar jy so vinnig aanland, soms abstrak. Dis asof jy eers op ’n doring moet trap om te besef jy’s in die Serengeti. Of jy moet eers ordentlik sonbrand opdoen om dit te laat deurskemer dat jy iewers op ’n tropiese eiland vakansie hou. Jy moet letterlik eers geknyp word! 

Dis moeilik om jou moderne brein te laat rustig word. Ou reisigers soos Booy, en Lawrence Green, het tyd gehad. Daar was geen haas nie, geen spertye wat elke week of maand skree om aandag nie. Vir Green was daar tyd om, voor ’n lang verkenningstog in Kaokoland, eers ’n nag om te kuier in Windhoek met lekker wyn en Duitse kos. “Cold dawn must find me in the Kaiserstrasse with my sleeping-bag and rough desert clothes and five hundred cigarettes,” skryf hy. Dís mos hoe jy moet voorberei vir ’n reis! 

Geen plek waarheen ek reis, is meer onbekend nie. Daar waar ek my tentpen inslaan, pas dit netjies in ’n gaatjie wat deur ’n vorige kampeerder gelaat is. Dié wêreld van ons is ge-GPS, en elke laaste voëltjie naam gegee. 

Daar is lankal nie meer nuwe vastelande wat ontdek moet word nie – selfs die kleinste eilandjie het al mensvoet gevoel. Die romantiek lê dus nie meer in daardie fisieke, geografiese ontdekking nie. Nee, die ontdekkings van vandag is na binne. 

“Veral wou ek alleen gaan,” skryf Elsa Joubert in 1957 se Water en woestyn, “omdat mens soveel meer afhanklik en dus soveel meer ontvanklik is as jy alleen gaan.” 

Dit is hierdie ontvanklikheid waarvoor die moderne reisiger – en reisskrywer – gereed moet sit. Jou kopvensters moet altyd oop lê sodat die reiservarings maklik kan instroom. 

Vervloë dae se reisskrywers het geweet hulle lesers is honger vir nuus van die verste einders. Daarom het hulle nie teleurgestel nie. Hulle het die vervelige goed uitgelos en gefokus op die fantastiese, en sommer hier en daar bygejok. 

Daar is nie meer nuwe vastelande wat ontdek moet word nie... Die romantiek lê nie in geografiese ontdekking nie. Nee, die ontdekkings van vandag is na binne.

Hulle wou hulle lesers meevoer met hulle epiese reise, en die ongelooflike tonele wat hulle langs die pad gesien het. Daar’s ’n goeie rede hoekom outydse wêreldkaarte altyd ’n illustrasie van ’n seemonster iewers in die oseaan gewys het. In werklikheid het daai kansvatter-seevaarders net ’n hengse seekat of walvis gesien, maar wie sou kon stry met die matroos? Dit was mos voor die tyd van fotografie, en dus was dít wat die matroos terug by die huis aan sy gehoor verkondig het – heel moontlik oor ’n bier in die hawekroeg – die waarheid en niks anders nie. 

Moderne reisskrywers let op na die praktiese goed – waar om te bly, hoe om te ry, hoeveel dinge kos. Die rede? Hulle taak (soos ons s’n hier by Weg) is om jou toe te rus om ook op reis te gaan – want dis nou moontlik, anders as toeka. Die leser kan volg, en sien wat die reisskrywer gesien het. 

Die ou geslag het geweet hulle lesers sou nooit in hulle voetspore kán volg nie. Hulle stories was hulle s’n, en die leser sou nooit van beter weet nie. Op hierdie manier het reise ’n mitiese omvang gekry, maar mites waarby die skrywer sou swéér. 

Vir my is die beste reisstories dié wat my met ’n frons tussen die oë laat. Ek wil die boek toemaak of die artikel klaarlees en vir myself vra: Wat vir ’n plek is dié? En onmiddellik moet dié vraag my laat besluit: Ek wil sélf gaan kyk. 

Geen reisstorie kan jou ’n volledige indruk van ’n plek gee nie. Elke waarneming is subjektief en persoonlik – die beste wat ’n skrywer kan doen, is om vooroordele tuis te los, en ’n nuwe plek sonder ’n filter binne te vaar. Die nuutheid van ’n plek moet deur jou oë, lens, brein, tong, hart, ore en neus stroom. Jy moet daardeur asemhaal. 

Ek noem spesifiek ook “hart”, omdat dit vir my belangrik is om ’n plek te vóél. Sonder ’n emosionele band met ’n plek voel my skrywe daaroor vaal. 

Vuurpak is een ding; vuur aansteek iets heeltemal anders. Die een is voorbereiding; die ander lewe. Ek wil die verbeeldingsvuur laat opvlam sodat vonke die swart nag inskiet – nie net die houtjies dood op mekaar pak en daarna staar nie. 

Wanneer die reisskrywer terugkeer van ’n vreemde plek, is dit as boodskapper. Jy dra met jou – iewers tussen jou kamera se geheuekaart en jou versnelde hartklop wanneer jy daai reksprong oor die Zambesi onthou – die antwoord op een vraag: Hoe was dit daar? 

Jou antwoord hierop is nooit absoluut nie, maar moet die nuuskierigheid van die lesers kan aanvuur met genoegsame woema sodat hulle ook eendag soontoe wil reis. Moderne reisskrywes is gestroop van die romantiese styl van desjare. Dis dalk omdat ons nou bang is om te oorromantiseer (met ander woorde, spekskiet!). 

Jy wil terugkeer van jou reis nie net met ’n publiseerbare artikel en foto’s nie, maar ook met nog iets wat anders is: Jy. Jý wil anders wees wanneer jy terugkom. Indien ’n reis jóú nie op ’n persoonlike vlak geraak of verander het nie, hoe kan dit hoegenaamd die leser raak? 

Reis is ’n voorreg, en indien jy – soos ek – gereeld die kans kry om te reis is jy ’n baie gelukkige mens. Jy wil verlief kan raak op die plekke wat jy besoek. Die vreemde ís jou romanse. En net soos liefde soms moeilik is om te verwoord, moet jy in ’n reisskrywe ook worstel met dié vlietende skadu- en ligkolle van beskrywing en betekenis. 

Dis juis wanneer jy probeer om die onbeskryflike te beskryf dat jy die vaste aarde van die verbeelding betree. 

En dis tog waar jy wil wees: daar by die flikkerende vuurtjie van verstaan.