FOTO’S JON MINSTER 

Dis die middel van die skoolvakansie in die middel van die Tuinroete en hier is nie ’n siel in sig nie! 

Ja, goed, dis winter, maar op Knysna lyk dit soos die dag voor Kersfees! Ek was dorp toe vir inkopies, en óral was mense. Die jaarlikse Oesterfees is aan die gang en Woolies is ’n miernes. Ek moes telkemale koes vir iemand in veldloop-tights wat die rakke plunder.

Die Knysna Mall het nie eens meer vuurmaakhout nie; dus is ek Buffelsbaai toe, wat gewoonlik ’n stil dorpie is. Selfs hier het dit gewemel van vakansiegangers. En dit blyk elke huishouding stook ’n kaggel. Einde ten laaste het ek een sakkie by ’n winkeltjie opgespoor, waarskynlik net omdat die sakkie geskeur en van die stompe al uitgeval het.

Met ’n vuurtjie wat knetter, kyk ek nou deur die groot vensters van die Otters Rest-selfsorghuis en sien geen siel nie. Die enigste lewende wese is ’n swartkopreier wat ’n rietbedding vernuftig systap.

Die Goukamma-natuurreservaat bewaar 16,5 km van die kuslyn tussen die vakansiedorpe Sedgefield en Knysna. Op sekere plekke strek die reservaat tot by die N2, maar, nog belangriker, dit strek een seemyl (sowat 2 km) see-in. Dié mariene beskermde gebied huisves bedreigde waterskilpaaie soos die karetskilpad en groenseeskilpad; en die aflandige riwwe is belangrike broeiplekke vir stokvis en rooi steenbras, én dan beweeg hier talle walvisse, dolfyne, robbe en haaie deur die gebied. Daarby broei die swarttobie veilig op die stil strande.

Dan is daar die Groenvleimeer. Dié varswatermeer is enig in sy soort in die Wes-Kaap: Dit word nie soos die Swartvlei deur ’n rivier gevoed nie, en mond ook nie in die see uit nie. Die meer is die tuiste van hoofsaaklik twee visspesies wat net hier voorkom: die rivierrondeharing en Kaapse spierinkie.

“As hier nie ’n reservaat was nie, sou hier huise gewees het,” meen Thulani Ndlovu, die reservaatbestuurder. “Dis eersteklas eiendom dié.” Ons sit in sy kantoor terwyl die reën buite neersous. Die bome bewe asof ’n onsigbare hand dit liggies skud. Thulani vertel van een aand toe hy laat gewerk en ’n ratel nonchalant verby sy venster gesuiker het.

“Die Goukamma is ’n kompakte reservaat,” sê hy. “Daar is so baie in ’n klein ruimte: die duine, die strandmeer, die strand, die meer… En ons is gelukkig om gawe bure te hê.

“Die mense van Sedgefield en Buffelsbaai gee om vir die natuur en wil ons help om dit te bewaar. Baie afgetrede mense bly juis hier oor die natuur.”

Groot dele van die Goukamma is in 2017 deur ’n brand verwoes – dieselfde een wat baie huise op Knysna beskadig het. Ná twee jaar is ’n paar swartgebrande boomgeraamtes die enigste getuienis van die brand. Óral is nuwe lewe: blommetjies in die dou, aalwyne wat rooi pronk en duinegras in die wind.

Thulani is tevrede met die park se ontwikkeling, maar hy noem Kaapse Natuurbewaring se grootste uitdaging is tans om die indringer-portjacksons onder beheer te kry.

“Ons het gelukkig ’n goeie verhouding met die munisipaliteit en Sanparke, wat die Tuinroete- nasionale park bestuur,” sê hy. “Vir die uitwissing van uitheemse plantegroei en strand skoonmaak werk ons mooi saam. Ons help hulle en hulle help ons.”

Dis maklik om te sien hoekom die inwoners en die owerhede saamspan om Thulani en sy span te help. Goukamma is hoe die Tuinroete waarskynlik gelyk het voordat ossewaspore hulle groewe hier uitgetrap het. Die reservaat het twee ingange – een net buite Sedgefield wat na die Groenvleimeer en die lang strand toe loop, en die ander een voor Buffelsbaai. Hierdie is die amptelike een, met ’n valhek en permitkantoor. Aan die Buffelsbaai-kant kan jy jou in ’n bootjie oor die Goukammarivier trek tot waar die staproetes begin, en dan stap jy stoksielalleen in die duineveld, hoog op ’n paadjie. Van hier af kan jy sien hoe die rivier uitsprei en die branders veraf breek.

Of mik na Platbank aan die Sedgefield-kant en stap ooswaarts langs die kus tot enige gedagtes aan winkelsentrums en snelweë verdwyn. Hier is ook ’n staproete aan die oewer van Groenvlei waar die woud met jou praat.

Tony Cook woon op Knysna en bied reeds meer as twee dekades stap- en kajaktoere hier aan. Hy meen dis juis Goukamma se stilte wat mense hierheen lok. “Vir die grootste deel van die jaar sal jy waarskynlik die enigste mens op die roetes wees,” sê hy. “Die voëllewe is uitsonderlik (knysnaloerie, lepelaar, mikstert-byvanger, Afrikaanse vleivalk…) En wees op die uitkyk vir slange in die somer, veral pof- en bergadders. In die winter sien jy walvisse op ’n streep in die see as jy bo in die duine staan.”

En as jy nie wil stap of roei nie, kom span op ’n sonnige dag uit op die oewer van die rivier.

Hier is ’n ruim grasperk met braaiplekke waar jy van Plet se ontwerpersonbrilbrigade kan ontsnap.

Ek is hier saam met my vrou, Jess, en ons seuns, Elliot (6) en Francis (4). Ons het die rivier met die bootjie oorgesteek, met die tweespoorpad en oor die duine na die strand gestap. Die strand by Goukamma is lank en breed en jy voel so alleen soos Robinson Crusoe op ’n Sondagaand.

Die seuns hardloop op en af teen die waterrand terwyl ek en Jess die stilte indrink. Ek lê agteroor en verbeel my ek is ’n seevoël wat hoog bo die kuslyn sweef en sien hoe die mens die aarde verbou het. Goukamma lê soos ’n groot groen hart tussenin. Ongeskonde.

En so moet dit bly.

Kaapse glasogie
Kaapse glasogie
Die strand naby die Skimmelkrans-piekniekplek
Die strand naby die Skimmelkrans-piekniekplek

DOENDINGE IN GOUKAMMA

Pak ’n roete

Hier is ses staproetes. Drie roetes begin aan die Buffelsbaai-kant van die reservaat. Die Galjoen-roete (12 km) loop strandlangs van Buffelsbaai af tot by Platbank naby Sedgefield. Kyk vooraf na die getytabel, want springgety kan ’n probleem wees. Parkeer jou motor by Platbank (tensy jy van plan is om terug te stap).

Die Porcupine-roete (13,5 km) begin by die kantoor en mik eers na die binneland deur ’n melkhoutwoud en dan oor ’n duineveld na die oewer van Groenvlei. Die korter Bushpig-sirkelroete (6,5 km) volg die eerste deel van die Porcupine-roete die duine in tot by die Skimmelkrans-piekniekkol en keer dan weer terug na die kantoor.

Die Buffelsbaai-sirkelroete (4,2 km) is ’n mooi roete agter om die vakansiedorp, deur ’n inheemse woud en strandlangs; jy het deurentyd ’n lieflike see-uitsig. Daar is twee roetes wat begin aan die Sedgefield-kant.

Die Cape Clawless Otter-roete (6,5 km) is ’n lekker roete langs die woudoewer van die Groenvleimeer. Dis ’n heen-en-weer-roete op dieselfde paadjie. Of jy kan die Blombos-roete volg. Dit het twee sirkelroetes: ’n korter een van 6 km en ’n langer een van sowat 15 km. Albei begin by Groenvlei: Die korter sirkel loop deur die woud en terug op ’n grondpad en die langer roete neem jou af na die strand en terug met dieselfde grondpad. Dra genoeg water en kos saam, want daar is geen waterpunte op enige van die staproetes nie. Skaduwee is beperk tot woudgebiede; neem dus sonroom en ’n hoed saam. Selfoonontvangs is wispelturig, maar jy sal darem plek-plek kan bel.

Koste: Bewaringstarief R50 p.p.; R30 per kind; gratis met ’n Wild Card.

Platbank naby Sedgefield
Platbank naby Sedgefield

Roei op die rivier

As jy ’n ywerige roeier is, kan jy maklik 11 km op die Goukammarivier aflê – tot by die N2-brug en ’n bietjie verder. Jy kan ook net met die kinders op die water baljaar voor die braaiplek. Huur kano’s en roeibote by die kantoor. Dis ook die beste swemkol in die reservaat (die see is onstuimig – mik vir Buffelsbaai as julle wil body surf).

Koste: Bewaringstarief R50 p.p.; R30 per kind; gratis met ’n Wild Card. Dis R100 ekstra vir ’n enkelkano en R150 vir ’n dubbelkano. Die koste sluit ’n reddingsbaadjie in.

Trap jou fiets

Hier is geen amptelike bergfietsroetes in die reservaat nie en fietse word nie op die staproetes toegelaat nie, maar julle kan saam met die kinders fietstrap op die paaie in die reservaat.

Aan die Buffelsbaai-kant loop grond- en twee-spoorpaaie tussen die huise en lodges. En aan die Groenvlei-kant is ’n mooi 3,5 km-grondpad van die N2 af na die strand by Platbank, wat ’n lekker gesinsuitstappie is (dus 7 km in totaal). Eet agterna ’n koeldrank by die Lake Pleasant Garden Bistro (079 885 9072).

Koste: Buffelsbaai-kant: Bewaringstarief R50 p.p.; R30 per kind; gratis met ’n Wild Card. Dis gratis om tot by Platbank en terug te ry – die grondpad loop langs die reservaatgrens.

Vang jou aandete

Hengel word in die mariene beskermde gebied toegelaat, maar jy mag nie aas versamel nie. Bring dus jou eie aas en gooi lyn in vir onder meer stompneus en kabeljou.

Die hengelreëls is opgeplak in die parkeerterreine by Buffelsbaai en Platbank. Jy kan ook grootbekbaars uittrek by Groenvlei. Baars is jare gelede hier hervestig vir hengel, maar deesdae is die bevolking selfonderhoudend.

Koste: ’n Hengellisensie is R45 p.p. en beskikbaar by jou naaste poskantoor. Jy moet ook die daaglikse bewaringstarief betaal.

Goukammarivier
Om op die staproetes aan die Buffelsbaai-kant van die reservaat te kom moet stappers hulle in dié bootjie oor die Goukammarivier trek.
Sandpaaie rondom Groenvlei
Sandpaaie rondom Groenvlei

WAAR OM TE BLY

Goukamma is naby winkels op Sedgefield en Knysna. Die Mvubu Bush Camp is die enigste blyplek aan die Groenvlei-kant. Die res van die blyplekke is aan die Buffelsbaai-kant. Alles is selfsorg.

Chalets

Hier is vyf opsies. Die eerste drie – Blacktail, Stumpnose en Kabeljou – is by die ingang aan die Buffelsbaai-kant. Jy kyk uit oor die Goukammastrandmeer. Elkeen het plek vir vier, met ’n volledig toegeruste kombuis en braaiplek.

Otters Rest en Fish Eagle is in dieselfde huis, en ’n entjie stroomop van die ingang af. Otters Rest is die grondverdieping van die huis. Dit het slaapplek vir vier met ’n gawe sitkamer en kombuis, asook ’n uitkykdek met ’n braaiplek. Fish Eagle is bokant Otters Rest. Dit het ’n aparte ingang, sy eie braaidek en slaapplek vir twee mense. Jy kan ook die twee dele van die huis saam bespreek vir ’n groep van ses.

Koste: Blacktail, Stumpnose en Kabeljou vanaf R1 045 p.n. vir 4 mense; Otters Rest vanaf R1 180 p.n. vir 4 mense, en Fish Eagle vanaf R990 p.n. vir 2 mense.

Lodges

Hier is lodges (eintlik net houthuise) in die afgeleë dele van die reservaat. Die meeste het nie elektrisiteit nie en gebruik sonkrag en gas. Die drie Buffalo Valley Lodges is ook aan die Buffelsbaai-kant. Die River Lodge is op die oewer van die Goukammarivier.

Dis ’n houthut met plek vir ses mense, met ’n toegeruste kombuis, dek en braaiplek.

Die Forest Lodge is die beste van die drie: Dis weggesteek tussen melkhoutbome en jy loop met ’n plankiespad tot daar.

Hier is slaapplek vir vier en die verhewe dek is ín die boomtoppe. Sit hier en kyk of jy die verskeie voëlroepe kan uitken.

Met ons besoek het die Vlei Lodge ’n nuwe verflaag gekry.

Dis weg van die rivier af, en kyk uit oor ’n moerasagtige strandmeer vol voëls. Hier is plek vir vyf, maar een van die beddens is net vir ’n kind.

Die Mvubu Bush Camp is die enigste blyplek aan die Groenvlei-kant.

Dit het slaapplek vir vier mense in twee en suite-slaapkamers.

Koste: Mvubu Bush Camp vanaf R1 080 p.n.; River Lodge en Forest Lodge vanaf R1 170 p.n.; Vlei Lodge is tans gesluit vir opknapwerk.

VLEI LODGE
Vlei Lodge
OTTERS REST
Otters Rest
KABELJOU
Kabeljou
Die Otters Rest-chalet was eens die hoofkantoor –
Die Otters Rest-chalet was eens die hoofkantoor – dit het die beste uitsig in die reservaat.
WEET VOOR JY WAAI

Waar is dit? Die Goukamma-natuurreservaat lê tussen Sedgefield en Buffelsbaai. Die kantoor en die meeste van die blyplek is aan die Buffelsbaai-kant. Neem die afdraai na Buffelsbaai van die N2 af. Die ingang is 6 km verder af in die pad.

Watter tyd is die beste om te kom? In die winter is die reservaat byna verlate én dan bied Kaapse Natuurbewaring afslag van 40% op die meeste van hulle verblyfplekke (van Mei tot einde Augustus). Dis koud en dit kan reën, maar die helder dae is fantasties.

In die somer is die reservaat steeds een van die stilste plekke in die Tuinroete – buiten spitsseisoentye soos Kersfees, wanneer die piekniekkol op die oewer van die Goukammarivier soos die Knysna Mall op ’n Saterdagoggend kan lyk.

Kontak: 087 087 8250; capenature.co.za

Kry ietsie te ete

Hoewel al die blyplekke selfsorg is, is hier goeie restaurante in die omgewing. Jy kan uitwyk na Knysna en Sedgefield, maar as jy nie lus het vir ver ry nie, sit aan by dié plekke naby die hoofingang.

  • Flippen’ Knys. Dis naby die kruising met die N2. Hier is spesialiteitspannekoeke, gourmetburgers en geroosterde toebies. Bou jou eie brekfispannekoek saam met ’n cappuccino. 076 866 0886
  • The River Deck. Dié plek is oorkant die pad van Flippen’ Knys, op die oewer van die Goukammarivier en lekker vir buite in die son sit. Hier kry jy Suid-Afrikaanse gunstelinge soos bobotie, braaivleis met pap-en-wors en houtoondpizzas. 078 134 5873; riverdeckrestaurant.co.za
  • Buffelsbaai Waterfront. Sit agteroor op die dek en kyk uit oor die strand by Buffels. Bestel ’n bottel witwyn en ’n seekosbord. 044 383 0038