Ek ry ’n 1969 Beetle genaamd Bloureier. Dis nog op my ma se naam, dus kry sy die boetekaartjies, wat darem nie te gereeld is nie. Bloureier was inderdaad blou toe ek haar jare gelede gekry het. Ek sê ‘haar’, want mense praat mos so van hulle karre. Ek beskou die kar meer as ’n ‘dit’, maar dan klink dit of ek nie lief is vir Bloureier nie. En ek is, al is sy strykdeur moerig van aard.

Bloureier was blou. Maar roes het kom nesskop en toe ek ná ’n jaar van oorsee terugkeer, was sy groen, so al asof my pa se John Deere en Bloureier te lank in dieselfde skuur gestaan het. Anderdag sien ek in die koerant hulle noem so ’n kleur ‘leefstylgroen’, wat dit ook al mag beteken.

Bloureier is dus nou groen met ’n babablou onderlaag wat deurslaan waar die roes al weer begin lek. Gelukkig bly ek wind-op van ’n motorhawe en Wayne daar (hy ken my bloot as mnr. Coetzer-met-die-Kewer en ek ken hom net as Wayne-van-die-garage) is al gewoond aan my ongeskeduleerde kuipebesoeke.

Op koue dae – soos anderdag weer –sukkel Bloureier om aan die gang te kom, dan gee ek haar die vryheid van die stad en laat loop haar berg-af tot sy vat. Wayne se garage is geleë net mooi waar die afdraande op raak. Daar gekom, sal Wayne die enjin probeer start en dan vat dit natuurlik onmiddellik – sonder uitsondering. Dan vryf ek maar my ken verleë en sweef verder in Buitenkantstraat af met my mank reier.

Bloureier het al baie gaan staan en my dikwels gebroke gelaat langs haar. Daar was ’n pragtige Sondagmiddag iewers tussen Bedford en Grahamstad se aalwyne; die N2 naby Kaapstad met ’n halwe rock-band op die agtersitplek; die N2 naby Bonteheuwel, waar ’n bendekinders, eintlik kleuters, my beroof het; die hoek van Stasieweg en Liesbeek Parkweg in Observatory; verskeie ander kere in Observatory; en meer as gereeld, reg voor my huis.

Op ’n slag tref ek haar daar aan met ’n pap wiel. G’n probleem, ek ruil dit gou om. Toe wil sy nie vat nie. Ek en sy loop toe weer bergaf en vra Wayne om asseblief die battery oornag te laai. Die volgendeoggend toe sy steeds nie wil vat nie, ontdek Wayne dat iemand die hele starter motor gesteel het – sorgvuldig.

'n Ander keer was die battery papper as Gerrie Coetzee se kakebeen, nadat ’n hawelose in die kar geslaap en die radio aan vergeet het. (Ten minste het hy goeie smaak gehad, want die naald was steedsop Radio 2000.)

EK WAS GENADIGLIK nog nooit in ’n ernstige ongeluk nie, ondanks die keer toe Bloureier se petrolpedaal in die middestad afgeval het. Daar was ook ’n ander wit-pupil-oomblik toe haar remme my in Main Road in die steek gelaat en ek ’n Golden Arrow-bus op die boud geraps het. Gelukkig het die busdrywer gedink dis baie snaaks en aangery. Maar ondanks sulke terugslae, is daar baie te sê oor die voordele van met ’n Beetle ry. Dis byvoorbeeld die beste motor om ’n meisie in te soen (dit was jare gelede).

Die sitplekke is knus en daar is g’n ongerieflike stukke plastiek in jou pad as jy oorleun nie. Jy kan jou been in ’n enkele beweging oorswaai passasierskant toe.

Geen ander kar gee jou soveel ruimte om die instrumentpaneel met snaakse snuisterye te versier nie: ’n Verweerde ‘I love you’-hondjie, ’n klein opgestopte kangaroe, ’n sleutelhouer uit Korea, ’n gekerfde palmsaad uit Outjo, ’n stukkie Prestik vir noodgevalle, ’n haarknippie wat ek onder die sitplek gekry het, ’n vigsstrikkie...

En in daardie holtetjie agter die agtersitplek lê vergete items uit ’n vae verlede: ’n Bottel water, ’n voorruitsonskerm wat nie pas nie, gereedskap vir wiel ruil, vuil karlappe wat ’n strandhanddoek was.

In my universiteitsjare het daar gewoonlik ook ’n paar bakstene agterin gelê. Ek het destyds gereeld ’n baksteen of twee op boupersele gegaps en vir my meisie present gegee. Sy moes dit solank bymekaarmaak vir wanneer ons eendag ’n huis bou. Helaas was daar teen die einde van dié episode nie eers genoeg stene vir ’n braaiplek nie.

Ja, Bloureier is ook ’n goeie plek om die blues te kry.

AS JY IN Bloureier ry, sit jy lekker diep in daai sitplek, dis asof jy wag vir ’n vis om te byt. Boonop is daar nie kopstutte nie, so ’n wedersydse arm om die skouers op die lang pad is glad nie vergesog nie.

As jy saamry, word van jou verwag om hardop saam te sing met Bob Marley, Bob Seger en watter ander Bobs ook al op Radio 2000 sing. Radio 2000 is onlosmaaklik deel van my motor. Die Blaupunkt se kassetspeler het lankal ingegee, maar draai daai plastiekknop die kant toe, deur die statiese spoelsand, verby ’n snars gospel en Lotus FM se vreemde geloei... en skielik vang dit Radio 2000 klokhelder op, reg in die middel van die palms, waar dit hoort.

Geen kar voel so bevrydend én gevaarlik om te bestuur as ’n Kewer nie. Dit voel altyd asof jy op ’n mespunt balanseer tussen die vredige ewige en ’n aanloklike hel, al jagende met sitplekgordels wat wie weet wanneer laas getoets is en ’n lekkende petroltenk wat met enige verdwaalde sigaretstompie vir jou en die onmiddellike hektaar om jou direk Delvillebos toe kan pos.

’n Beetle is die beste motor om ’n meisie in te soen. Die sitplekke is knus en daar is g’n ongerieflike stukke plastiek in jou pad as jy oorleun nie. Jy kan jou been in ’n enkele beweging oorswaai passasierskant toe.

Dis realiteitstelevisie vir mense wat nie ’n TV het nie.

Wanneer die dominee in die kerkpraat van glo, dan bedoel hy op dieselfde manier wat ’n mens in ’n Beetle klim en glo dat jy jou bestemming gaan haal. Dis soos om jou kop in ’n krokodil se oopbek te druk en te glo die donderweer gaan nie skielik dreun nie.

KAR WAS IS NIE my sterk punt nie. Ek glo in die helende krag van water, dus parkeer ek vir Bloureier buite, wag dat dit winter word en kry dan 30 karwasse binne twee maande – meer as genoeg vir die lang, droë somer wat voorlê.

Dan en wan ruim ek die kajuit op. Een slag het ek genoeg grond en industriële kompos (bestaande uit Ghost Pops en motors se ekwivalent van naeltjiedons) onder die plekmatjie aan die bestuurderskant uitgegrawe – veral in daai vergete Tuli-blok agter die pedale – om ’n tamatieplant mee groot te maak.

Ek’t al drie keer my sleutels in Bloureier toegesluit, elke keer in ’n openbare parkeerarea (anderdag op die Parade in Kaapstad, net voordat duisende stakende sekuriteitswagte daar verby is). Dis nie so groot krisis nie, want dis maklik om by ’n Kewer in the breek. Ek dwing die driehoekvenster aan die passasierskant effens oop, maak ’n lussie met my skoenveter en hengel dan tot ek die vensterknop haak. Dan maak ek die venster oop.

Niemand het my nog ooit probeer keer en gevra of dit my eie kar is waarb yek inbreek nie. Mense glo bloot dis joune. Dis dan ’n Beetle.

ONLANGS KRY EK ’n boek getiteld Is Your Volkswagen a Sex Symbol? present. Dis geskryf deur ’n sielkundige uit die 70’s met die naam Jean Rosenbaum. Sy foto pryk agterop, oorkruisgelekte kuif, pyp in die mond en daai sweempie-glimlag en skrefies oë wat net een ding sê: Kansvatter.

Maar dis ’n interessante boek, wat onder andere ingaan op wat jou motor omtrent jou verklap. Soos dit nou maar eenmaal in sielkunde gaan, word Freud gou bygesleep – party van Rosenbaum se redenasies sal vrouens gou laat dink aan babas en resepteboeke, en die mans laat hunker na ’n kragboor en veerpyltjies. (Meneer, ek sal jou maar dr. Rosenbaum se kommentaar oor jou motor met die afslaankap spaar.)

Maar Rosenbaum het ’n sagte plekkie vir Kewer-eienaars. (Hy’t dalk self eengery.) As jy ’n Volksie koop, sê hy, beteken dit dat jy ook ’n hele nuwe vriendekring kry: Ander Kewer-eienaars.

Daarvan kan ek getuig. Kyk, jy sal nie sommer twee Toyota Prius-bestuurders hoor toet vir mekaar op die N1 nie, maar Kewer-eienaars toet. (Ek moes egter Bloureier se toeter ontkoppel, want dit het spontaan begin blêr, onvoorspelbaar en onophoudelik.)

Beetle-mense wuif en wys vredestekens vir mekaar.

Volgens Rosenbaun is ons Kewereienaars “rasionele individualiste”, wat geen “geheime drange koester om Cadillacs, Thunderbirds of Continentals” te besit nie.

Reg so, Dok, maar hoekom droom ek snags van ’n Mahindra Bolero en ’n Hyundai Tucson? Of is dit net omdat dit klink soos die name van eksotiese vroue?

Orraait, vergeet dit, ek gaan julle vertel wat dr. Rosenbaum skryf van afslaankapmotors. Dit bevredig glo die “onderbewuste hunkering” van ’n man wat “jaloers is op sy verwagtende vrou en haar vermoë om ’n baba in die wêreld te bring”.

Jaaa, Meneer. U bestuur ’n baarmoeder. Gek!

Ek veronderstel Rosenbaum het blootdie feit geïgnoreer dat g’n kar meer na ’n nege-maande knobbel trek as ’n Volkswagen Kewer nie.

Nou ja, jy kan dus hergebore word deur ’n gebruikte (met ander woorde tiendehandse) Beetle te gaan koop, maar ongelukkig word geen nuwe Beetles meer vervaardig nie. Ek praat natuurlik nie van die nuwe geslag Beetle nie, want ’n mens praat nie daaroor nie.

Die laaste Beetle is in 2003 in Pueblo,Mexiko gebou met die jolige begeleiding van ’n mariachi-orkes, wat ’n nommertjie genaamd “The King” gespeel het.

Eendag wanneer Bloureier haar laaste pluimpie uitblaas, haar handrem laat sak en agteruit na die Volksiehemel wegrol, sal ek vir myself ’n bakkie koop.

Rosenbaum skryf niks oor bakkies nie, maar ek weet watter wense ’n bakkie bevredig: Mans se heel bewuste drang om koeie rond te karwei en oor grootklippe te jaag, terwyl meisies toekyk en hande klap.


Hierdie artikel is geneem uit ons argief. Alle inligting is onlangs nagegaan, maar feite en geite kon intussen verander het. Laat weet gerus as jy so iets raaksien - stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za