“Ek is oorspronklik van die Kaap af en het ’n klompie jare gelede verhuis na Middelburg in Mpumalanga. Ek is ’n kranige hengelaar en het ná ’n jaar en ’n half hier besluit om ’n woonwa aan te skaf sodat ek langs die viswaters kan gaan kamp.

Die waens wat vandag in die mark is, kos nogal ’n groot klomp geld en ek was spesifiek op soek na ’n goedkoper wa wat ek self kon restoureer. Ek is iemand wat daarvan hou om ’n ou ding te vat en nuwe lewe in hom te blaas. Dis ook vir my belangrik om dinge so na as moontlik te hou aan hoe die wa gelyk het toe hy oorspronklik uitgekom het.

Toe ek dus dié wa op ’n internetadvertensie sien, het ek geweet dis die wa vir my. Ek het na hom gaan kyk en hom gekoop sonder om te lank daaroor te wik en weeg. Ek het goed geweet dat hy heelwat werk nodig het, maar dit was presies wat ek wou hê.

Die eerste ding wat ek moes doen, was om die opwipdak te vervang. Die een wat hy opgehad het, het ’n kunsleerbedekking gehad wat al erg verweer het. Ek het aanvanklik gehoop ek hoef net die kunsleer te vervang, maar toe ek dit afhaal, het ek gesien die hele dak moet vernuwe word. Dit het my in die omgewing van R4 000 gekos.

Aan die binnekant het ek ’n nuwe vrieskas en mikrogolfoond ingesit – net om dinge geriefliker te maak wanneer ons kamp. Verder het hy ’n dubbelbed aan die een kant en ’n enkelbed aan die ander. Daar was voorheen ’n hangbed bo die enkelbed, maar dié is nie meer daar nie

Ek het hom met sy oorspronklike tent gekoop, maar hy het ook ’n bietjie werk nodig gehad. Dit was gelukkig net klein goedjies, soos die inglysoom wat al ’n bietjie verweer het.

Ek is nie 100% seker van sy tarra en BVM nie, maar ek reken hy weeg in die omgewing van 750 kg. Ek sleep hom met ’n Hyundai Accent 1.6 en hy sleep heel gaaf, hoewel hy teen bulte ’n bietjie swaarkry. Ek is gelukkig nie haastig wanneer ek sleep nie; ek hou daarvan om dinge rustig te vat.

Ek is iemand wat altyd in die natuur wil wees. Ons gaan baie Loskopdam toe. Dis die naaste aan ons en dit voel vir my ons kry meer van die natuur daar. Ons skiet maklik vir ’n naweekkamp deur soontoe.”

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.