Dié rubriek is ook beskikbaar as podcast. Luister hier daarna:

Dit was ’n lang dag op die Namakwalandse agterpaaie en dié Saterdagmiddag in Springbok aangekom, ry ek sommer reguit steakhouse toe. Daar’s nie meer veel verkeer in die dorp nie. Straatligte stotter voort – kol-kol bly ene dof. Dis die winter van 2015 en beurtkrag is in volle swang.

Die eetplek is reeds vol gesinne wat die naweek op hulle gebruiklike manier geniet. Die kelnerin by die deur vra of die dametjie solank wil plaasneem terwyl sy vir Meneer wag en beduie na ’n tafeltjie vir twee. Ek voel te tam om te verduidelik hoekom daar nie vanaand ’n Meneer saam met my is nie en hou verby kroeg toe – in ’n kroeg lyk iemand wat alleen sit, nie so uit plek nie.

Dis wel aardig as jy die enigste vrou in die kroeg is. Daarom neem ek in ’n onopsigtelike hoekie plaas. Ek wil nie soos een lyk wie se hart pas gebreek is en nou desperaat vir ’n drukkie soek nie.

Dis Superrugby-seisoen en die grootskerm in die hoek wys die oploop tot ’n Stormers-wedstryd op Nuweland. Hulle speel vanaand voor ’n karige tuisskare teen die Rebels. In die tokkamer word koolore platgeplak en hammies gestrek.

’n Kommentator gesels met die kaptein, Duane Vermeulen. Die TV se klank is sag en ek kan nie bo Bob Dylan se “Hey, Mr. Tambourine Man” uit hoor hoe dit deesdae met Duane gaan ná sy nekbesering nie. Boonop dreun ’n kragopwekker in die agtergrond.

Springbok is vanaand sommer al vroeg aan die beurt. Maar hier in die steakhouse verloop alles flink en Eddie, die kroegman, hou ongesiens my rooiwynglasie vol.

Niemand toon werklik belangstelling in die wedstryd nie. Maar soos wat Demetri Catrakilis ’n strafskop in die vyfde minuut oorsit, kom drie luidrugtige kalante ingestap. Die een is middeljarig, en sy swart PT-shortie verdwyn byna onder sy boep. Die ander twee is jonger en meer uitgevat. Ek wonder of dit dalk “Menere” is. Menere wat gou kom loer wat die score is terwyl hulle dametjies nou alleen met ’n cordon bleu sit. Blykbaar nie, want daar word stoele uitgetrek en ’n dubbele ronde bier bestel. Dan liewer boere uit die distrik wat gou voor toemaaktyd “die bakkie kom volmaak” het.

Boepie se kort beentjies swaai soos ’n marionet s’n rond terwyl hy sy sit op die hoë kroegstoeltjie kry. Daarsy, nou’s hy in lyn met die TV-skerm, elmboë lekker op die toonbank gestut. Die kamera zoem in op Schalk Burger wat sy kuif uit sy oë vee. “Lekka, Skalla!” skree Boepie. “Haai, Eddie, draai bietjie op die klank, ’seblief!”

Eddie sit ’n tros Windhoeks versigtig neer en vis die remote uit sy broeksak. Net toe lui een van die jong latte se selfoon: “Da’ onner lê drie pikkewyne!”

Dit klink asof sy meisie hom soek. “Haai, ons kyk gou die rugby...” antwoord hy hard bo die TV-kommentator se entoesiastiese uitlatings oor ’n Seabelo Senatla-lopie.

“Nee-e-e-e, ons is by sy huis. By sy huís, ja! Ek kyk net gou die eerste helfte. Nee, man, hulle het ’n generator. Jaaa... by die HUIS!”

Die ander twee lag. Hulle pêl dink vinnig op sy voete. Eddie stoot ’n bak pretzels nader en elkeen gryp gulsig ’n vuis vol.

“Ek was ook hier ’n bar man, weet jy Eddie?” knoop die ander jong ou ’n geselsie aan. “Ek het vir Minki van der Westhuizen bedien – ín hierdie einste bar.” ’n Voorvinger tik op die presiese plek op die toonbank waar hy Minki se drankie neergesit het. Boepie snork.

“Ja, ’raait, Wikus.”

“Genuine! Ek sweer!”

“Mínki. Hier op Springbok?”

“Ek sweer dit! Toe Pasella hier was!”

Nuweland kreun toe Siya Kolisi ’n bal aanslaan. Pikkewyn prop sy selfoon kopskuddend terug in sy gatsak. “Hoe lank ís hierdie liedjie?” vra hy knorrig. “Nee, man, Eddie, watse goed speel jy? En sit sommer die tiewie ook harder, ek kan nie die ref se gelieg hoor nie.”

Dis waar, Dylan smeek nog een stryk deur vir ’n deuntjie. Eddie tune die musiek en volgende aan die beurt is Queen se “We Will Rock You”. Dit val duidelik meer in Pikkewyn se smaak. Hy stamp sy voete soos ’n gumboot-danser, reg vir ’n paartie. Anders as Boepie wat uitsluitlik vir die rugby gekom het. Dié is die ene senuwees oor die Stormers.

Tackle!” skree hy, en klap sy handpalms ’n paar keer teen sy kaal bobene. “Ta-a-ackle-e-e-e! Kom nou, Stormers, man, magtag!” Burger val soos ’n boomstomp op ’n Rebel en die fluitjie blaas. “Aag, komaan, ref... Klap hom, Skalla!”

Kaptein Duane word nader gewink. Wikus stamp aan Pikkewyn.

“Hei, ’n vriend sit nou die dag ’n foto op Facebook waar hy langs Duane Vermeulen staan. Hy’s glad nie so groot nie.”

 “Twak, man! Sy biceps is twee keer so groot soos joune!”

“Issie! Hy’t basically my bou...”

Die horlosie staan nou op die 22ste minuut, die telling is steeds 3–0 vir die Stormers. Dis ’n heen-en-weer-geploeter. Eddie kom sit ’n spyskaart by my neer. Sy naam is eintlik Eduard, en dis nie sý playlist nie – hy luister blykbaar eerder Aretha Franklin.

Die Rebels kom vir die eerste keer tot in die Stormers se kwartgebied, maar dan steel Kolisi die bal. Wikus breek ’n wind, trek sy tweede Windhoek nader en soek rond in die kroeg. “Eddie! Laat kom hulle, my maat. Keep supply ahead of demand!” En dan: “Bliksem, ons speel een aand ’n game op Kathu. Maar die veld is róf! En ek duik daar ’n man en ons land ín ’n donnerse kaktus!”

Eddie rol sy oë, skribbel my bestelling neer en haas hom terug. Boepie wriemel van sy stoeltjie af om die PT-shortie se knellende rek ’n slag oor sy maag te verstel. Die Stormers speel wyd na links. Nou is daar slegs ’n Rebel-stut tussen Damian de Allende en die doellyn. Die senter klop sy man en laat loop hoekvlag toe. “Yeeesss, Ellendig!” skater Boepie en eensklaps word daar oral in die kroeg tevrede geswets en hande geklap.

Die gejuig laat nog ouens uit die restaurant kroeg toe verskuif. Twee kom neem neffens my plaas met borde kos en ’n brannewyntjie. Op die een se uitspattig gestreepte rooi-en-pienk kraaghemp blink ’n bronsnaamplaatjie: Calvin de Kock.

Hulle lyk ook na mense wat net vir die aand hier oorstaan, miskien mediese reps. Calvin se kollega is duidelik fanaties oor die Stormers, want hy’t onthou om sy ondersteunerstrui vir die sakereis in te pak. Hulle lê weer weg aan hulle buffalo wings en ribbetjies. Catrakilis skop oor. 10–0.

Calvin se kollega is duidelik fanaties oor die Stormers, want hy’t onthou om sy ondersteunerstrui vir die sakereis in te pak.

 “Jis, jis, jis, maar só ’n drie moet gevier word!” besluit Pikkewyn. Sy pêlle giggel; hulle vriend is al weer so spitsvondig. “Eddie! Drie Russian Bears!”

“Ja, maar nie klein beertjies nie, hoor,” las Wikus by, “ons soek daai Pappa-beertjies!”

“Ék soek vir Goldilocks,” mompel Pikkewyn en die ander twee grinnik.

Calvin sug oor sy bord hoendervlerkies. “Môre is dit al weer vroeg opstaan. Maar dis oukei – vandag se geryery, môre se gery, verlede naweek s’n... daai’s als double time.” Sy kollega reageer nie, staar net al kouend na die rugby.

Scott Higginbotham het ná ’n losgemaal bly lê. Die oomblik van impak word in stadige aksie gewys, en “Haa’sy! Vat hom uit!” kom dit van Boepie.

 Calvin loer belangeloos na die skerm. “Waar lê hulle oppie charts?”

“Stormers is derde...”

“Ek wonder watse movie is nou op? Gisteraand so ’n kwaai stuk getjek... The Martian. Jy al gesien?” Die kollega skud net sy kop, sy aandag ten volle by die game. Higginbotham sukkel op en die Rebels val nou met mening aan.

“Matt Damon is hierdie astronaut op Mars,” hervat Calvin. Hy wag vir reaksie. “Op Mars?” vra sy kollega afgetrokke. Die Rebels is nou vol vuur.

“Ja. Hy bly per ongeluk da’ in die space station agter wanneer die ander terugkom. Dan moet hy uit-figure hoe om te oorleef. Hy patch die plek op én... hy plant aartappels!”

Weer ’n dramatiese pouse.

“Op Márs?”

Die bal beland in die hande van Dom Shipperley, hy draai die krane oop en hy’s weg voor! Drie! Jack Debreczeni skop oor en die Rebels omhels mekaar.

Die kollega gooi ’n ribbeentjie teleurgesteld neer. “Tsk!”

“Nee, regtig! Hy besef hy kan hierdie lot moere plant en dan...”

Die Stormers-man draai stadig om: “Calvin...”

“...bou hy ’n hele greenhouse in die space station en...”

“Calvin...”

“Wat?”

“Ek gaan jóú moer plant!”

Calvin kry die boodskap, gryp sy sigarette en loop uit.

“As die Stormers dié game verloor, is ek kláár met rugby,” sê Pikkewyn. Boepie en Wikus klink hulle bierbottels (tans ronde vyf) in akkoord: Vanaand is bepalend, in hulle opinie van die sport.

Maar die spelers stel nie teleur nie. Catrakilis klits nog ’n strafskop oor en Pikkewyn bulder in ’n Godfather-aksent: “Never mess with la familia!”, waarop Wikus hom reghelp: “Bra, hy’s Grieks...”

Burger steel die bal by ’n Rebel. Boepie jubel dit uit: “Lekka, Sssjkalla...!” en swaai sy arms – blertse bier slop die wêreld vol.

Met die rustydsirene wat in die agtergrond loei, besluit die Rebels om van hulle doellyn af met ’n lynstaanbal te hardloop. En dan gebeur ’n mooi ding: Dillyn Leyds fop die Rebel-agterlyn, onderskep ’n aangee en stort oor die doellyn!

Dié keer is Catrakilis se skop links verby, maar die manne het dit nie gesien nie – hulle kekkel oor Boepie wat van opwinding sy stoeltjie misgesit het en nou met sy PT-shortie in ’n plas bier lê.

Die rondes beertjies volg vinnig op mekaar. Eddie het vir rustyd die TV sagter gestel en vir Bon Jovi harder. Maar “Bad Medicine” is nie wat Pikkewyn nou nodig het nie. Hy gaps die remote uit Eddie se broeksak en stel die klank donderend hard. Dis vir die driemanskap ’n groot grap, maar ’n paar ander manne maak kapsie – die spul raak darem nou net te rumoerig.

Hulle kekkel oor Boepie wat van opwinding sy stoeltjie misgesit het en nou met sy PT-shortie in ’n plas bier lê.

SuperSport se desibels daal nes die spelers weer uitdraf. Boepie slaan die kroegtoonbank dat die pretzels hop. “Yes, boys!” Sy nat broek klou potsierlik om sy boude.

Die Stormers hou die bal vas. Strafskop: 18-10. Iemand trap vir Schalk Burger. Strafskop: 21-10.

“Da’ onner lê drie pikkewyne!” Pikkewyn vroetel vir sy foon. “Jis, Babes! Nee, dis nog nie rustyd nie, hulle het eers later afgeskop.”

“Hóór net dié ou!” sê Wikus laggend.

“Ooo... jy kýk. Ag, Babes, moe’ nou nie só wees nie.”

Die Stormers-agterlyn loop mooi, maar dan word die bal aangeslaan. Die manne mor en ons sien ’n nabyskoot van ’n bekommerde Allister Coetzee wat sy ken vashou.

“Nee-ee-e, man! Dis... dis Wikus se swaer-hulle, hulle het nou net hier aangekom. Ons braai gou ’n worsie, dan kom ek huis toe. Los... lós die boompies! Ek sal dit kom aflaai.” Hy lui nors af.

“En nou?”

“Nee jong, blêrrie roosboompies wat ek vanmiddag moes plant.”

Calvin het teruggekeer en sit nou bedees aan ’n drankie en teug. Die kamera aarsel op twee blondines op die Spoorwegpaviljoen wat oor iets giggel.

Dit laat die mans ook oor iets giggel.

Die Stormers skrum die Rebels ’n goeie 20m terug. “Nou-u-u!” Boepie se spanning kry die oorhand, hy trap rond en verfrommel ’n pretzel dat die krummels so oor sy pens gesaai lê. Die bal bereik Leyds op regtervleuel. Hy sny flink binne-toe en duik oor die lyn! Boepie se oë staan wild en hy gil in ’n hoë stemmetjie: “Lekker bôl hy hulle nou!”

“Ek het ook ’n step op my,” spog Wikus en pypkan ’n denkbeeldige opponent. “Ek was ’n bedonnerde senter gewees.”

“Ja – vir die netbalspan!” koggel Pikkewyn.

In die ses-en-sestigste minuut, middein ’n agterlynbeweging, ruk Springbok se krag skielik weer aan. Daar word luidkeels gevloek toe DStv sy pers skerm gooi en beginne bouquets soek. Die agtergrondmusiek is ook vir ’n oomblik stil, maar syfer dan deur – wragtig weer “Mr. Tambourine Man”!

Toe die beeld aankom, het die Rebels gedruk, maar die skop was links verby. Die telling staan nou op 28-15. Etzebeth rank hoog en wen ’n Rebels-lynstaan. ’n Losgemaal vorm, maar die fluitjie blaas – die bal is vasgehou.

Daar’s enkele minute oor en die Rebels gee nou alles. Hulle staan egter nog ’n strafskop af en Catrakilis maak nie ’n fout nie. Albei kampe stuur reserwes op. Die Rebels se afrigter lyk dikbek. In ’n warboel op die Stormers-doellyn kan g’n mens sien of Sean McMahon wel oor is nie. Boepie is in ’n toestand. Hier langs my brul die Stormers-oudersteuner. “Hy’t kort gedruk! Daai bal het uitgespring!”

Dit laat Calvin ontwaak uit sy beswyming. “Het jy al ooit Leaving Las Vegas gekyk?” Die eindfluitjie blaas. Pikkewyn down sy laaste Windhoek. Boepie hang verlep aan die kroegtoonbank, uitgeput.

“Dis Nicolas Cage... hy los sy werk, vat ál sy geld, ry Las Vegas toe en drink homself dood.”

Sy kollega gluur hom verbysterd aan. “Calvin, ék ry môreoggend vyfuur Beaufort-Wes toe!”