Daar is ’n mate van risiko waarmee jy vir lief moet neem as jy ’n gevaarlike pad of aktiwiteit aandurf. Soos wanneer jy uit ’n vliegtuig spring met ’n valskerm op jou rug. Ja, die vreugde wanneer jy deur die lug trek en soos ’n swerfvalk op ’n duif afduik, is onmeetbaar. Maar wanneer die grond vinnig nader kom, trek jy bloot aan ’n lus en jou valskerm skiet uit.

Jy ruk tot stilstand en dryf stadig aarde toe onder die veilige dak van jou skerm. Selfs al land jy effens hard, is dit aansienlik sagter as wat dit daarsonder sou wees.

Op ’n onlangse bekendstelling het die betrokke motormaatskappy se reklamespan hulle veldrybakkie uitgegee as ’n ding wat kan spring. Uiteraard wou al die teenwoordige motorskrywers dié stelling op die proef stel en die bekendstelling het in ’n jaagtog ontaard.

Eers het alles goed verloop en die voertuig het inderdaad gepresteer, veral in ’n tydrentoets oor sandduine.

’n Hoogtepunt vir baie van ons – ek inkluis – was toe ons uiteindelik die dubbelkajuitbakkie se springvermoë kon beleef. Dis nie ongewoon om voertuie met ’n hoë werkverrigting te sien spring nie; toetsbestuurders druk dikwels hulle voertuig tot die uiterste op agterpaaie en op renbane.

Dis aanskoulik om ’n tydrenmotor óm ’n draai te sien gly en óór ’n bult te sien vlieg, maar Jan Alleman moet sulke kaskenades eerder aan professionele ouens en waaghalse oorlaat. Dié toertjies moet ’n mens boonop slegs uitvoer met ’n gespesialiseerde voertuig.

Daar sit ons toe op ’n private pad in die Noord-Kaap. Ons jaagbakkies het met tussenposes van 30 sekondes weggetrek sodat ons nie in mekaar se stof hoef te ry nie én om te keer dat ons per ongeluk in mekaar sou vasjaag.

Die instrukteur in die passasiersitplek langs my het my egter aangesê om die hobbels teen 120 km/h te takel, en ek het effens teësinnig ingestem.

Ek moet bieg die hobbels in die pad voor ons het nie té skrikwekkend gelyk nie, maar dít was die mening van die voorbeeldige bestuurder in my, want ek sou nooit in normale omstandighede vinniger as 80 km/h oor hulle ry nie. Die instrukteur in die passasiersitplek langs my het my egter aangesê om die hobbels teen 120 km/h te takel, en ek het effens teësinnig ingestem.

Selfs al weet jy wat wag, is die skielike gewigloosheid nogal onrusbarend. Die bakkie se neus mik stadig afwaarts, maar jou lyf trek steeds opwaarts. Wanneer die voertuig met Moederaarde kennis maak, word jy hard in jou sitplek teruggestamp, hard genoeg dat jy kan voel hoe die werwels in jou ruggraat saamgepers word.

Selfs al hanteer die voertuig die landing goed, is die uitwerking op jou lyf taamlik gewelddadig. Dis amper asof swaartekrag jou straf omdat jy die natuurwette verontagsaam.

En hoe langer jy vlieg, hoe harder word jy gestraf. Een stomme motorskrywer by die bekendstelling het dít op die harde manier geleer. Die voertuig waarin hy ’n passasier was, het ’n hobbel teen 140 km/h getref. Die bestuurder en instrukteur was ongedeerd, maar hý moes by die agterdeur uitgedra word nadat die bakkie tot stilstand gekom het.

Sy rugpyn was só erg dat hy na ’n nabye hospitaal se ongevalle-afdeling geneem is. Later sou ons uitvind ons kollega, ’n gesoute joernalis en motorskrywer, het nie sy sitplekgordel gedra nie – ’n flater wat die motorvervaardiger nie ontsien het toe die hospitaalrekening ter sprake kom nie.

Goed, daar was gevare in die vervaardiger se aktiwiteite waaraan hy ons blootgestel het, maar die risiko was aanvaarbaar, en as die motorskrywer onthou het om sy gordel vas te maak sou niks gebeur het nie. ’n Mens sou seker kon aanvoer dat hy steeds sou seerkry, selfs met ’n sitplekgordel, maar ons sal nooit weet nie.

Net omdat jy agter sit, beteken dit nie jy hoef nie jou sitplekgordel te dra nie. Álle passasiers moet vasgegespe wees. Wanneer ’n bestuurder hard moet rem om ’n botsing te vermy, of as die ongeluk onafwendbaar is en julle bots wel, gaan ’n agterste passasier wat nie vasgegespe is nie, ’n gevaar inhou vir die voorste insittendes.

Die voorste mense word in plek gehou deur lugsakke en sitplekgordels, maar ’n los agterste passasier kan teen ’n rampspoedige vaart vorentoe vlieg. As hy in die middel sit, kan hy op die instrumentepaneel beland óf deur die voorruit bars. En as hy direk agter jóú sit, kan hy jou ’n noodlottige kopstamp gee.

As volwassene is die onus op jou om vas te gespe, maar as ek nie die klikgeluid van ’n sitplekgordel hoor wanneer my ouma-hulle of kinders op die agtersitplek sit nie, gaan ek my stem dik maak. Waarom so streng? Want die lewe is kosbaar, dís waarom!

Waarom so streng? Want die lewe is kosbaar, dís waarom!

My ryding het baie veiligheidseienskappe om my te beskerm, maar hy kan my nie beskerm teen iemand wat agter my sit en vergeet om vas te gordel nie.

Die liggaamsgewig van die ongeërgde passasier agter my word dramaties verhoog namate die spoed van my voertuig toeneem. ’n Botsing teen ’n matige 60 km/h kan veroorsaak dat ’n los passasier verwoesting saai in ’n motor.

Verlede jaar het ’n video die ronde gedoen waarin ’n entoesiastiese bestuurder (dalk aangeklam) deur sy maats aangepor word om met sy splinternuwe Toyota Hilux Dakar deur ’n dam te ry.

Ek begryp dit is groot pret, en dis altyd lekker om te sien wat ’n ryding kan doen in bekwame hande. Ek het selfs simpatie wanneer ’n dapper bestuurder misluk met ’n hindernis. Vir my het die bestuurder van die Hilux egter té ver gegaan toe die neus van sy dubbelkajuitbakkie onder die water verdwyn. Die brannas het gepraat en verhinder dat die bestuurder sien hoe ’n bakkie van ’n halfmiljoen rand opgemors word. Hy kan dankbaar wees hy’t nie skade gely nie.

Verlede maand toe ek gaan kamp, was daar ’n dubbelkajuitbakkie wat ’n plaaslike 4x4-hindernisbaan binnegery het. Die binneruim was gelaai met insittendes en agterop die laaibak was drie kinders wat aan die rolstaaf vasklou. Dit het my laat terugdink aan ’n aand in die middel van die Van Reenenspas in KwaZulu-Natal. Ek was gestasioneer as ’n lid van die Padveiligheidsfonds se noodeenheid. Dis nie asof jy wil hê iets slegs moet gebeur nie, maar dis bevredigend wanneer jy by ’n motorongeluk kan gaan help.

Daardie aand is ons na Estcourt ontbied waar ’n bakkie omgeslaan het. Daar was mense agterop, onder die bakkie se kappie. Gelukkig was hulle grootliks ongedeerd met net skrape en blou kolle.

In die tyd dat ek by die noodeenheid gewerk het, het ek foto’s gesien van verwronge kinderlyfies wat uit wrakke gehaal is – dit sal my altyd bybly.

Die donker gedagtes het my teruggeruk na die hede, net toe die dubbelkajuitbakkie met die drie kinders agterop agter ’n heuwel verdwyn. Ja, ons vang gevaarlike dinge aan en aanvaar die gepaardgaande risiko’s, maar moet nooit toelaat dat die risiko ’n gesonde verstand oortref nie