Ons het soms letterlik dwars gedraai in die pad, skuins teen die walle uitgeklim en by tye tot op die onderstel in die modder beland. Ander kere het ons soos ’n koekie seep gegly totdat die Kombi  uiteindelik onder groot geskree omgeval het. Maar wat anderkant uitgekom het, was ons en die Kombi!”

Die 92-jarige Ockie Raubenheimer se oë glinster terwyl hy die opwinding van 55 jaar gelede herleef toe hy en ’n “uiters naïewe maar baie entoesiastiese” groep ’n epiese tog deur Oos-Afrika aangepak het – nie in viertrekvoertuie soos vandag se manne dit doen nie, maar in ’n 1 200 cc-VW Kombi, ’n Ford Thames-bussie en ’n kortgat-Land Rover.

Ek kuier op ’n sonskynoggend by hom in ’n Kaapse aftreeoord. Op só ’n oggend vroeg in Desember 1962 vertrek ’n toergroep uit Stellenbosch – onder hulle ’n professor, twee lektore en ’n klomp studente, altesame 17 mense. Hulle wil tot in Israel ry om die Heilige Land te verken.

Henry Page is een van die vyf tokkelokke in die groep. “Hy was ’n boer wat ’n plan kon maak,” onthou Ockie. Met sy tool-boks vol spanners, boute en moere en sy tang en goeie jack sou Henry hulle uit vele verknorsings help. Onder die ses vroue was ’n verpleegster met ’n Rooikruistassie vol medisyne, pleisters, ’n koorspen en ’n skêrtjie. “Sy’t selfs ’n maatband saamgevat – wie weet nogal waarvoor!”

“Oom Dominee” soos almal die 38-jarige Ockie, toe studenteleraar op Stellenbosch, genoem het, was die enigste met kampondervinding. “Die res het bloot baie waagmoed en geloof gehad. Ons was uiters naïef, man,” vertel hy laggend.

Die onherbergsame paaie het groot eise aan voertuie én bestuurders gestel.
Oral waar die konvooi gestop het, het die plaaslike inwoners nuuskierig saamgedrom. Die kere wat die voertuie in die modder gegly en omgeval het, was hulle ook gou by om dit regop te tel.

Met hulle vertrek ry Ockie en ’n klompie studente voor in sy Kombi met Eben Odendaal en die ander in die Thames agter hulle. Dan volg Henry en sy vrou, Kitty, in sy Land Rover. Die Land Rover sleep ’n allemintige sleepwa met blikkieskos vir drie maande, bokse met onderdele en almal se slaapgoed en tasse. 

“Maties op Trans Afrika Safari” staan in groot rooi, blou en wit letters op die Kombi se een kant. Aan die ander kant is dieselfde boodskap, in Engels. Voor die span lê meer as 10 000 km al langs die “pad na die noorde” – ’n pad tot in Egipte wat in die Tweede Wêreldoorlog deur die Suid-Afrikaanse weermag gebruik is. Hulle sou gou agterkom dat dit nie meer veel van ’n pad was nie.

Die groep se grootste uitdaging is die onvoorspelbaarheid van die paaie. “Soms was daar net ’n paar planke en pale wat ’n primitiewe brug oor ’n rivier gevorm het. Dan het ’n student aan die ander kant gaan lê en beduie terwyl jy pynlik stadig oorry.”

Die roete neem hulle deur Suid-Rhodesië (vandag Zimbabwe), Portugees-Oos-Afrika (Mosambiek), Noord-Rhodesië (Zambië), Njassaland (Malawi), Tanganjika (Tanzanië), Kenia en Uganda tot in Ethiopië. Van daar af wil die span deur die Soedan tot in Egipte ry, die Suez-kanaal oorsteek en drie weke in Israel reis.

Die plan is om 25 Februarie 1963 terug te wees. “In die week het ons skraps geëet, want die ry was belangrik, en dikwels het ons net een keer per week gebad. Naweke het ons gekamp. Sondae was die braai-, bad- en wasgoeddag.”

Met Henry se hande wat vir niks verkeerd staan nie (en groot vindingrykheid) los die span die meeste van hulle probleme op. Soos toe die Kombi se enjin hoog in die berge in Ethiopië ’n “SOS-sein vir drastiese herstelwerk” gee. Die span sleep die Kombi met die Land Rover tot oor ’n sloot. Twee sterk manne skuif op die rug onder die enjin in en skroef dit los, waarna ’n plank op elkeen se bors gesit en die enjin stadig daarop laat sak is.

“Die ander sleep hulle toe aan hulle voete met die enjin op hulle bors onder die Kombi uit. Tot almal se vreugde het Henry met die Volkswagen-handboek en sy tool-boks die herstelwerk in ’n rekordtyd gedoen!”

Die toergroep (spanlid nommer 17 het die foto geneem), met Henry Page, die algemene handyman links voor en Ockie Raubenheimer regs voor.
Ockie in sy betroubare Kombi, met sy kenmerkende hoedjie op die kop.
Ockie het probeer om elke dag op sy Corona-tikmasjien ’n brief aan sy vrou, Veda, te skryf, dikwels wanneer hulle ’n blaaskans langs die pad vat. Dié briewe is gepos wanneer hulle by ’n poskantoor verbygaan.

Die groep vorder aanvanklik goed, en op 9 Desember bereik hulle die Njassameer (vandag die Malawimeer). Hulle het 4 000 km in net meer as ’n week gery. Ockie tik elke dag op sy Corona-tikmasjientjie ’n brief aan sy vrou, Veda, en pos dit wanneer daar geleentheid is.

Malawi is vir Ockie “een groot woud met mooi blomme en struike en berge oortrek van bome en die groenste gras wat ek nog gesien het”. Hulle kamp langs die meer en ry die Maandagoggend van Salima na die Livingstonia-sendingstasie. Met 22 haarnaalddraaie en ’n asemrowende uitsig oor die meer is dit vir hom die “wonderlikste stukkies bergpad wat ek nog in my lewe gery het”. Die herinnering laat Ockie se gesig ophelder. “By Florence Bay het ons eenvoudig alle besef van tyd en die verdere reispad vergeet en soos kinders geswem en gespeel.”

Op pad na Tanzanië is hulle weer die berge in, “soms só steil dat die span moes uitklim en stoot”. Teen donker sak die Kombi se brandstofnaald gevaarlik.

“Later was die spaartenk ook leeg en ek het nog net ’n halwe gelling (2,3 liter) in ’n blikkie gehad.” Dit reën aanmekaar en hulle haal netnet die grenspos by Tunduma waar hulle nog ’n ongemaklike nag in die voertuie deurbring. Die volgende oggend kom hulle agter die Kombi se olieverkoeler het losgeskud. Hulle heg dit met sifdraad en skroewe. Die Thames begin ingee: Sy voorste vere het op die slegte paaie afgeskud en moet op die volgende dorp vasgesweis word.

Dit stortreën toe die span die oggend op Iringa aankom, “moeg, vaak en vuil”. Die Thames se remme het intussen ook ingegee en sy onderstel is op vier plekke gekraak. Die herstelwerk sou twee dae duur.

Die Ford Thames-bussie het amper van die eerste dag af probleme gegee en die groep moes dikwels stop vir noodherstelwerk om hom aan die gang te hou.
Die onherbergsame paaie het groot eise aan voertuie én bestuurders gestel.

Lede van die groep besluit intussen hulle gaan die Ngorongorokrater besoek, sowat 690 km noord. Die pad is sleg en hulle kom eers agtuur die aand op Dodoma aan – nog nie eens halfpad na die krater nie – maar die “sprokiesland in die maanlig vergoed daarvoor”. Dan tref die ongeluk weer: Die sleepwa se band bars nadat ’n koeëllaer onklaar geraak het en die wiel skeef loop. In die lig van flitse kry hulle die wiel eenuur die nag uiteindelik weer in posisie en sukkel terug na Dodoma, waar hulle drieuur die oggend aankom. By die polisiekantoor kry hulle slaapplek in die agterplaas.

Ná nog ’n lang dag se ry kom hulle Kersdag om tweeuur die oggend op Eldoret aan, 300 km noord van Nairobi. Kersoggend lei Ockie die Kersdiens “in die mees noordelike gemeente van ons Transvaalse Kerk, Vergenoeg”.

Met hulle aankoms by die uitgestrekte woestyngebied in Noord-Kenia sê ’n vriendelike polisieman dat die pad na Marsabit feitlik onbegaanbaar is. “Maar van omdraai wil ons niks weet nie.” Oor die volgende 100 km is die pad besaai met lawaklippe. “Gitswart, growwe klippe wat in die voortyd deur vuurspuwende berge kwistig oor die wêreld gestrooi is. Oor hierdie pad het ons gekruip, gekreun, gebeur en gebars, in so ’n mate dat ons sleepwa se disselboom morsaf gebreek het,” skryf Ockie.

Selfs in die bloedige hitte is die herstelwerk vindingryk. “Ons boor toe met ’n handboortjie wat ons by die OK gekoop het gate deur die disselboom en sleepstang. Dit terwyl die meisies eenkant soos engele die een Halleluja-lied ná die ander sing.”

"Hier sit ek in die bosse van Ethiopië met my tikmasjien op my skoot. Ons beleef meer as wat ons self kan glo… Dit gaan natuurlik nie heeltemal so vlot as wat ons beplan het nie."

Vroeër die dag is die polisiekommissaris by hulle verby in die rigting van die grenspos. Hy stuur nou ’n gesant met die nuus dat die pad vorentoe weens modder vir drie dae gesluit is en dat hulle na Marsabit moet terugdraai. Maar van omdraai – sowat 250 km van die Ethiopiese grens af – wil hulle niks weet nie.

Agtuur die aand val hulle in die pad. Hulle wil die Sondagmôre “voordat die kommissaris wakker word, die grens onder sy neus oorsteek”.

“Toe ons by die onbegaanbare modderpad kom, het die sports begin,” vertel Ockie. Dit was hier waar die span teen die walle uitgeklim, amper omgeslaan en soos ’n koekie seep gegly het maar uiteindelik anderkant uitgekom het.

“Dit was nag en ons het nie die ware omvang van sake besef nie.” Die Land Rover moes die ander twee kort-kort uitsleep, “maar dit was ’n onbegonne taak terwyl hy self heen en weer deur die modder ploeter”. “Ons besluit toe dat elke voertuig van sy eie span stoters afhanklik is en hoop verder vir die beste.”

Ure lank swoeg hulle in die donker. In een stadium kan die Kombi nie ’n steil klim van ’n paar honderd meter baasraak nie. “Ek moes toe agteruit bergaf ry tot onder op die vlakte, spoed vermeerder en met vrag en al tot bo uitklim.” Die Thames laai sy vrag halfpad af om die kruin te haal.

Die groep kom uiteindelik vroeg die Sondagoggend by Moyale op die Ethiopiese grens aan. Die doeanebeampte waarsku hulle dat Ethiopië se paaie 20 jaar laas in stand gehou is. Op Ockie se vraag of hulle aan die linker- of regterkant moet ry, kyk hy hom veelseggend aan: “I think on the best side.” Die eerste sowat 400 km is “erger as ’n droë rivierbedding vol klippe met gate op gate, slote op slote”. Al voertuie wat dit daar waag, is swaar vragmotors.

Dié aand tik Ockie op sy Corona: “Hier sit ek in die bosse van Ethiopië met my tikmasjien op my skoot. Ons beleef meer as wat ons self kan glo… Dit gaan natuurlik nie heeltemal so vlot as wat ons beplan het nie. Ons het vanoggend presies drie uur aan 14 myl (sowat 22 km) gereis, selde in derde rat gekom, wat nog van vierde rat.”

Op 31 Desember skryf hy aan Veda:  “Vir die laaste maal in 1962 gaan die son vir ons onder.” Hulle wag die nuwe jaar in met ’n middernagdiens op ’n bergplato sowat 3 350 m bo seespieël. Op Nuwejaarsdag eis die slegte paaie weer ’n slagoffer: Die sleepwa se onderstel breek middeldeur. Hulle pak alles af en keer die wa om, net om te besef dat hulle nie voldoende gereedskap het om dit te herstel nie. “Toe gebeur die ongelooflike. Op hierdie eensame paaie kom ’n groot vragmotor met ’n leë bak verby en bied aan om die sleepwa en sy vrag na Adola, die naaste dorp, te neem.”

Die groep moes verskeie kere oor wankelrige bruggies ry of riviere op ponte oorsteek

In Addis Abeba aangekom, is hulle reeds vyf dae agter hulle reisplan. “Die Thames het byna nie by ’n motorhawe verby gery nie of daar moet eers aan hom gewerk word,” sê Ockie. Die span gee hulle visumaansoeke in en terwyl hulle wag, besoek hulle Asmara in Eritrea.

Daar hoor hulle dat hulle aansoeke weens “onvoldoende dokumentasie” afgekeur is. Hulle word aangesê om die Donderdagoggend weer by die Soedannese konsulaat aan te meld en besluit om tot dan op Massawa, ’n hawedorpie aan die Rooisee, oor te bly. Hulle swem heerlik in die warm water by die Italiaanse konsul se private strand. Teen dié tyd is hulle is nou al 12 dae agter skedule.

Toe hulle die Donderdag weer “Still no answer” hoor, kon hulle nie langer wag nie. Dit was duidelik dat hulle nie visums gaan kry nie en die terugtog moes begin. Op Vrydag 25 Januarie vertrek hulle uit Addis Abeba terug Stellenbosch toe.

Om die probleme en beproewinge waardeur hulle was te vermy volg hulle dié keer ’n ander roete deur Kenia. 

Teen dié tyd slaan die verlange na sy mense erg deur in Ockie se briewe aan Veda. “Ek wonder wat julle almal doen,” skryf hy. “Hoe voel dit om vir twee maande reeds alleenouer te wees, wat vertel die kinders? Dit is weke sedert ek laas van julle gehoor het. Daar lê seker oral in Soedan, Egipte en Israel briewe vir my…” Voor hulle vertrek het hy adresse in verskeie lande vir sy vrou gegee waarheen sy briewe vir hom kon pos. Die briewe sou al kommunikasie wees.

“Ten spyte van oponthoude en onderbrekings voer ons ’n moedige suidwaartse stryd en sal DV teen 25 Februarie tuis wees… maar daar lê nog baie duisende myle voor,” skryf hy.

Die lang reis op slegte paaie eis steeds sy tol. Die sleepwa se een bladveer breek morsaf en hulle werskaf tot middernag om dit te vervang. Drieuur die oggend – nog 130 km van Marsabit af – breek die Thames se stuurstang af. Sy skokbrekers en wishbones gee ook in en die sleepwa se onderstel breek op twee plekke. Gelukkig was dit die laaste ernstige terugslae op die terugreis.

Ockie is baie trots op wat sy Kombi vermag het. “Ek het aan die Volkswagen-mense in Duitsland geskryf en gesê hulle kan die Kombi se wedervaringe as advertensie gebruik. Toe sê hulle nee wat, dis niks buitengewoons vir ’n Kombi nie!”

Dat hulle toe nooit die Heilige Land bereik het nie, was ’n groot teleurstelling. “Maar weet jy,” sê Ockie, ”die liewe Here het beter geweet. Ons sou met ons voertuie in daai toestand iewers in die woestyn in die sand vasgeval het… sonder taal of tyding. Later sou Suid-Afrika net hoor ’n studenteleraar en sy groep is daar oorlede.”

* Ds. Raubenheimer is kort ná dié onderhoud oorlede. Hy was ná die voltooiing van sy studie op Stellenbosch predikant in die Wes-Kaap en Transvaal en daarna in die vroeë 1970’s weermagkapelaan in Parys, Frankryk, voordat hy as studenteleraar na Stellenbosch teruggekeer het. Voor sy emeritaat in 1989 was hy skriba van die NG Kerk se algemene sinode.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 152 (Junie 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.