En soms werk dinge uit en sweef jy vir ’n rukkie op ’n wolkie met ’n kêrel of meisie aan jou sy, maar die meeste van die tyd gaan snik jy maar saans in jou kopkussing omdat jou lewe, nét joune, so ’n ramp is. 

’n Vakansieromanse in ’n kampterrein langs die see of warmbron mors nóg meer met jou emosies en hormone, en vir ’n kort tydjie glo jy dan jy het die jackpot geslaan. Ons gesin het elke somervakansie by Mosselbaai gaan kamp en ek het mettertyd maats geraak met die kinders van die ander mense wat rondom ons gekamp het. 

So gebeur dit dat ek eendag saam met ’n klomp kampvriendinne afsit Diazstrand toe om te gaan tan. Natuurlik het ons strategies naby aan die touch rugby-wedstryde gaan lê, want van agter jou sonbril kan jy die talent op die strand lekker deurkyk voordat jy op een van die rugbybrekers besluit en dan subtiel begin flikkers gooi. Of altans, dit is die teorie – ek het nooit dié kunsies vervolmaak nie. 

’n Sokkie is die begin van vele vakansieromanses, maar dit hang af by watter tipe danser jy beland.

Ná ’n paar uur in die son het ons opgestaan om in die branders te gaan duik. Omdat ek kontaklense dra, moes ek noodgedwonge my swembrilletjie opsit en ons was skaars in die branders toe ’n surfer op sy branderplank nader roei en ’n geselsie aanknoop. Hy vra toe iets wat ek nie mooi kan hoor bo die gedruis van die water nie, maar ek neem toe aan hy wil, soos die meeste mense, weet of ek altyd met die verspotte brilletjie moet swem. Ek pak toe my mooiste glimlag uit en antwoord: “Yes, because I wear contact lenses.” 

Want alle surfers is mos Engels. 

Hy het my met ’n diep frons agter sy verbleikte kuif aangegaap en sonder ’n verdere woord omgedraai en weggeroei – duidelik nie beïndruk met meisies wat kontaklense dra nie. Dis eers nadat my vriende ophou giggel het dat hulle kon verduidelik die surfer het eintlik gevra wat my naam is. 

’n Mens hou later op om te hoop iemand gaan jou raaksien, en dan hang jy maar net saam met die groep rond om jou ongemak in seuns of meisies se geselskap ’n bietjie agter die ander se bravade te kamoefleer. 

So het ek ook maar saans saamgedrentel sokkie toe, waarvan daar baie was, want byna elke kampterrein in die Suid-Kaap het ’n “ontspanningsaal”, en elke “ontspanningsaal” word oor Desember-vakansies in ’n dansplek omskep. Die platejoggie is dan gewoonlik ’n plaaslike lat met ’n groot versameling Bonnie Tyler- en Air Supply-tapes, en hy het stuk-stuk luidsprekers en kabels aangeskaf totdat hy sy dienste as “Sir Round Sound” op sy Nissan 1400 se deur kon bemark. 

’n Sokkie is die begin van vele vakansieromanses, maar dit hang af by watter tipe danser jy beland. Onder die ouens is daar gewoonlik net twee soorte: die Verbete Danser en die Talentlose Danser. 

Die Verbete Danser is die grootste gevaar. Dit is die een met die ingesteekte blokkieshemp wat sommer al vroegaand sy skoene iewers in ’n hoek uitskop en die woord “sokkie” ter harte neem. Die laserligte van Sir Round Sound gee dan aan sy wit tennissokkies so ’n glimmende pers tint wat jy van oorkant die dansbaan kan sien op en af wip, soos twee radioaktiewe hasies. 

Dié danser se doelwit is nie ’n soen aan die einde van die aand nie. Nee, hy is slegs hier om, soos David Kramer sing, te “dans tot sy hemp uithang”. Soms is die Verbete Danser wel aantreklik, maar jy kan daarvan vergeet om geselsies te maak terwyl julle teen dubbeltempo oor die vloer gly – al klank van sy kant af is die harde asemteue deur sy neus. Maar slegs deur sy neus, want hy’s mos dansfiks. 

Die Talentlose Danser is die knaap wat sy bolyf met elke tree heen en weer wieg. Hy kan nie two-step nie en het in die meeste gevalle ook nie ritme nie. Hy steier bloot met sy dansmaat oor die lengte van die dansvloer, maak dan ’n ongrasieuse draai in die hoek en stryk dan weer aan. 

Die suksesvolste karavaanpark-Don Juan is die ou wat al die danspassies ken, maar dit heel terloops uitvoer. En juis omdat hy niemand probéér beïndruk nie, val die meisies vir sy sjarme. Dit is met só ’n danser wat ek toe die jaar ná die surfer by ’n sokkie te doen kry. 

Sy naam was Hardus en sy hare was so ’n aks langer as die skoolseuns s’n. Hardus het my nonchalant vir ’n dans gevra en toe die res van die aand keer op keer teruggekom. Hy het pas sy eerste jaar aan die landboukollege agter die blad gehad, en my vertel van sy vakke met name soos pluimveeproduksie. Toe hy later ongeërg sy arm laer skuif en sy hand op my heup laat rus, het ek skielik besef “ouer mans” is my soort en begin visioene kry van ’n plaaslewe met my eie groentetuin en ’n werf vol swart Australorps. 

Toe Europe se “Final Countdown” die einde van die sokkie aankondig en die saal se buisligte aanflikker, het Hardus se soen my heel onkant betrap. 

Die “hoenderboertjie”, soos my pa hom genoem het, het daarna elke dag by ons staanplek opgedaag en my saamgeneem sokkie toe, strand toe, fliek toe. Ek het nie meer die sekuriteit van die groep nodig gehad nie en vir die eerste keer my naels begin verf. My ouers het wel geweier dat ek een middag saam met hom en ’n paar kollege-pêlle Knysna toe ry. Terwyl ek die res van die middag saggies in die ablusieblok daaroor getjank het, het ek sommer ook uit pure rebelsheid met Cutex ons twee se voorletters binne-in ’n hartjie agter een van die toiletdeure geverf. 

Die dag toe ons moes huis toe gaan, was dit ook ’n tranedal van epiese afmetings. Hardus het belowe ons kan vir mekaar skryf en het ook ’n entjie saam met die kar gedraf totdat my pa aspris buite die kampterrein se hek begin vetgee het. Ons was skaars by die huis of ek het met my eerste dik brief begin. Die aand het Hardus van die tiekieboks in die kampterrein af gebel en gesels tot hy nie meer kleingeld oorgehad het nie.

Die skoot was hóóg deur. 

Maar ná ’n paar maande het ons al twee se briewe dunner geword en Hardus se kleingeld ál minder. Soms het ek die gangfoon in sy koshuis gebel, maar dan het die student aan die ander kant altyd gesê Hardus is nie beskikbaar nie. My matriekjaar het aangestap, en toe ons daardie Desember weer op Mosselbaai kamp, het ek nie gedink ek sou Hardus daar raakloop nie. 

Maar hy was wel by die sokkie. Toe ek vra of die kollege nog lekker is, het hy iets gemompel van “eerstejaar gedop en terug op die plaas” en oor my kop heen ’n jonger meisietjie gesoek om mee te dans. 

Ek is daardie aand nog voor die “Final Countdown” terug karavaan toe. En het nie my kopkussing natgehuil nie.

Onthou: Jy kan ook na van ons rubrieke in podcast-formaat luister, voorgelees deur die skrywers self. Klik hier vir nog inligting.