Op die oewer lyk dit kompleet of ’n Dulux-verffabriek ontplof het: Die tentdorpie langs die water is in elke kleur van die reënboog getooi. Pienk, lemmetjiegroen en kanariegeel voer vanjaar die botoon.

Dis tyd vir die jaarlikse Up the Creek-musiekfees, en as jy nie die Vrydagmiddag vroeg al jou stukkie grond afsteek en jou tentjie oopgooi nie, kiep jy vanaand op gras langs ’n rivier waar honger muskiete met agterente so groot soos rooi Spur-ballonne die wêreld patrolleer.

Die tentjies wat hier staan, dra die letsels van jare se geluk én ellende. Dis seker maar merke van stormagtige dae aan die KwaZulu-Natalse kus, winde in die Kaap wat die landsvlag voor Hermanus se polisiestasie soos ’n sweep kan laat klap, of die humiditeit in Mosambiek wat sy tol geëis het. 

Die tentjies wat hier staan, dra die letsels van jare se geluk én ellende...

Hier eenkant in die kampterrein baklei ’n ou en sy meisie oor hulle K-Way-tentjie se ritssluiter wat by ’n vorige fees afgebreek het en nou nog nie reggemaak is nie. “Kan jy sowaar nie onthou wat by die ander fees gebeur het nie?! Die zip was toe óók áf!”

’n Klipgooi van hulle af sit twee fris ouens met Maoriese tatoeëermerke op elke skouer en maak roereier in ’n skottelbraai, bier in die hand. Die diepbruin van hulle geskroeide vel en die wit van die sonbrandroom meng saam en laat hulle amper pers lyk. Hulle viermanseiltent, waarin net die twee van hulle slaap, staan stokstyf. Nie eens ’n orkaan wat hierdeur swiep, gaan sy bene laat bewe nie.

Eenkant krepeer ’n langwerpige ligblou tentjie uit die jare tagtig. Dis een van daai wat jy nog met dik, swaar staalpale opslaan. Dit lyk asof die arme ding op eie stoom hier aangekom het, of met die vorige fees vergete agtergebly het, want daar’s geen siel in sig nie.

Albei sy ritssluiters het die gees gegee en iemand het die tentflap met haakspelde toegesteek.

Vergeleke met ander feeste is dié een maar klein – ongeveer 2 000 siele – maar by elke fees, groot óf klein, word ’n uiteenlopende klomp mense vir ’n naweek saamgesnoer. Tandartse, studente, rabbedoes, prokureurs, fotograwe, dokters, doktore, ingenieurs en skrynwerkers leef, eet en was hier in dieselfde tydelike kampkommune.

Vreemdelinge kuier soos ou vriende sonder sondeval, hulle maak grappies, vuur en kos, leen oor en weer bier en tandepasta. Maar hier by ’n musiekfees is dit ook waar jy vinnig die kamp-hardebaarde van die alledaagse feesganger onderskei.

Vreemdelinge kuier soos ou vriende sonder sondeval, hulle maak grappies, vuur en kos, leen oor en weer bier en tandepasta.

Die kampeerders wat hier tent opslaan, is ’n mengelmoes van mense. Hier’s rockers wat nog van Koos Kombuis praat as André Letoit en elke Voëlvry-konsert in die jare tagtig bygewoon het; spiertiere wat lyk of hulle ’n Volksie kan gooi; en heilsame gesinnetjies – ouers met klein kinders op hulle skouers wat tóégesmeer is met sonroom – wat wieg op die maat van ’n Piet Botha-liedjie.

’n Mens sien nie regtig ouers met tieners nie… Of dit die skuld is van die grootmense wat hulle lyf tiener wil hou, of van tieners wat hulle lyf grootmens wil hou, weet niemand nie.

Die jonger feesgangers is self ’n uiteenlopende klomp. Tengerige branderryers met gebleikte strooihare talm die meeste van die tyd by hulle eenmantentjies, bulletjies wat sak in die skrum vir hulle universiteit se rugbyspan, is altyd bedrywig in die rivier met ’n Castle Lite in die hand en ’n Oakley-donkerbril op die kop.

Hulle het ook die indrukwekkendste opblaastjoeps, en selfs ’n tou vasgemaak aan ’n koelboks wat langs hulle op die rivier dryf. ’n Paar manne braai wors op ’n braai wat dryf. Die “Boerieblimp”, noem iemand dit later.

Die onderste deel van die kampterrein, nader aan die water, is vir tentkampeerders bedoel, terwyl die boonste deel, ongeveer 200m bult-op teen die koppie, vir ouens is wat hulle voertuig vir kamp wil inspan – daktente, woonwaens, Kombi’s... dié klas van dinge. Hiér hang daktente saans in die skemerlig soos enorme Chinese lanterns. As jy soggens uit een van hulle oor die boonste kampplek tuur, lyk die bakkies en Kombi’s se dakke soos bolwolke hier onder by jou voete, amper asof jy ’n paar duisend voet in die lug by ’n vliegtuig se venster uitstaar.

Eendag gaan ek só ’n ou Kombi koop en dit in ’n gerieflike kampwaentjie omskep. Miskien eendag wanneer my skip inkom. Ek kan dan aftree, my hare laat groei en saam met my vrou deur die land toer met die Kombi. Net soos die ouens van ’n band, wat ek tien jaar gelede die eerste keer gesien het. Hulle is ook hier by die fees. Hulle lyk nog presies dieselfde: Lang hare, eeufeesbaarde, leerhoede en skrefiesoë.

Ons sal dié ryding ook een of ander pittige naam soos “Die Kampkewer” gee en dit agterop met ’n plakker aanbring, net soos die vreedsame paartjie wat vir die naweek hier kamp met een.

Saterdag ruk almal soos een man op by die rivier om hom of haar in musiek te verlustig, maar bowenal om dit saam as ’n groep te kom geniet. Selfs die ou wat gister in die moeilikheid was oor die tent se ritssluiter, sit verlief met sy hande in sy meisie s’n geknoop.

Saterdag ruk almal soos een man op by die rivier om hom of haar in musiek te verlustig, maar bowenal om dit saam as ’n groep te kom geniet.

Die musikante met die baarde en groot hare bly ook saam met hulle gehoor in die tentedorpie, om so naby as moontlik aan die musiekverhoog te wees. Dié ouens kamp meer as enigiemand anders hier. Van hier af is dit noorde toe met hulle, en daarna heel waarskynlik een of ander fees in die ooste van die land.

Hulle moet die Saterdag al vroeg gereed maak, eers vir die middag se opvoering by die “rivierverhoog” en dan later weer vir die aand se vertoning, die naweek se hoofmaal. Die Saterdagaand is gewoonlik ’n affêre wat vorm aanneem in Sondagoggend se nabetragting.

Sondag begin die kampplek leegloop. Oral lê geel vierkante soos Domestosvlekke op ’n groen laken – dis nou waar die gras onder die grondseile die gees gegee het. Elkeen sukkel om die tent weer af te slaan en in sy té klein sakkie te prop. Buiten die ou met die slaprandhoed wat nooit gisteraand sy tent gehaal het nie en nou eenkant onder ’n boom lê en slaap, is daar van gisteraand se joligheid min te bespeur.

Maar in die kar op pad terug begin die mense vinnig weer praat oor volgende jaar se fees. Die klomp hier kamp mos nie altyd saam nie, maar sit beslis om dieselfde kampvuur.