Ek geniet die tyd waarin ons leef. Ek geniet veral die vreeslike klomp tegnologie wat elke dag opdaag om ons lewe makliker te maak. Alles raak vinniger, kleiner en slimmer.

In die kampwêreld is tegnologiese vooruitgang ook oral te bespeur. Ons weet almal ons kan ons kampplek baie geriefliker inrig as wat buitestanders ooit sou dink. Die wanopvatting dat ’n kampvakansie net een trappie beter is as ’n oorlewingskursus is só oudmodies ’n mens wil amper die mense jammer kry. Nie net kan ons vir weke aaneen in luuksheid slaap, bad, eet en kuier nie, maar met die tegnologie kan jy boonop alles doen terwyl jy langs jou swembad lê en beplan aan jou volgende kampvakansie.

Met ’n slimfoon kan jy alles uitvind oor die plek waar jy gaan kamp, die roete soontoe kry, jou besprekings maak en allerhande notas en dinge maak. ’n Gawe “biep” en “boink” herinner jou nou en dan aan wat nog gedoen moet word.

Met ’n pragtige satellietfoto kan ’n mens sommer ook sien hoe die plek uit die lug lyk, én jy kan op pad soontoe vir Ouma en Oupa laat sien hoe jy vorder. Of nee, wag, jy kan vir Boet Dawie-hulle laat sien en húlle sal vir Oupa-hulle sê, want by Huis Skadubome praat die mense nog met mekaar, en selfone is iets wat hulle teësinnig gebruik omdat die kinders daarop aandring. (Dis altyd kosbaar om ’n SMS van Ouma af te kry, want alles is altyd net in hoofletters en sonder leestekens. In die vroeë dae, toe sy net vertroud begin raak het met die selfoon, het ek ’n SMS gekry wat só ekonomies saamgestel was, ek moes bel om uit te vind of daar onmin ter sprake is. Dit raak toe duidelik Ouma se enigste verwysingsraamwerk is die outydse telegram, waar jy per woord betaal: “Bly oor veilig aankoms LekkerKamp”.)

Ja, ons het aanbeweeg, maar daar is nog één groot gapende lugleegte in die navorsing: die tentopslaan-vraagstuk. ’n Mens sou hoop in hierdie tye van superligte, supersterk materiaal; geniale ontwerp; en elektroniese verligtheid sou die pyn van tentopslaan ook al iets van die verlede wees, maar nee! Op pad terug huis toe kan jy skaars jou slimfoon of GPS gebruik, want jou vingers is vol pleisters.

Geruime tyd al kan ’n mens jou woonwa vanself op die staanplek laat rondskuif soos R2D2, daai vriendelike stofsuiertjie in Star Wars, met net ’n afstandbeheergedoentetjie in jou hand. Die koppelings wat jy op jou staanplek moet maak vir krag en gas is só seepglad, jy sou sweer Apple en die Amerikaanse ruimteagentskap (Nasa) het hand bygesit met die ontwerp.

In ’n japtrap is daar koue bier, die mikrogolf zoem, jy’t ’n warm stort agter die rug, en die Springbokke se wedstryd op Cardiff speel hier onder jou stoeptent in hoë definisie af. En terwyl jy wag dat die kole rustig raak, kan jy gou jou vakansiefoto’s op Facebook laai.

Maar voor dit alles kan gebeur, moet jy eers tent opslaan. Nou vra ek jou, hoekom is dit nog so ’n Middeleeuse affêre? Wanneer dit kom by die woonwa se tent, is ons weer terug in die dae van die Voortrekkers – dis handearbeid-en-sweetsake. ’n Tentpaal is nog altyd ’n tentpaal. Die goed is ontwerp met een hoofdoel: om jou te knyp. Die feit dat dit ’n tentseil kan regop hou, is ’n toevallige en nuttige uitvloeisel. In sy diepste wese is ’n tentpaal ’n honger karnivoor wat oorleef op ’n dieet van hoofsaaklik vingervelle.

In sy diepste wese is ’n tentpaal ’n honger karnivoor wat oorleef op ’n dieet van hoofsaaklik vingervelle.

Vir ’n bietjie afwisseling sal hy nou en dan ’n proeseltjie groottoon of skeenbeen geniet. Die deeltjie van die paal wat in die ander een inkom, is óf net te klein, wat veroorsaak dat die ding die heeltyd uitval op jou voete, óf hy is net ’n paar mikrometers te groot om glad en sekuur in die ander een te skuif. Dit beteken jy moet harder druk, en daardie druk moet dan ook perfek lynreg wees, anders slaan alles vas.

Maar daardie soort akkuraatheid is haas onmoontlik met jou bewerige arms omhoog. Jy kan net sowel probeer om met toe oë garing deur ’n naald te ryg. ’n Mens verbeel jou omtrent jy hóór hoe lag die paal vir jou, want hy weet jy gaan dit nooit met die eerste probeerslag regkry nie – nie sonder die hulp van ’n robot uit die BMW-fabriek in Rosslyn nie. Nee wat, daarsonder is dit voertyd vir paal se kind.

 Hierdie is egter nie net ’n vraagstuk vir die wêreld se ingenieurswese-departemente nie; die sosiale wetenskappe moet ook begin bykom. Wanneer dit by tentopslaan kom, is daar skielik ook ’n merkbare ineenstorting van die verhoudinge tussen mense wat netnou nog vriendelik en lief was vir mekaar. Tentopslaan is mos eintlik maar ’n spansport, maar skielik kyk niemand mekaar in die oë nie en almal kry iets anders om te doen, en baie van hulle verdwyn. Die arme drommels wat die ding moet opkry, lyk nou meer soos iemand wat slegte nuus by sy dokter gekry het as mense wat in ’n vakansieluim behoort te wees. Dis nie vakansie nie, dis Survivor Hartenbos.

Sonder ’n span handlangers is die noodsaaklike vermoë om dinge in lyn te kry onmoontlik. Tente, stoeptente en tentuitbouings het ’n onvermybare geneigdheid om skeef te trek, en dit verg minstens twee landmeters (met toebehore!) om die pale en toue en seile só saam te slaan dat daar nie plooie en skreiende skeefheid ontstaan nie.

Daar is al ’n hele paar jaar sulke ruimteskip-agtige tentjies op die mark wat hulleself opslaan – so woeps! – die oomblik wat jy hom uit sy sak haal (hoewel dit nogal ’n gespook afgee om hom weer terug in daai sak te kry).

Is ’n opblaas-woonwatent te veel gevra? Kan ’n tent nie op ooghoogte opslaan nie? Nee, ons moet strek en balanseer met hande omhoog soos ’n klomp Egiptiese slawe as die songod kom inspeksie hou oor die piramides se vordering. Gevolglik sit jy daar langs jou vuurtjie, en as jy ’n slukkie bier wil vat en jou hand bereik skouerhoogte, raak jy só aan die bewe dat jy hom maar weer neersit en slurp aan die blikkie soos ’n koei wat uit ’n leërige dam probeer drink.

Dís hoekom mense nie soveel kamp as wat hulle moet nie. Jy kyk na jou wa, en net die herinneringe aan tentopslaan maak dat jy eerder die naweek by jou skoonma in Carletonville gaan kuier. Ek het al vir Nasa ’n e-pos gestuur, maar hulle het vasgehaak by woord vier in die brief, “braaivleis”, en het ’n klomp vorms gestuur sodat ek meer breedvoerig kan verduidelik wat dit is. Die WNNR kan gelukkig Afrikaans verstaan, maar hulle is baie stadig met die terugvoer.

Nou wonder ek... Is dit nie tyd dat ons ons kollektiewe wysheid gebruik om ’n beter patent te bedink nie? As ’n mens rondkyk op die kampterrein en die swetsery, huweliksonmin en fisieke beserings aanskou wat saam met tentopslaan kom, dan besef jy: Dis ’n tydbom, mense. Daar’s werk.


*Hierdie rubriek het oorspronklik in WegSleep (April 2013) verskyn.