Ja, Planeet Aarde, ek’s daai ou in die parkeerterrein wat vir ’n uur lank my kar laat luier sodat my twee kosbare bloedjies in lugversorgde gemak aan die slaap kan dommel. Dis nie vir my lekker om die aarde hierdie ékstra bietjie te besoedel nie, maar dis my lááste toevlug wanneer die klein terroriste nie wil slaap nie.

Die bababoeke (wat elke jong ouer voos lees) skryf voor dat jy vir Baba “lomerig maar nog wakker” moet neerlê om te slaap.

Maar watse raad is dít?! G’n baba (en veral nie ons s’n nie) maak vrywillig ogies toe nie – en beslis nie bedags nie.

Ek en my vrou, Jess, het al alles probeer: Sagte speelgoed wat een of ander strelende musiek speel, toegetrekte gordyne, daai boek wat veronderstel is om Baba te hipnotiseer wanneer jy daaruit voorlees, en selfs ’n binnenshuise slaaptentjie! Niks het gewerk nie. Die enigste betroubare manier om die kinders ’n uiltjie te laat knip is om hulle in hulle sitplek vas te gordel en ’n draai te gaan ry.

Aan die begin het ons onsself net tot hierdie taktiek gewend wanneer ons desperaat is. En omdat ons desperaat was, was dié “slaapritte” net nog ’n dagtaak wat afgehandel moes word – ’n vervelige een ook, want ons het maar basies al om die blok gery, of gaan staan en luier in die winkelsentrum se parkeerterrein.

Maar eendag het ek die lig gesien. Ek’t besef dat ek net die volgende paar jaar van kinders grootmaak gaan oorleef indien ek my lot aanvaar en iets meer opwindends met die slaapritte doen. Ek het besluit om nie net sirkels deur die buurt te ry nie, maar nuwe afdraaie te vat en strate en paaie te ry waar ek nooit andersins sou ry nie. Ek sou liewer by ’n mooi uitkykpunt gaan luier as in die parkeerterrein van die winkelsentrum.

Boonop sou ek die kinders se Barney- en Majors for Minors-CD (spreekwoordelik) by die venster uitgooi en die kinders leer om aan die slaap te raak op die maat van musiek waarvan ék hou.

Die slaapritte het pret geword, veral in vakansietyd wanneer ek distrikspaaie kon ry en nuwe plekke kon ontdek. Die Overberg is ’n goeie voorbeeld. Op slaapritte hier het ek by Sieverspunt op Hermanus sit en kyk hoe walvisse baljaar in Walkerbaai, en my vergaap aan Suid-Afrika se vreemdste strandhuis-argitektuur (roubaksteenkastele!) in Sandbaai. Ek het al Stanford toe gery net vir ’n koppie koffie en iewers tussen Onrus en Vermont ’n piepklein voëlreservaat uitgesnuffel.

Peter Slingsby se padkaart van die Overberg dui die roete na Tesselaarsdal naby Caledon aan as ’n mooi roete om te ry, en een reënerige wintermiddag kring ek uit soontoe op ’n slaaprit.

Tesselaarsdal is verder as wat ek verwag het, en die paaie modderiger as wat ek kon raai. Met elke kilometer wat ek verder weg van Hermanus gery het, het my vrees gegroei: Wat as die kinders nou wakker word en blou moord skree al die pad huis toe?

Maar hulle het blykbaar die ritme van die grondpad se kinkels en knikkies geniet. Die geluid van reëndruppels teen die ruit was seker strelend, want hulle het vas geslaap.

Terwyl hulle liggies gesnork het, het ek dit gate uit geniet.

Ek het skape en perde laat verbykom, ons Renault Duster se 4x4-vermoë uitgetoets toe ek deur ’n stroompie moes ry en uiteindelik vir Tesselaarsdal te siene gekry (ek’s bevrees daar’s nie veel te siene nie!).

Toe die seuns wakker word op pad terug huis toe, het hulle geglimlag – maar my eie glimlag was veel breër.

Dis natuurlik nie altyd maneskyn en rosegeur nie. Op vakansie in die Drakensberg, nog voor baba nommer twee gebore is, moes ons die huurmotor aan die voet van ’n steil bult parkeer, naby die hotel se ingangshek. ’n Vinnige slaaprit was dus onprakties, maar Sy Majesteit Elliot het steeds beweging gesoek om aan die slaap gesus te word. Die enigste opsie was om hom in die staprugsak vas te gord en ’n voetslaanpad aan te durf.

Dit het soos ’n droom gewerk – vir Elliot. Maar vir Pa was dinge minder lekker, want om met ’n 15 kg-kind op jou rug deur die Drakensberg te suiker is ’n waarborg vir rugpyn.

Ek’ t op my tande gekners en deurgedruk. Elliot het sy dagkwota slaap-ure ingekry en ek’t deur inheemse bosse gewandel en teen yslike opdraandes uitgeklouter terwyl aasvoëls stadig bo my begin draai...

Deesdae is een kyk na die staprugsak genoeg om my ’n spasma te gee.

Genadiglik is die meeste uitspanplekke meer geskik vir slaapritte.

Ek het seker al elke straat in Uvongo en Margate aan die KwaZulu-Natalse Suidkus verken, die goeie teerpaaie, die teerpaaie vol slaggate én die grondpaaie – wat later distrikspaaie raak as jy die vakansiewoonstelle agterlaat en die plotte en later hutte in die heuwels binnery.

‘Ek en my vrou, Jess, het al alles probeer: sagte speelgoed wat een of ander strelende musiek speel, toegetrekte gordyne...’

In Johannesburg het ek al snaakse lusse gery deur sekerheidswoongebiede. Ek is seker die inwoners – sou hulle deur hulle gordyne vir my loer – het al meer paranoïes geraak met elke slag wat ek weer voor hulle huis verbyry. Wat máák dié verdagte ou in ons buurt?

Op Greyton het ek al in lane afgery met poskaart-platteland in elke rigting, kompleet met perde in perfekte krale en bloukraanvoëls wat die aarde bestryk soos modelle op ’n loopplank. Een slag het ek van Plet gery na Wittedrif, ook net om te kyk wat daar aangaan. (Soos Tesselaarsdal, nie veel nie.)

My gunsteling-slaaprit was by Witsand teen die monding van die Breërivier. Dit was in die nag – ons was met ons hande in die hare. Elliot was so op hol met die nuwe klanke en kleure van die gehuurde vakansiehuis (en Oupa se ry visstokke, gereed vir ’n vroegoggend-aanslag op die Breërivier se gespikkelde knorder) dat hy botweg geweier het om sy oë toe te maak en rustig te raak.

Dit was al ná elfuur toe ek hom in die kar sit en begin ry – en ry en ry. Die dorpsligte het in die truspieël verdwyn en die teer het grond geword. Later, op ’n verdwaalde paadjie teen die rivier, het iets ongeloofliks op die horison verskyn: ’n volmaan, wat die wêreld om my deurspoel het met ’n dromerige silwer lig. Ek het omgedraai om te kyk of Elliot ook sien wat ek sien, maar hy was reeds weg.

Ek het van die pad afgetrek en die ligte afgeskakel en net daar gesit in die wonderbaarlike lig. Ek het gevoel soos die laaste wakker mens in die ganse Suid-Kaap.

Nou die dag, net ná middagete, gee ek vir Elliot sy bottel melk, gereed vir slaaptyd. Maar toe ek hom sê om saam te kom kar toe vir ons daaglikse slaaprit, kyk hy na my en sê: “Nie ry nie, Pa. Slaap in bed.” Stomgeslaan het ek hom in die bed gaan sit, waar hy sy bottel gedrink en spoedig aan die slaap geraak het.

Skielik was ek half teleurgesteld. Maar gelukkig is daar nog Elliot se kleinboet, Francis – en hy’t nog my bestuursvernuf nodig.

* Hierdie artikel het oorspronklik in Weg van September 2016 verskyn.