Enige mens kan ver kom in die lewe as jy ’n windsak is, of ten minste een het. Neem nou maar vir ou Francis Beaufort as ’n voorbeeld: Nie net het hy gevorder tot die rang van skoutadmiraal in die Britse koninklike vloot nie, maar hy was sommer ’n “sir” ook – en dit alles net omdat hy geweet het van wind. 

’n Mens kan maar sê dit het voor die wind gegaan met hom. 

Laat ek verduidelik, net ingeval jy nie geskiedenis op skool gehad het nie. S.adm. Francis Beaufort is die man wat die Beaufort-skaal ontwikkel het – dis ook genoem na hom. En ingeval jy nie aardrykskunde op skool gehad het nie: Die Beaufort-skaal is ’n manier om windspoed wat in knope gemeet word, in sterkte en waarneembaarheid te beskryf. Die voordeel van die Beaufort-skaal is dat dit lukrake begrippe kwantifiseerbaar maak sodat almal weet presies wat jy bedoel as jy byvoorbeeld sê daar was ’n “ligte bries” of “stormwind.” 

Die admiraal se skaal het ’n omwenteling in skeepsvaart teweeggebring, maar nugter weet waarom kampeerders nog nooit so ’n skaal ontwikkel het nie. Ek dink dis hoog tyd dat ons ons eie skaal kry. Hier volg dus die Ekron-skaal vir windsterktes in die kampplek. Let wel, op hierdie skaal dui knope nie noodwendig net op windspoed nie, maar dien ook as ’n aanduiding van die aantal kragwoorde wat per uur gebesig word.

0 KALM LUG (0 knope) Alles is perfek, daar is geen wind nie en die lewe is wonderlik. 

Dis ’n mitiese toestand wat ’n mens net op foto’s in ’n advertensiebrosjure sien waarin ’n nuwe kampplek of nylontent bemark word. 

1 EFFENSE LUGGIE (1-3 knope) Jy kan jou buurman se braairook sien beweeg. Dis egter nie ’n aanduiding van windrigting nie, want die rook trek in jou rigting – altyd, dit maak nie saak waar jy staan nie. 

Die enigste manier om seker te maak dit trek nie na jou toe nie, is om klam, skoon wasgoed windop op te hang. 

2 EFFENSE BRIESIE (4-6 knope) Jy voel die “luggie” op jou vel en jou ma of ouma sê jy moet vir jou ’n trui gaan aantrek, want sy voel ’n “trek.” 

3 LIGTE BRIES (7-10 knope) Daar is rimpels op die oord se swembad, en die lilo’s wat klein Fransie en Hansie daar gelos het toe hulle ma gesê het hulle moet iets warmers gaan aantrek, dobber nou albei teen dieselfde kant. 

4 MATIGE BRIES (11-16 knope) Die strandhanddoeke wat jy aan jou tenttoue vasgemaak het, begin wapper in die wind soos vlae buite die Uniegebou, en jy wil jou verbeel selfs Sponge Bob en The Little Mermaid op die kinders se handdoeke lyk minder opgeruimd as gewoonlik – selfs benoud. 

5 FRIS BRIES (17-21 knope) Jou sonsambreel het omgedop en daai roomysbak waarin jy die laaste braaibroodjie en hoenderborsie van gisteraand se braai gebêre het, staan nie meer op die tafel nie, maar lê nou onderstebo in die sand – oop, natuurlik. 

Die enigste manier om seker te maak dit trek nie na jou toe nie, is om klam, skoon wasgoed windop op te hang.

6 STERK BRIES (22-27 knope) Fris Bries en Sterk Bries klink soos twee plattelandse broers wat in die voorry sak vir die dorp se eerste span. Wanneer jy in ’n sterk bries strandlangs stap, piets die sandkorrels jou teen jou vel en jy wens jy’t meer sonbrandmiddel aangesmeer, want elke sandkorrel voel soos ’n speld teen jou rooigebrande bene. Jou nefie wat half wit en glibberig is van die faktor 40 lyk weer asof iemand hom in ’n Schnitzel-beslag met broodkrummels gedoop het, want de laaste sandkorrel kom kleef aan sy olierige lyf. 

7 MATIGE WIND (28-33 knope) Dinge begin effens onplesierig raak en jy’s bly jy’t n stewige boswa of woonwa, want al wat ’n koepeltentjie is, begin ongemaklik skuins in een rigting leun, amper soos Casper de Vries, Eddie Eckstein en Lizz Meiring in ’n jogaklas. 

8 FRIS WIND (34-40 knope) Vanaand eet jy koue oorskiet óf jy gaan sit aan in die oordrestaurant, want om te probeer vuurmaak in hierdie wind is nie net haas onmoontlik nie, dis ook uiters gevaarlik. 

Selfs al kry jy ’n vuurhoutjie wat lank genoeg brand sodat jy dit by die vuuraansteker onder jou brandstapel kan kry, klink jou vuur dan soos ’n blaasvlam – en een kooltjie wat wegwaai, sal al die koepeltente wat nog staande is, binne ’n oogwink in ligte laaie hê. 

9 STERK WIND (41-47 knope) Terwyl jy teen die wind in beur op pad ablusieblok toe, begin jy dink daaraan om te belê in ’n Porta Potti of dalk eerder ’n wa met ’n ingeboude badkamer. In hierdie wind gaan ’n Porta Potti in een van daai klein badkamertentjies beslis nie werk nie. Op pad terug blaas die wind jou drie staanplekke verby jou wa en jy moet weer terug beur terwyl jou kamerjas om jou wapper soos Superman se mantel. 

Jy hoop maar net as die wind jou skep, is daar ’n sagte landingsplek binne 10 km van jou staanplek.

10 BAIE STERK WIND (48-55 knope) Dis tyd vir die stormtoue, want jou wa se sytent lig met elke rukwind sommer so ’n halwe meter van die grond af. Van binne die tent kry jy dan vir ’n breukdeel van ’n sekonde ’n panoramiese uitsig oor die kampterrein voor die tent weer “land.” Die kinders dink die eerste twee keer dis snaaks, maar dan gaan hulle onbedaarlik aan die huil en prewel iets oor die wil om te lewe. 

11 STORMWIND (56-63 knope) Jou tentpale is gebreek en gebuig en jy’s aan die oppak. Jy klou verbete aan die tentseile sodat jy dit min of meer in ’n bondel kan kry om binne die wa te bêre. Jy hoop maar net as die wind jou skep, is daar ’n sagte landingsplek binne 10 km van jou staanplek. 

Jy’t nietemin klaar besluit hierdie is jou laaste kamp langs die see. Dalk is dit jou laaste kamp ooit, want die wind het skynbaar jou gesin se geesdrif weggewaai en hulle sit reeds in die wa en soek ’n tyddeelwoonstel in Sun City. 

12 ORKAAN (meer as 64 knope) Selfs Chuck Norris, Bear Grylls en Kaptein Caprivi sit veilig by die huis en speel bordspeletjies, want g’n mens kamp in sulke weer nie! 

AS JOU BUURMAN DUS weer ’n kampplek aanbeveel, maar terloops noem daar was “’n ligte briesie,” wys vir hom die Ekron-skaal en vra hom om meer presies te wees, of stuur dit vir die ontvangsdame voor jy vir Januarie ’n staanplek in die Kaap bespreek. En wees versigtig vir iemand wat beweer dit gaan voor die wind op sy staanplek.

* Hierdie artikel het oorspronklik in die WegSleep van Desember 2015 verskyn.