Noem my maar die Os du Randt van vleisbraai: Ek het jare se ervaring, maar is nie ’n flambojante braaier nie. Ek hou my oë op die rooster en probeer maar die basiese dinge reg doen. 

Ek is ook nie vitterig nie. Ek verkies wel hout bo charcoal , maar as daar op die ou end net kole is, is dit ook maar reg. Ná al die jare kan ek steeds nie besluit waar ek staan in die Groot Braaidebat nie: of jy jou vleis voor, tydens, of ná die braaiery moet sout. Ek strooi maar my soutjies hier in die middel van die verrigtinge rond. 

Ek het ook nie ’n ingewikkelde braaikontrepsie nie. Myne staan doodgewoon op vier pootjies, met plek vir ’n plat rooster. Ek het hom sommer by Shoprite gekoop. 

Trouens, ek sien jy kan deesdae selfs braaitoerusting by ’n vulstasie koop. En, ja, miskien sê dit alles van Suid-Afrikaners se braai-obsessie, dat braaigoed dag en nag te koop is, saam met ander noodsaaklikhede soos motorbatterye, bande, hoofpynpille, babakos en kondome. 

As jou braaier laat op ’n Saterdagaand inkonk ná ’n onverwagse Springboksege of op ’n Sondagmiddag tydens die vieringe ná ’n doopplegtigheid, kan jy afjaag na die vulstasie vir ’n nuwe een. 

Ons het deesdae selfs ’n Nasionale Braaidag: 24 September. 

Hoewel, in die buurt in Pretoria waar ek woon, is dit oënskynlik byna elke dag nasionale braaidag. 

Bloot op grond van die vleisreuk wat ná ses saans in die lug hang, kan ek min of meer vir jou sê watter dag van die week of maand dit in Pretoria is. 

Op ’n Saterdagaand, ná ’n Blou Bul-oorwinning (of naelskraapse nederlaag), hang die braaivleisgeur uiteraard die swaarste. 

So ook op die aand van die 15de dag van elke maand. Kyk, dit maak nie saak op watter dag van die week die 15de in Pretoria val nie, daardie aand hang die braaiwolke dik, want dis die dag waarop die staatsamptenare salaris kry.

VLEISBRAAI IS EINTLIK veronderstel om die heel eenvoudigste manier van kosmaak te wees. 

Jy maak ’n vuur, bring vleis, sit dit op die rooster en braai dit – maklik en eenvoudig, nes ons oeroupas dit al honderdduisende jare gelede gedoen het. Tog werk dit nie in die praktyk so nie. Ek het nou die dag in ’n boekwinkel vyf verskillende braaiboeke getel. 

En kyk maar hoeveel breinkrag en arbeidsure word ingespan met die ontwerp en bou van braaiplekke en -kontrepsies. Dit word gewoonlik met groter sorg aangepak as die argitektuur van die huis self. 

My vriend Steyntjie, byvoorbeeld, het vyf braaiers. Regtig. Om die waarheid te sê, Steyntjie se vyf braaiers kan ook dien as illustrasie van die evolusie van die Suid-Afrikaanse braaikontrepsie. 

Eerstens het hy daardie ou staatmaker: die middeldeurgesnyde 44 gelling-petroldrom op lendelam bene met vier klein wielietjies – die eerste mobiele braaiding in die land en die braaiwêreld se ekwivalent van die Model T Ford. 

Dan, naas die geboude braaiplek op sy stoep, het Steyntjie op ’n kol ook ’n kruiwa in ’n braaier laat ombou. En natuurlik het hy ook ’n ploegskaarbraaier, wat deesdae onder die seringboom langs sy motorhuis staan en roes. 

Dan is daar Steyntjie se trots en sy huidige gunsteling: die braaier wat hy self ontwerp en by ’n groot ingenieursonderneming laat maak het. Dis ’n indrukwekkende struktuur wat lyk na iets tussen ’n miniatuurgalg en -mallemeule; ’n tegnologiese prestasie op byna dieselfde vlak as die Vanstadensrivierbrug. Jy druk ’n hefboom na onder, dan begin knars daar allerhande katrolle wat Steyntjie se rooster vir hom help omdraai. 

My vriend Steyntjie, byvoorbeeld, het vyf braaiers. Regtig. Om die waarheid te sê, Steyntjie se vyf braaiers kan ook dien as illustrasie van die evolusie van die Suid-Afrikaanse braaikontrepsie.

Dis iets wat my interesseer, want hoe moeilik kan dit werklik wees om ’n rooster met vleis om te draai? Tog is daar ouens wat pal op soek is na nuwe maniere en tegnologie om dit makliker dit doen, amper asof dit ’n probleem is gelyk aan die soeke na ’n teenmiddel vir verkoue. 

Dit is omdat vleisbraai vir party mense gaan oor veel meer as, wel, die blote braai van vleis. Dis ’n ritueel waarmee party mense hulle vindingrykheid en oorheersing oor die natuur vier. 

Ouens soos Steyntjie is die Osama bin Ladens van vleisbraai. Hulle is gedrewe, amper obsessiewe braaiers wat hulle eie toerusting prakseer en hulle eie speserye meng. En om hemelsnaam, moet onder geen omstandighede probeer om hulle enige braairaad te gee nie. 

Dis mos maar wat ons almal doen wanneer ons om die vleisbraaivuur vergader. “Die vleis lyk vir my reg,” sal een skugter sê. Dan sal ’n ander een sê: “Hulle kan nog so ’n bietjie gaan.” 

En dan, terwyl hy midde-in ’n rookwolk met die rooster stoei, sal ’n ou soos Steyntjie sê: “Moenie op my hand praat nie, okei.” 

Ons almal het al ’n Steyntjie in aksie gesien. Hy beheer die ruimte rondom die braaier soos Muhammed Ali ’n bokskryt beheer het. 

Tussendeur gee hy braailesse. “Ek braai net met hardekool,” sal hy sê terwyl hy ’n hardekoolstomp op die vuur gooi. Of: “Jy moet jou hand net sewe sekondes bo die kole kan hou, dan is hy reg om te braai.” 

Dit is ook deel van die Groot Braaidebat: Wanneer presies is die kole warm of koud genoeg vir die braaiery om te begin? Op Alldays in die Bosveld het ek ’n ou gesien wat letterlik sy arm se plat kant tot teen die kole bring. Te oordeel na die manier waarop sy armhare geskroei is, besluit hy dan of hy kan begin braai of nie. 

Ouens soos Steyntjie glo ook onwrikbaar aan ’n bepaalde slaghuis se steak, tjops of wors. Hulle koop ook dikwels nie al hulle vleis by dieselfde slaghuis nie. Steyntjie glo sy wors moet van daardie bekende een op Grabouw af kom. Almal moet vir hom wors van Grabouw aanpiekel Pretoria toe. 

Ek is seker as ek môre vir Steyntjie sê ek gaan Kazakstan toe, sal hy vra: “Jong, kan jy nie vir my wors van Grabouw af saambring nie?” 

En hoeveel keer het Steyntjie nie nou al sy braaitang, so ’n lange met ’n driehoekige punt, gewys en gevra nie: “Weet jy wie’t hom ontwerp?” 

En nog voor ek kan antwoord, sal hy in ’n effens vertroulike stemtoon sê: “Die ingenieur wat die Rooivalkhelikopter help ontwerp het.” 

Dié ou het volgens Steyntjie glo ’n Krygkor-pakket gekry en ’n miljoenêr geword uit daardie tange.

Ek is seker as ek môre vir Steyntjie sê ek gaan Kazakstan toe, sal hy vra: “Jong, kan jy nie vir my wors van Grabouw af saambring nie?”

VIR MY MOET minstens drie dinge geld voor ek sal vleis braai. 

Een: Daar moet darem ’n okkasie wees. Iets soos ’n WP-oorwinning of ’n viering van ’n verjaardag (as dit net van die WP afhang, sal ek maar min braai).

Twee: Daar moet gaste wees.

En drie: Daar moet ordentlike vleis wees. 

Maar dís nie alle vleisbraaiers se benadering nie. Party braai nie omdat hulle wíl braai nie, dis asof hulle om die een of ander sielkundige rede móét braai. 

Noem hulle sommer die all weather -braaiers. Jy sien hulle onder peperbome by stilhouplekke langs die pad, op die dak van woonstelgeboue, in die parkeerterrein van fabrieke, en langs Opel Astras met oop bagasiebakke agter in polisiekantore se erwe. Dit kan sneeu, reën of wat ook al: Hulle braai – onder sambrele of met ’n reënjas oor die kop. 

Ek leef, daarom braai ek, is hulle filosofie. 

My buurman is so ’n obsessiefkompulsiewe braaier. 

Ek het al gesien hoe staan hy alleen op ’n stormagtige middag en braai drie kafeetjoppies met ’n duikbril op om sy oë teen die dwarrelende rook te beskerm terwyl Worsie Visser sing. 

Hy is boonop ’n Sondagaandbraaier. Hulle is anders as die res. Terwyl hulle braai, dink hulle na oor hulle sondes van die naweek en die moontlike nuwes wat voorlê. 

My vriend Fanie is een van hulle. Hy stuur soms vir my ’n SMS terwyl hy braai. “Ek is bekommerd,” het ’n onlangse een gelui. “Ek het gisteraand in my dronkenskap ’n skoot met my rollie afgevuur.”

SO KAN ’N MENS al die verskillende vleisbraaiers en hulle gewoontes beskryf. 

Een ding interesseer my. Hoekom neem so baie mense wat vleis braai, nooit ’n skottel of bak saam na die braai toe nie? 

Deesdae is daar ook ’n nuwe braaispesie: mense wat hulle vleis of sampioene of eiervrugte op ’n Weber braai. Hulle noem ek die Nataniëls van die braaiwêreld. Party gooi selfs kruietakkies in die kole om die vleis glo meer geur te gee. Dalk werk dit, ek weet nie. 

Ek is doodtevrede om die Os du Randt van vleisbraai te wees.