Ken jy St. Lucia se blouape en samangoape? Hulle staar heeldag en aldag na jou en treiter jou. Uit die boomtakke van die St. Luciabos hou hulle elke beweging van my met blink albasteroë dop. Party lyk of hulle nooit, ooit ’n oog knip nie.



Een kom astrant oor die kampstaanplek aangedrentel en skiet reguit na die geparkeerde Condor toe. Hy kry twee volgelinge. Aap Nommer Een hang aan die Condor se syspieël en bewonder homself – terwyl hy uit die hoek van sy oog vir my bly loer. Nommer Twee trippel op die kar se dak rond en kyk my met meewarigheid reg in die oë. Nommer Drie vroetel met die ruitveërs, maar eintlik loer hy deur die windskerm om te sien wat in die kar rondlê en of ek nie perdalks een van die vensters oopgelos het nie.

Ek “sjoevoetsek!” die soveelste keer op een dag en swaai my arms woes, maar nog twee ape verskyn teen die spoed van wit lig uit die niet. Nog voor ek weer kan “sjoe!”, is dié twee terug in die takke, een met die brood en die ander met die groot BarOne wat ’n sekonde terug nog veilig onder my oog op die kamptafel was. Die driemanskap ape op die kar skiet haastig agter hulle twee skelm maters die bome in. Hulle wil deel in die buit.

Die brooddief deel met die ander. Hulle almal kyk my stip in die oë terwyl hulle vreet dat die krummels spat. Die sjokoladedief wys tande en weier om te deel.

Hy vreet die BarOne aapalleen op. Dis seker maar hy wat later die wit blerts teen die kant van my tent gelos het.

KEN JY ST. LUCIA se middedorp en hoofstraat? 

Dit lyk deesdae ’n bietjie soos die Kanariese Eilande. Die vakansieblyplekke, winkels, restaurante en toerisme en safarikantore staan ingeryg langs mekaar. Kampeerders, vakansiegangers en hengelaars van elders in die land hou van die plek en dit wemel van die toerbusse en buitelandse toeriste.

St. Lucia boer vooruit. Al die euro’s, ponde en dollars is goed vir die dorp.

Vra maar vir Anatole, wat op straat soet geskilde pynappel op ’n stokkie verkoop. Sy lekkerny het ’n gewone prys én ’n “tourist price”. Hy praat nie oor die “tourist price” nie en glimlag net skalks as jy hom daaroor uitvra.

Hy’s nie die enigste ou hier rond met ’n toeristeprys nie, sê Anatole, en loer na die volgende toerbus wat stilhou.

VANDAG IS EK OOK ’N TOERIS. My kaartjie is bespreek vir ’n seekoei-en-krokodilvaart op die meer. Volgens die vrou by die toerismekantoor is die vaart om vieruur die middag die beste en gewildste. Dis die regte tyd om ’n kiekie te kry van ’n seekoei wat wakker word en met sy bek groot oop gaap soos in doeriejare se Chompadvertensie.

En jy sien St. Lucia se mooi sonsondergang op sy beste.

Ek trek die tent se ritsdeur toe en sluit dit met ’n slotjie toe om aap se kind uit die inkopiekis en beskuitblik te hou. Die ape kyk vies na my toe ek met die Condor koers kies na die woonwapark se hek vir die kort rit dorp toe.

By die kaai hou ’n spierwit bus met gordyntjies agter getinte ruite saam met my stil. Aan weerskante van die bus staan in groot swart letters geskryf: Tours & Safari’s. Die dubbelvoordeur maak met ’n psjjjjj oop en met stampe en stote peul ’n stuk of 40 mense uit. Hulle het 10 000 km van Holland af gekom om ZuidAfrika binne drie weke te verken.

Gewapen met safarihoede, kameras, videokameras, iPhones en verkykers bestorm die spulletjie die groot dubbeldekkertoeristeboot.

Dis hoogsomer en drukkend warm, maar Thijs dra ’n dik wintersbaadjie saam. Net ingeval. Die son is aan die sak, maar Douwe het sy sonbrandroom byderhand. Sy dun bene steek bloedrooi gebrand by sy effe te groot kakiekniebroek uit. Hy gaan nie dat die Afrikason hom weer piets nie. En Evelien het ’n spuitkan Peaceful Sleep, want ZuidAfrika se muggen maak haar mal.

“Jy weet, as ek met toergroepe in die bus ry en nie weet watse bok doer in die verte staan nie, dan sê ek maar dis ’n antiloop. En van daar af gil hulle antiloop en kyk hulle antiloop."

DIE BOOTSMAN EN GIDS, Junior, ken sy storie en hy ken hierdie wêreld en die natuurlewe. Hy stuur die groot boot behendig oor die water en sy oog mis niks nie. Hy stop naby seekoeie wat ontwaak sodat ons daardie gaapkiekie kan kry.

Die stuk of 40 toeriste storm soos een man na die linkerkant van die boot en die kameras werk oortyd. Ek loer na Evelien se iPhoneskermpie.

Haar kiekie gaan nie die National Geographic haal nie. Sy het net ’n stukkie van die gapende dier se bokaak vasgevang. Haar kleinkinders gaan hulle verbeelding moet gebruik om te sien dis ’n seekoei. Douwe brom omdat Thijs in sy pad was en hy nie ’n kiekie kon kry nie.

Ons vaar verder en Junior sê oor die luidsprekers ons moet vinnig links kyk. ’n Visarend duik af en lig met sy kragtige kloue sy prooi uit die water.

Ons vaar voort en Junior gesels oor die besonderse lugwortels van die bome langs die oewer, maar sy woorde verdwyn in die wind en in die rumoer wat uitbreek toe Evelien skril skree: “Krokodiel!”

Van die ander eggo dit: “Krokodiel...krokokiel...” En almal storm na die regterkant van die boot en hang oor die kante met hulle oë op die water. Douwe raas omdat Thijs alweer op sy voet getrap het.

Almal trap op almal se tone.

Die groep se SuidAfrikaanse toergids, wat stil eenkant staan, sien ek glimlag. 

Hy glimlag ook: “Jy weet, as ek met toergroepe in die bus ry en nie weet watse bok doer in die verte staan nie, dan sê ek maar dis ’n antiloop. En van daar af gil hulle antiloop en kyk hulle antiloop. Hulle maak maar só.”

Vir die res van ons bootvaart gil hulle krokodiel en kyk hulle krokodiel.

Junior trek die boot naby die wal vir nog ’n krokodiel. Op die wal sit ’n aap met haar baba in haar arms. St. Lucia se ape is lastig, maar dis ’n mooi prentjie.

Jy sien die moederliefde. Sy kyk haar kleintjie sag in die oë en dit lyk of sy met hom praat. Dan lig sy haar lang blougrys wysvinger en beduie in die rigting van ons spulletjie op die boot. En in ’n oomblik van stilte kan ek sweer ek hoor hoe sy sê: “Toeries.”