Ons besluit om Botswana en Namibië te besoek en val in Junie saam met my broer-hulle, Frans en Ansie du Preez, en my seun Francois de Klerk en sy vrou, Nicolene, in die pad.

Die Puros-kampplek digby die Skedelkus is onder meer in ons visier. Die laaste 80 km soontoe is ’n 4x4-roete wat op en langs die Hoarusibrivierbedding loop.

Ná die eerste 10 km slaan ons kamp op vir die nag wat voorlê. Soos ons vorder, sien ons die rande van die bedding het ’n nattigheid en by dele staan die water opgedam.

Die volgende oggend vertrek ons betyds sodat ons teen laatmiddag by Puros kan wees. Kort-kort moet ons uit die rivierbedding ry sodat ons nie vasval nie. Dit is ook duidelik hier is niemand verby ná die onlangse reënseisoen nie. Intussen geniet ons die indrukwekkende bergformasies.

Vasvalspook
Vasvalspook

Teen 15 km/h gaan dit stadig, want hier is nie ’n pad om van te praat nie. Teen 3.30 nm. wys die GPS dis nog net 35 km tot by Puros, en dit voel ook of die pad nou duideliker word. As ons 30 km/h kan handhaaf, sal ons Puros maklik voor donker haal.

Frans ry voor ons en Francois-hulle volg ons, maar die volgende oomblik val ons vas met die Amarok. Ons haal die herwinningstoue uit en probeer die bakkie uittrek, maar dis asof die nat sand die kar vassuig. Boonop lê die arme Amarok nou op sy onderstel teen die sand.

Ná meer as ’n uur se gesukkel en gebreekte kinetiese toue besluit ons om weer kamp op te slaan – ons sal môre begin grawe. Ons slaapplek is in ’n abbawa agterop die Amarok, en ons moet die aand skoon skuins slaap soos die kar vasgeval het.

Net ná sesuur die volgende oggend begin ons vore grawe om van die water by die Amarok te dreineer, maar die walletjies val in. Ons besluit om ’n ent weg ’n groter gat te grawe en dan hier water te skep sodat die water soontoe kan afloop. Ons dra klippe nader wat ons onder die Amarok wil pak soos ons die kar met verskeie domkragte lig.

Van die klippe dien ook as stutplek onder die domkragte, en van hulle sak selfs weg in die sand soos die domkrag die kar probeer lig. Dan sit ons net nog ’n klip bo-op totdat die domkrag nie meer wegsak nie.

Naderhand kan ons die Amarok hoog genoeg lig om klippe onder die wiele in te kry. Ná amper ses uur kry die Amarok vastrapplek om uit die bedding te ry en ons mik na ’n droë kol waar die manne kan stort.

Die volgende 30 km tot by Puros draf ons kaf sonder voorval. Hier vertel die kampeienaar hy het hoeka die vorige week twee voertuie gaan help wat ook vasgeval het. Een van hulle het sowaar twee dae lank vasgesit. Dit klink of ons gelukkig was om net een nag ekstra in die rivier deur te bring.


Hierdie artikel het oorspronklik in Ry & Sleep#16 (November 2018) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook.