Ek wonder hoeveel keer het ek myself al voorgeneem ek koop nooit weer ’n vleispasteitjie wanneer ek op die langpad is nie. Nooit. Ooit. Weer. Nie.

Vleispasteitjies stel ’n mens net teleur. Dit is amper asof hulle doelbewus ontwerp is om jou spysverteringstelsel – trouens, jou menslikheid – te beproef.

Of hulle is te droog, of te pap, of hulle gee jou sooibrand.

Ek het eenkeer selfs in die ongevalleafdeling van die hospitaal op Vryburg beland, nadat ek ’n steak and kidney pie by ’n kafee op die dorp gekoop het.

Maar, ai, as ek my kom kry, staan ek maar wéér in ’n kafee iewers op ’n dorp voor ’n glasoondjie vol pasteitjies en beduie vir die een agter die toonbank na daardie hoenderpasteitjie derde van links in die agterste ry. Of ek staan in een van hierdie nuwe garage-winkels met ’n silwer tangetjie in die hand, besig om vir myself een uit te soek.

Miskien is dit omdat ’n pastei die perfekte langpadkos is, veral as jy haastig is. Dit is klaar gaar. Jy hoef nie daarvoor te wag nie. En, baie belangrik, jy hoef nooit lank na ’n pastei te soek nie.

Ek weet nie van ’n dorp of ’n gehuggie in Suid-Afrika waar jy nié vinnig ’n pasteitjie kan koop nie: Makwassie, Davel, Dundee, Hotazel – oral kry jy hulle.

Pasteie is soos, wel, sooibrand. Byna alomteenwoordig.

In die laaste 20 jaar het baie dinge in die wêreld verander: Die ou Sowjet-Unie het tot ’n val gekom, Pietersburg is nou Polokwane, die Toyota Cressida en Gold Dollar-sigarette het van die mark verdwyn en daar was meer as 10 Springbokafrigters.

Maar die meat pie is steeds met ons.

Gaan kyk maar op enige dorp in enige kafee; jy sal die vier “klassieke” soorte pasteie daar bymekaar sien lê, tydloos soos die Beatles: Die worsrol (langwerpig), die hoenderpastei (rond), die cornish pie (ovaalvormig) en dan die Paul McCartney van pasteie, die steak and kidney pie (rond).

In hierdie onseker wêreld waarin ons leef, bied ’n pastei jou ’n mate van vastigheid. Al gee dit jou ’n effense sooibrand, bied dit jou darem ook ’n tydelike, geestelike sekerheid.

Ek weet nie van ’n dorp of ’n gehuggie in Suid-Afrika waar jy nié vinnig ’n pasteitjie kan koop nie: Makwassie, Davel, Dundee, Hotazel – oral kry jy hulle.

Tog is die pastei nie immuun teen verandering nie. Daar is deesdae ’n klomp nuwe kombinasies. Kyk maar... Spinasie en fetakaas, gekerriede skaapvleis en gekerriede groente, varkpasteie, kaaspasteie, pampoenpasteie, selfs spek-en-eier-pasteie.

Jy kry selfs ’n pizzapastei. Wat sou die sin daarvan wees? As jy lus is vir pizza, waarom koop jy nie ’n pizza nie? Wat is volgende? ’n Pasteipizza?

Dit raak ook al moeiliker om die verskillende pasteie van mekaar te onderskei. Daarom kry jy nou sulke hiërogliefagtige simbole, gevorm uit ’n stukkie deeg, op die pasteitjie. Dit, tesame met die pasteitjie se vorm, is veronderstel om aan te dui watter soort dit is.

Die probleem is net, daar is nie eenvormigheid nie. Byna elke bakkery of plek waar pasteie gebak word, het sy eie simbole: Diamantjies, vierkantjies, sirkeltjies… asook so ’n driehoekige simbooltjie met ’n kolletjie binne-in wat onrusbarend baie lyk na daardie een wat jy op ’n Amerikaanse dollarnoot kry, wat volgens party mense ook die simbool is van die Illuminati, ’n organisasie wat glo die wêreld in die geheim beheer.

Al hierdie vorms en simbole het al amper tot ’n insident tussen my en ’n Griekse kafee-eienaar gelei: “What do you mean you don’ta want this pie? You just bought it.”

“Yes, but it’s lamb curry, sir.”

“So what’s da problem? You take lamb curry, you eat lamb curry.”

“But I wanted spinach and feta, sir.”

“Now why didn’t you take the spinach and feta then? You blind or what?”

Ja, pasteitjies word toenemend ’n soort lucky packet vir grootmense. Jy koop hom deesdae sonder om regtig te weet wat jy daarin gaan kry.

Het dit nie tyd geword dat ’n na sionale beheerraad gestig word om die vleispasteitjiebedryf in Suid-Afrika tot orde te roep nie?

As daar ’n raad is vir veerpyltjiespelers en paneelkloppers, kan daar mos ook een wees om minstens te sorg dat die simbole op pasteie gestandaardiseer word.

Só kan daar ook gehaltebeheer op pasteie toegepas word, want die vet weet, dit sal my groot plesier gee om te sien hoe word iemand soos daardie kafee-eienaar op Vryburg beboet oor daardie pie wat my in die dorp se hospitaal se ongevalle laat beland het.

Maar aan die ander kant, soms het ’n onwel vleispastei onverwagse voordele: Vir slegs R6,95 kan jy ’n volledige cleansing en detox in ’n openbare toilet op Trompsburg beleef – iets wat jou ’n paar duisend rand in ’n private spa in die Boland sou kos.

EN TOG, ONDANKS AL my onaangename ondervindings, hou ek aan om pasteie te koop. Hoekom? Miskien is dit omdat ek weer een wil proe wat soos ouma Swannie s’n geproe het.

Al die lekker pasteie wat ek al geëet het, was ’n bietjie soos ouma Swannie s’n: Die vleis was geurig en die deeg was ’n bietjie soos die versiersuiker op ’n troukoek, net souterig pleks van soet.

Sy het die deeg met ’n koekroller op die kombuistafel platgerol. Dan het sy sulke vorms uit die deeg gesny, die vleis met ’n lepel daarin geskep en dit met die hande toegevou.

Het dit nie tyd geword dat ’n na sionale beheerraad gestig word om die vleispasteitjiebedryf in Suid-Afrika tot orde te roep nie?

Dan was dit oond toe met hulle. En ook nie lank nie, dan het daardie heerlike, onmiskenbare pasteigeur die hele huis vol gehang.

Dis vreemd, selfs slegte pasteie ruik lekker – behalwe pasteie wat jy in so ’n plastieksakkie kry. Hulle ruik jy glad nie.

Terloops, ek glo nie ek het al ooit ’n lekker pastei geëet wat in ’n plastieksakkie was nie. Dié sakkies lê mos dikwels daar eenkant in die kafee se yskas. Jy neem een en dan sit die kassier dit in die mikrogolfoond agter die toonbank.

Dan, terwyl ’n Celine Dion-liedjie sag in die agtergrond speel, staan jy daar deur die mikogolfoond se deurtjie en staar asof dit ’n TV-skerm is.

Ook nie lank nie, dan is daar aksie daar binne: Terwyl die sakkie onrusbarend swel, plof die middelste gedeelte van die pasteitjie na binne, amper soos ’n hoë gebou wat met plofstof gesloop word.

Pieng! maak die mikrogolf. Nou is dit net julle twee: Jy en die pie...

Buite in die motor kry jy dan gewoonlik met een van drie situasies te doen: Jy skeur die pakkie gulsig oop, hap deur die koue kors maar verbrand amper jou mond, want die vulsel van die pasteitjie is lawa-warm; of die pastei tjie se kors is koolwarm, maar die binnekant is nog half gevries; of die plastieksakkie self is  so warm dat jy dit met jou tande moet oopskeur, maar die pasteitjie – kors én binnegoed – is yskoud.

Ja nee, die mensdom het ’n man op die maan geplaas, maar skynbaar is dit tegnologies onmoontlik om ’n plastieksak-pasteitjie egalig warm te kry.

NATUURLIK WAS DAAR ook die lekker pasteitjies wat ek al geëet het.

Daar was baie van hulle. En ek onthou hulle almal. Daar was die worsrolletjie die middag op Grünau in Namibië. O, en daardie wildspastei op Boshoff in die Vrystaat sal ek nie vergeet nie. Dit was koedoe. Die tante wat dit aan my verkoop het, het my persoonlik die gemerkte pakkie in haar vrieskas gewys.

Dan was daar ook daardie cornish pie die nag in 1995 nadat die Springbokke die Wêreldbeker gewen het. Ek het dit by die Rio-kafee in Pretoria gekoop. Puik. (Toegegee, die euforie van die oomblik het dalk my oordeel aangetas. Daardie aand sou ’n hondebeskuitjie ook puik geproe het.)

Wat is die lekkerste pasteitjie wat ek nog geëet het? Miskien was dit daardie hoenderpastei wat ’n vrou verlede jaar spesiaal vir my gebak het, maar ek dink net so, omdat ek nogal baie van die vrou gehou het.

Soms kry jy die lekkerste pasteie op die mees ongewone plekke. Dit was ’n gewone weeksoggend. Ek het deur die Vrystaat geswerf en het by ’n kafee op Petrusburg stilgehou. Ek het uitgeklim en die plek ingestap. Die pasteie het soos kleinerige skilpaaie daar in die glasoondjie gelê, goudbruin van kleur.

“Oe, my kind,” het die tante agter die toonbank gesê, terwyl sy vir my twee worsrolle uithaal. “Die mense staan tou vir hierdie pasteie.”

Dit het my ietwat bekommer, want ek het om my gekyk en nêrens het iemand tou gestaan nie. Ek was die enigste een in die tannie se kafee.

Nietemin het ek dit gekoop en buite die dorp stilgehou, uit die motor geklim en die eerste hap gevat. Die mooi, vredige middag daar op die Vrystaatse vlakte was opeens nog mooier.

Die deeg was nie te pap of te krummelrig nie en, mmm, binne-in was regte maalvleis, met ’n koljandersmakie en ’n blatjanggedoentetjie daarby.

Lekker, lekkerder, lekkerste.

Met pasteie gaan dit min of meer soos met die lewe: Op die ou end onthou jy die lekkerte langer as die onaangename.


Hierdie rubriek het oorspronklik in Weg #27 (Januarie 2007) verskyn.