Ek sit in die Kasane- internasionale lughawe in die noorde van Botswana.

Ek vlieg nou-nou Johannesburg toe, en dan voort na Kaapstad. Behalwe dat ek darem laat vanaand my meisie ’n drukkie kan gee, is daar min ander dinge van terugwees in die stad waarna ek uitsien.

Hier in die vertreklokaal blêr ’n TV. Dit raas – ek is seker maar besig om oud te raak... Ek het die laaste paar weke, op ’n toer van Noord-Botswana en die Caprivistrook in Namibië, meestal gekamp en skaars ’n TV gesien.

’n Televisie het ’n manier om namens jou te dink, en jou dinge te vertel (en advertensies te voer) sonder dat jy enigiets hoef te doen. Jy sit maar net en staar na die ding. Maar nooit tydens my kamptoer het ek ooit ’n TV gemis nie. As jy aan 7de Laan dink wanneer jy vroegaand om die kampvuur sit, is jy waarskynlik nie ’n kampmens nie. Ja, ek hou ook van televisiekyk. Maar kan ek daarsonder leef? Beslis. As ek nou moet hoor ek kan dit van môre af nooit weer doen nie, gaan ek nie in sak en as sit nie. Ek gaan waarskynlik net meer boeke lees.

Die tyd rondom ’n knetterende kampvuur, met die getjir van naguile en die getwiet van vrugtevlermuise rondom jou, is dinktyd. Sonder ’n televisie kan jy al die afdraaipaadjies van jou gedagtes volg tot by hulle natuurlike doodlope.

In die bos besluit jy self wanneer jy ’n “advertensiebreuk” moet neem – dalk beteken dit bloot jy staan op om daai halfgebrande mopaniestompie weer op die vuur te skuif of om jou glasie Amarula vol te maak.

Of jy gesels met die mense rondom jou – vriende wat saam toer, die familie wat reeds lankal van hierdie vakansie droom. Dit is hierdie kampvuurstories – wat jy self moet verwoord, waarvan jy self die tempo moet bepaal, en die kwinkslae moet inwerk – wat lank ná die vakansie waardeer gaan word.

Die kinders gaan grootoog by die skool kan vertel hoe Pa en Ma met hulle plakkies die bakkie in ’n droë rivierbedding in Damaraland uit die sand gegrawe het, of ’n bietjie aandik wanneer hulle onthou hoe die leeus rég langs die tent in Moremi gebrul het.

Die internet is ook ’n soort TV. Maar enige storie wat begin met “Ek het op Facebook gesien dat...” of “Ek het ’n YouTube video gesien van...” dra veel minder gewig as een waarin jy nonchalant jou selfoon uithaal om jou eie video’tjie te wys van waar die leeus en die hiënas slaags geraak het by die Sunsetdam. Facebook is daar om ná jou vakansie met jou foto’s te spog (en om die familie in Australië ’n bietjie suur te maak).

Maar nee, ek mis ook nie die internet wanneer ek in die bos is nie. Ek wil juis in die bos gaan verdwaal sodat ek nie in die internet verstrengel hoef te raak nie.

Nog iets wat ’n mens nie regtig nodig het nie, is al die keuses wat ons winkels bied. Ek onthou ’n besoek aan Zimbabwe sowat ’n dekade gelede. Dit was ’n moeilike tyd vir Zimbabwe – brandstof was byna onbekombaar, en die winkelrakke was dikwels byna leeg. Dit was in die dorpie Juliasdale in die ooste van die land. Juliasdale se enigste skaflike winkel was oop, maar het omtrent niks te koop aangebied nie: enkele blikkies bone, ’n paar sakkies suiker en meel, kerse, vuurhoutjies. Niks op die rakke was styf teen mekaar gepak nie, want daar was nie genoeg goed op die rakke nie. Produkte het meters van mekaar af gestaan.

Daar was wel ’n oorvloed tamaties en ’n paar verlepte aartappels, maar geen ander groente of vrugte nie. As jy iets wou eet, moes jy tamaties eet – iemand in die omgewing het seker ’n goeie oes gehad en alles hier kom aflaai. Maar dit was oukei – daar was kos om te koop en ek sou nie van die honger omkom nie.

Jy moet rustigheid opgaar – dis ’n hulpbron, glo my – vir tye wanneer beurtkrag inskop, die rekeninge ophoop of die gedruis jou wil-wil verswelg.

Ek onthou nog goed hoe oorbluf ek later in Suid-Afrika was deur die oorvloed beskikbare keuses in my buurt se supermark. Al die rakke was volgeprop – die oomblik as een pak kaaskrulle verkoop word, word ’n nuwe een in sy plek ingedruk. Ek kon kies uit tientalle verskillende soorte seep, sjampoe en tandepasta. Selfs by die blatjangrak kan ’n mens lank staan en tob voor jy besluit watter een jou gunsteling is.

Ja, dis lekker om hierdie opsies te hê in die lewe. Soms dink ons selfs dat ons dit verdien, dat dit ons reg is. Maar dit is nie. Dink ’n bietjie mooi hieroor volgende keer wanneer jy in een van ons moderne supermarkte – tempels vir gemak, keuse en oorvloed – instap. Daar is mense vir wie dit nie beskore is nie – nooit nie.

Een van die genotvolle dinge van ’n lang kampvakansie is juis dat jy leer om klaar te kom met dit wat jy ingepak het, of dit wat jy iewers by ’n padstal kon koop. Skielik het ’n mens minder keuses, en moet jy meer kreatief begin dink oor hoe jy jou maaltyd gaan berei.

Ek het eenkeer op my eie naby die Naukluftberg in Namibië gekamp. Al wat aan die einde van die vakansie in my koskrat oorgebly het, was een groenrissie, ’n bietjie couscous en ’n ui. Toe hol ek die groenrissie uit, stop dit met die couscous en gekapte uie, rol dit toe in foelie en braai dit op die kole. Was die maaltyd ’n reuse-sukses? Nie regtig nie, maar ek onthou dit nog goed!

Daar is ander dinge – en mense – waarsonder ek kan klaarkom... en ek’s seker die meeste lesers sal seker saamstem. Soos daai buurman wat gereeld met sy bakkie se een wiel in jou blombedding parkeer. Of jou baas.

’n Stad is ’n plek met baie mense, en baie mense beteken baie motors en baie geraas. Magtig, mense kan geraas maak! As ’n mens met vakansie was, begin jy gewoond raak aan die geritsel van die palmbome saans buite jou huisie by Inhambane, of die doodse stilte van ’n Kalaharinag. Dan is 50 mense wat tegelyk in ’n koffiewinkel praat (of hier in die vertreklokaal waar ek sit...), skielik oorverdowend. ’n Mens wil byna jou oorpluisies insit, of jou klaskapteinbalkie afstof en almal stilmaak.

Aan die motors kan ons ongelukkig ook nie veel doen nie – en ek’s net so lief vir my ryding. Maar ’n stad, al daai verkeer... dit gee ’n ou eers ’n kopseer, dan grys hare, en uiteindelik val dié ook uit.

Dis belangrik om ’n paar tonele in jou geheuebank te bewaar waarheen jy kan ontsnap wanneer die verkeersbane soos luislange om jou begin druk. Wat van daai slag toe jy in die son sit en droogword het ná ’n swem in Ngepi Camp se krokodilbestande swembad?

Of die Karookoppie wat jy, jou seun en julle hond anderkant Victoria-Wes uitgeklim het? Of dalk die eindelose Karringmelkspruit wat om jou enkels vloei terwyl jy die een ná die ander vliegie op die water sit in die hoop dat ’n forel sal vat?

Hou jou ontsnaproetes oop in die lewe. Jy moet reis wanneer jy kan, wegkom wanneer moontlik. Dit hoef nie al die pad Zambesirivier en tiervisse toe te wees nie – die dorpsdam en karpvang vir die naweek is goed genoeg. Jy moet rustigheid opgaar – dis ’n hulpbron, glo my – vir tye wanneer beurtkrag inskop, die rekeninge ophoop of die gedruis jou wil-wil verswelg.

Die aankondiger se stem raas nou oor die interkom. Ek moet my rekenaar wegpak – dis amper tyd om op die vliegtuig te klim na Johannesburg. Ek hoop ek sit by ’n venster sodat ek kan afkyk op die vol Makgadikgadipan, waarin ek ’n week gelede geswem en ’n koue bier lê en drink het.

Daardie herinnering gaan ek een of ander tyd nodig kry; dus wil ek góéd kyk, en dit ordentlik laat insink.

*  Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #153 (Julie 2017) verskyn.