Selfs Napoleon het dít besef, en gesê ’n leër marsjeer op sy maag.

Want as soldate nie goed eet nie, verander hulle mettertyd in ’n klomp hensoppers.

Dit verklaar dalk waarom Duitsland die Tweede Wêreldoorlog verloor het. Want as jy al in die Germaanse lande was, sou jy agtergekom het dat hulle kos nie eintlik by hulle karre kan kers vashou nie.

Ja, Duitse wors en kouevleis smaak dalk aanvanklik lekker, maar ná ’n week raak jy moeg vir weisswurst, bratwurst, jagdwurst, bockwurst en die 200 ander soorte wurst wat hulle elke dag eet. En as ’n land se kos maar effe is, dink net hoe proe hulle rat packs...

Dit verklaar dalk waarom Duitsland die Tweede Wêreldoorlog verloor het. Want as jy al in die Germaanse lande was, sou jy agtergekom het dat hulle kos nie eintlik by hulle karre kan kers vashou nie.

Om in Frankryk te eet is net so opwindend soos om in die reënseisoen in die noorde van Botswana rond te ploeter. Want die verskil tussen ’n hemelse kulinêre ervaring en jou maag wat uitgepomp moet word, is net een lettergreep of die verkeerde uitspraak van ’n woord op die spyskaart weg.

Só het ek al niksvermoedend ’n soort wors bestel wat gestop word met derms en ander afvalagtige bestanddele en ruik soos ’n wanbestuurde munisipaliteit se rioolplaas.

En dít nadat ek omtrent al die ander ouens in die groep oortuig het om dieselfde gereg te bestel, “want jy kan nooit ’n fout maak met wors nie…”

’n Kennis het weer op ’n slag ’n bredie in Frankryk bestel en die hele nag wakker gelê en gewonder of hy kat of konyn geëet het. Want sien, civette beteken “wildekat” en civet “wildekonyn”.

En dan kla jy as een van die manne ’n vreemde gereg in die Kalahari maak? Die oomblik as jy jou huis verlaat, raak die risiko ál groter dat jy kos gaan teëkom wat jou nie geval nie.

Dis dán wanneer mense op een van twee maniere reageer: Sommige sal letterlik enigiets, selfs geroosterde mopaniewurms, eet om te wys hoe avontuurlustig hulle is (terloops, dit proe soos droë boombas).

Ander weer trek ’n metaforiese laer en eet net kos wat hulle die hele ent pad van die huis af saamgebring het. Só kry jy mense wat in Namibië wil inneuk met vrieskaste vol vleis, terwyl uitstekende vleis daar volop is.

Volgens geskiedkundiges het ons voorsate wat die hinterland ingevaar het, dit nie altyd breed gehad nie. Daar is genoeg stories van vroue wat bossies of geroosterde mieliepitte moes fynmaal as ’n plaasvervanger vir koffie.

Maar vandag is dit glad nie vreemd vir mense wat by die huis Ricoffy drink om op ’n 4x4-ekspedisie daarop aan te dring om slegs geperkoleerde koffie te drink nie.

Gewoonlik gemaak met die een of ander ingewikkelde, ingevoerde Italiaanse kontrepsie wat jou hande brand en agterna elke keer skoongemaak moet word.

Ander het weer ’n fiksasie met potjiekos, maar jy wonder mettertyd of hulle wil kosmaak en of hulle tyd wil mors sodat hulle langer kan drink.

My eie oupa was op sy dag ’n transportryer. Toe die potjiekosgier Suid-Afrika in die tagtigerjare getref het, het hy net sy kop geskud oor al die “reëls” vir potjiekos.

Ander het weer ’n fiksasie met potjiekos, maar jy wonder mettertyd of hulle wil kosmaak en of hulle tyd wil mors sodat hulle langer kan drink.

Ook die een wat sê “jy mag nie roer nie”.

“Ons het hom sommer ’n ‘transportpot’ genoem,” het hy gesê. “En hom gereeld geroer.”

Wees dus versigtig vir die man wat hom uitgee as ’n eksponent van “potjiekos”. Want as ek regtig van vaal waterige bredies gehou het, het ek vrywillig aangemeld vir langtermyntronkstraf.

Maar as iemand doodluiters noem hy gaan “’n pot” maak, kan jy maar ontspan.

Dan weet jy die man ag smaak makliker as dogma.

Die eerste betekenisvolle kennismaking met “kampkos” van die meeste mans ouer as 40, was waarskynlik die weermag se rat packs.

Dis interessant hoe verskillende ouens dieselfde bestanddele hanteer het. Baie van hulle, wat ek hoflikheidshalwe as “mamma se seuntjies” sal beskryf, het hulle neus opgetrek vir goed soos boeliebief.

Ouens soos ek, wat byna enigiets onder die son eet, het uiteindelik ’n hele voorraad boeliebief gehad waaraan heerlik gesmul is.

Meer vindingryke manne het vorendag gekom met allerhande maniere om dié vaal kospakke ’n bietjie interessanter te maak.

Die “hamburger” was só ’n poging. Jy het ’n paar skywe boeliebief en smeerkaas tussen twee dog biscuits gesit. Dan het jy dié affêre in jou ontbytpap se leë foeliesakkie gesit en ’n klein bietjie water ingegooi voordat jy dit toegerol en in die vuur gegooi het.

Ná ’n minuut of wat het jy dit uitgekrap en had jy ’n “hamburger”. Hei, ons was desperaat, oukei?

My broer ontwikkel nog steeds nuwe kampeergeregte, waarvan die een meer eksoties is as die vorige. Só het ons op ’n slag ’n 4x4-roete gaan ry, en hy en sy swaer het my ’n alternatiewe manier van hoender oopvlek gewys.

Dit behels dat jy die hoender tussen sy bors en dye oopsny en dan vorentoe en agtertoe oopvlek sodat dit soos ’n “krokodil” lyk.

Toe ek sy metode kritiseer, het daar ’n effense “situasie” ontstaan. Hy het volgehou sy metode is “beter” en ek het volgehou ’n hoender moenie soos ’n krokodil lyk nie.

Hoeveel kampeertogte is nie al ontsier deur ’n meningsverskil oor kos nie?

Toe ek sy metode kritiseer, het daar ’n effense “situasie” ontstaan. Hy het volgehou sy metode is “beter” en ek het volgehou ’n hoender moenie soos ’n krokodil lyk nie.

Maar ouens kan meestal kossake onder mekaar uitsorteer. Dinge raak egter ingewikkeld wanneer daar vroue saamkom...

Die deursneeman gee oor die algemeen nie te veel om wat hy eet nie. Sy hoofvoedselgroepe (in volgorde van belangrikheid) is drank, vleis en dalk ’n broodjie of twee. Die gewildste voorgeregte of slaai is biltong en droëwors.

En vir iets wérklik eksoties sal een ou miskien skilpadjies (lewer in netvet) of gerookte wors uithaal. Maar as die vroue saamkom, wel… Om die een of ander rede wil hulle slaai en groente op die spyskaart inforseer, en as jy jou oë uitvee, is daar ’n skepsel lou drieboneslaai op jou bord.

’n Voertuigvrieskas is waarskynlik die enkele belangrikste tegnologiese ontwikkeling in die wêreld van kampeer, want dis nou moontlik om blikkieskos te verruil vir vars vleis op ’n lang tog. ’n Vriend van my, ’n stapper van veelvuldige Visriviercanyon-staproetes, hou van sy vleis, en vat daarom altyd ’n paar vakuumverpakte steaks saam in sy staprugsak.

Maar selfs vakuumverpakte vleis hou ook net so lank in ’n rugsak.

Soos ek verneem, begin die steaks ná ’n paar dae onrustig raak. Dan moet jy blykbaar op jou hoede wees, want as jy dinge nie mooi dophou nie, kan die vleis begin muit en pluimvee jag.

Maar met ’n kampeervrieskas kan jy dae, selfs weke lank, elke aand lekker vars vleis eet.

Jou mond kan vuil wees. Jou sokkies kan al drie dae oud wees. Die ou voor jou kan elke 20 minute vasval (en steeds weier om te glo dat 2 bar te hard is vir sy bande).

Maar man, as jy wéét dat jy vanaand ’n lekker rump steak of ’n meneer van ’n skaapribbetjie gaan braai, is daai dingetjies bloot onbenullighede.

Die teenoorgestelde is ook waar. Jou voertuig en toerusting kan almal jaloers maak. Jou reisgenoot kan ’n Minki-dubbelganger wees, en jy kan die nommers van die helfte van die Springbokspan op jou selfoon hê.

Maar as jy weet jy gaan vanaand sleg eet, gaan dit aan jou knaag.

Toe ek onlangs hoor van ’n paar manne wat op ’n 4x4-tog elke dag gesmul het aan verkoelde wyn, eksotiese kaas en lekkernye soos kwarteleiers, het ek aanvanklik gedink dis stupid. Dat dit die hele etos van ’n 4x4-tog verraai.

Maar toe dink ek terug aan een van my eerste kampuitstappies in die laerskool. My pa het my en my broer in die bakkie saamgevat om by die Tugela-riviermond te gaan kamp.

Vandag nog onthou ek drie dinge van dié uitstappie: miljoene ape in die bome, panverhitte viennas and beans, en vuurwarm koffie wat my tong verbrand het.

Met ’n kampeeryskas sou ons elke aand kon vleisbraai, én sou daar koue melk in plaas van Cremora vir die koffie gewees het.

En ek het skielik besef dat die kulinêre sofistikasie van daardie kampeertog nogal primitief was. Om vandag só te kampeer sal wees soos om ’n mes saam te vat na ’n gunfight.

Nee wat, gee my nou eerder die grofgeskut: rypgemaakte filet, gemaalde swartpeper, bloukaas, gemarineerde hoender, Kubaanse rum…

Want eet en drink, nes oorlog, is nie goed wat jy ligtelik aanpak nie.