As jy in die nag ’n lugfoto van ’n woonwapark sou neem, sal die staanplekke soos ’n snoer ligkringe lyk wat tussen die bome deur kronkel. In die middel van elke ligkol sal ’n wasige rookwurmpie dwarrel waar die braaivleisvuur brand. En op die rand van elke ligkol sal jy mense se bene en die bokant van hulle kop sien, waar hulle op hulle kampstoele sit en kuier.

Maar die eintlike lewe in ’n woonwapark is net-net buite die ligkringe: In die donker stroke tussen die woonwaens en tente, onder die kameeldoringbome, by die swembad of trampolien.

Dís waar alle tieners wat hulle sout werd is, rondhang, met of sonder hulle ma en pa se goedkeuring.

Daar sluip hulle rond in klein bendes – seunsbendes, meestal – wat skelmpies hier en daar ’n tentpen uittrek of ’n gesmokkelde blikkie bier vir mekaar aangee. Maar eintlik is hulle op soek na ander groepies soos hulle, veral meisies.

As jy stil sit by jou vuur, hoor jy hulle verbykom, ’n joligheid wat in die donker verby sweef en dalk ’n geproes as iemand oor ’n tenttou struikel.

En jy onthou dat jy nie te lank gelede nie self deel was van so ’n groepie.

IN ST. 7 EN 8 was dit asof al die meisies in ons klas elke vakansie aan die Suidkus of by Warmbad ’n nuwe “ou” ontmoet het. En hulle het seker gemaak ons seuns hoor daarvan.

Hulle het die stories oor hulle vakansieromanses nooit reguit vir ons vertel nie. Nee, hulle het met groot gebaar en effentjies harder as wat nodig was, vir mekaar vertel van Darryn, Mark, Sean of Brent. G’n meisie het mos ooit ’n vakansieromanse met ’n Wimpie, Manus of Albertus nie.

Ek was veral droëbek toe my beste vriendin, Lientjie (op wie ek heimlik verlief was), ná ’n lang somervakansie begin borrel het oor ’n Brit met die naam Chris, oftewel “Chwrisss”, soos sy dit uitgespreek het.

Sy’t vir haar vriendinne in kleur en geur vertel hoe sy in Mtunzini se woonwapark in die nag uit die tent geglip het om hierdie bleekbeen op die strand te ontmoet vir… wel, wat ook al. 

Sulke stories het ons seuns nogal gekrenk en ons het ons eie eksotiese vakansiestories probeer opmaak, maar niemand het ons eintlik geglo nie.

Tog, ’n vernederde man is ’n desperate man. Ek moes eenvoudig op een of ander manier vir Lientjie wys dat haar koue skouer ’n onbenullige voorval in my lewe was. Hoe doen ’n mens dit? Deur ’n ander meisie te kry – ’n vakansieromanse – met iemand met ’n naam soos Candy, Tracy of Kim.

My kans het gelukkig gou gekom toe my pa vir die Paasnaweek ’n staanplek by Loskopdam bespreek, sowat twee weke die toekoms in. In dié tyd moes ek my planne agtermekaar kry en my tegniek slyp.

Gelukkig was daar genoeg vriende wat wou raad gee. Veral een ou, Vossie, ’n karavaanpark-Don Juan, het my met praktiese voorstelle gepeper oor hoe ’n mens ’n karavaanparkmeisie, wel, in die hande kan kry.

My beste kans op sukses, volgens Vossie, sou wees om die Loskopdam-woonwapark se “alfamannetjiegroep” op te spoor en my by hulle aan te sluit – ’n groepie skarminkels wie se pa’s amper elke naweek kom visvang of met hulle bote kom rondjaag het.

Sulke stories het ons seuns nogal gekrenk en ons het ons eie eksotiese vakansiestories probeer opmaak, maar niemand het ons eintlik geglo nie.

Hierdie ouens is die locals en regeer die karavaanpark ná sononder soos ’n troppie hiënas op soek na ’n prooi, het Vossie vertel.

Hulle tegniek om meisies op te spoor is eenvoudig dog doeltreffend. Hulle hang bloot rond op die plek in die park waar die meeste meisies gaan verby stap en sit ’n ghetto blaster met lekker musiek daar neer.

En dan staan hulle net daar, miskien met ’n sigaret wat nonchalant uit ’n mondhoek hang en iewers in die groepie ’n bier of twee uit ’n pa se koelboks.

Om die een of ander rede is dit onweerstaanbaar vir meisies.

Maar dit sou nie vir my werk nie, want die kanse was maar skraal dat ek in die bestek van ’n langnaweek die binnekring van so ’n bende sou haal.

Vossie was reg met plan B: Wees bloot verblindend koel.

Destyds, toe ek 15 was, het dit daarop neergekom dat jy “snowwashed” jeans moes dra – daai lawwe witgebleikte jeans wat Steve Hofmeyr nog tot laat in die jare negentig gedra het – met sulke wit plastiekstewels.

Gypseys, onthou jy nog? Des te koeler as jy ’n skaatsplank by dié mondering kon voeg.

Maar ek het dié benadering reeds een keer sonder welslae in st.5 op die proef gestel toe ons vakansie gehou het by TOStrand, doer suid van Margate. (Dit is ’n strandoord spesiaal vir onderwysers en jy het die woorde “meneer” en “kollega” nogal baie om die kampvure gehoor.)

Ek was smoorverlief op Melanie, ’n meisie wat naby ons gekampeer het. Ek het elke dag met my volle koel-mondering heen en weer voor hulle karavaan geparadeer in die hoop dat sy met my sou gesels. Maar vergeefs – dalk omdat ek nie wafferse balans op ’n skaatsplank gehad het nie, dalk omdat sy my nooit gesien het nie, wie weet?

Laastens het Vossie voorgestel ek hang by die skottelgoedwasbakke uit totdat die meisies met die ontbytskottelgoed aankom, en dan sjarmant aanbied om hulle te help was. 

Maar só desperaat was ek wragtag nie. ’n Man het sy trots. 

AL VOSSIE SE raad het deur my kop gemaal toe ons uiteindelik die dag die stutte van my pa se woonwa laat sak en die penne by Loskopdam inkap.

Ek en my boetie het swembad toe gedwaal. En net daar teen ’n paal was ’n plakkaat met die oplossing: ’n Sokkie! ’n Dans die aand in die ontspanningsaal. 

Die groepie locals waarvan Vossie gepraat het, was waarskynlik nie goeie dansers nie en hulle sou boonop laat opdaag om ’n koel entrance te maak.

Daag dus vroeg op, het ek gereken, hou jou oë oop en stel jou voor met soveel sjarme as wat jy kan bymekaarskraap.

Ek het my boetie saamgesleep sokkie toe sodat ek darem nie alleen en desperaat sou lyk nie. Ons was vroeg op ons pos, en die hele proses het eintlik veel gladder verloop as wat ek ooit kon droom.

Net ná sewe, op die maat van die Waterboys se “Whole of the Moon”, het sy ingestap en eenkant op ’n stoel gaan sit. Sy het ’n jean aangehad en een van daai Amerikaanse basketbalbaadjies met die groot M op, en sy’t ligbruin hare gehad wat sy in ’n soort borrel agteroor vasgesteek het, soos wat oulike meisies in 1986 gedoen het.

Nou of nooit, het ek gedink en nader gestap om haar te vra om te dans. Toe sy ja sê, het nie eens die draadjies aan haar tande my gepla nie.

Nadat ons so ’n entjie gedans het, effens stokkerig, het ek gevra wat haar naam is. Dit was helaas nie Candy, Tracy of Kim nie – maar darem ook nie Leonora of Petronella nie. Haar naam was Geraldine. Ek was baie bly dat ek nie een van Vossie se truuks met haar probeer het nie, want sy was slim en vriendelik en oulik.

Sy’t musieklesse geneem en van Sting se musiek gehou en sy wou ’n dokter word, en ja, sy sou graag die volgende oggend saam met my oor die dam roei.

Later die aand het ons langs die swembad gaan sit met ons voete in die water en land en sand gesels. Toe sy later moes loop om voor elfuur by hulle chalet te wees, het ek haar gesoen. Net so ’n betaamlike klein piksoentjie.

DIE VOLGENDE OGGEND toe ek vir Geraldine by hulle chalet gaan haal vir die romantiese kanovaart, sien ek ’n nuwe Mercedes in die oprit. Ek besef ek moes eintlik die bootjie vroeg die oggend al afgedra het water toe, want dit lê tussen ons ou Sprite-karavaan en my pa se Chev-stasiewa, wat in motorjare sekerlik al honderd was.

Maar Geraldine was die ene sonskyn en ons is daar weg. 

Vat dit nou maar van my: As jy ’n meisie uitnooi vir ’n aktiwiteit, gaan oefen eers op jou eie voor die tyd, want rugbyfiks is nie roeifiks nie en Loskopdam is ’n breë stuk water. Maar ek het die oorkant gehaal, weliswaar bloedrooi in die gesig.

Daar het ons tussen die kameeldorings gesit, toebroodjies geëet en koffie uit ’n fles gedrink. 

’n Kuifkophoutkapper het iewers in die verte op een noot getjier en ’n visarend het geduldig teen die vlieswolkies gewag. Ná ’n rukkie het ’n troppie koedoes ’n entjie van ons af kom suip.

“Weet jy wat, Geraldine?” het ek gesê. “Ek verjaar vandag.” Ek moes dit net met iemand deel. Sy’t begin lag, en vir ’n hele ruk aangehou. Toe sy tot verhaal kom, sê sy vir my: “Ek ook! Ek verjaar ook vandag.” 

Ek het nooit vir enigiemand in die klas van Geraldine vertel nie. Ek het nie eens by Lientjie met haar probeer spog nie. En eendag gaan ek terug Loskop toe om weer oor daai dam te roei en op daai klip te gaan sit. Ek twyfel egter of ek so sterk sal wees soos toe ek daardie dag teruggeroei het woonwapark toe.

* Lees ook Sophia van Taak se rubriek “Kalwerliefde in die kampterrein” hier


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep # 5 (November 2007) verskyn.