Ek het ’n paar vriende bymekaar gemaak – Dave Hardman van Howick, my niggie Beverly Lawrence van Durban, Aubrey en Margie Christie van Oudtshoorn en Rob en Lyn Paterson van Estcourt. My dogter Linda Main en haar gesin woon in Windhoek en sy, haar man, Andrew, en hulle dogters, Isabella, Tamsyn en Olivia sou by ons in die Richtersveld aansluit. 

Ingeskud by Sendelingsdrift

Dis ver se ry na die Augrabies-waterval- nasionale park, maar ek, Dave en Beverly lê dit in een dag af. Ons kry die Christies en die Patersons by Augrabies en bring die oggend by die waterval se uitkykpunte deur. 

Hierna ry ons noord op die N7 na Steinkopf en dan wes na Port Nolloth. Ons volg die kuslyn tot by Alexanderbaai, en draai dan oos na Sendelingsdrift – 90 km weg met ’n uitgeryde grondpad. Dit vat ons twee uur en vir Aubrey, wat ’n woonwa sleep, vier uur. Nogal ’n skud-skud storie…

Die kampplek is wonderlik, met rietskerm-ablusiegeriewe, ’n kombuisie en elektrisiteit. Hier’s ook ’n lekker, veilige vuurmaakplek. 

Die volgende dag ontspan ons en kuier heerlik saam en met sonsopkoms is dit tyd om ’n draai in die ongelooflike berge wat rondom Sendelingsdrift lê, te ry. Die heuwels bestaan meestal uit kaal rotse, met net ’n paar vetplantjies en elke nou en dan ’n ebbehoutboom, bossie of sipres in die sanderige valleie. 

In ’n stadium ry ons verby ’n padskraper – ’n trekker wat ’n groot driehoekvormige houtraam trek. Dit herinner my aan die boomstompe wat jare gelede tussen Nata en Maun in Botswana agter ’n trekker aan gesleep is om die pad te skraap. 

Daar’s ’n halfmens! 

Hierdie ongelooflike boom is familie van die kokerboom en inheems tot die Richtersveld. Party van hulle is duisende jare oud, skat die slim mense. 

Ons ry verby die Potjiespram-kampplek en verby die Hand van God – ’n vreemde handvorm wat by ’n klip ingeëts is. Ons sien ’n lieflike ebbehoutboom en besluit dís die plek vir middagete. ’n Paar voëltjies slaan ons vir ’n rukkie dronk tot iemand hulle Sasol-voëlboek nadertrek en ons uitvind dis bergwagters. 

Ons besluit die volgende oggend om die Oranjerivier oor te steek en ’n ent aan die Namibië-kant van die park te ry. 

Dit herinner my aan die boomstompe wat jare gelede tussen Nata en Maun in Botswana agter ’n trekker aan gesleep is om die pad te skraap.

Die omgewing is hier net so skouspelagtig as aan die ander kant van die rivier. Ons kry ’n graskol vir middagete en kyk hoe watervoëls deur die vlak water waad.
Terwyl die ander die volgende dag ontspan, vat ek en Beverly my Landrover terug berge toe. Ons ry met die Akkedispas op – iets wat die Landrover in laestrek baie geniet. 

Dis lekker in Namakwaland!

Ons ry vroegoggend van Sendelingsdrift af, nadat ons opgepak en die Namibiërs gegroet het – dié is op pad na ’n bed-en-ontbyt in Lüderitz. 

Ons ry weer met dieselfde pad terug, via Alexanderbaai. Ek sou verkies het om via Kuboes en Lekkersing of Eksteenfontein te ry, maar volgens die wag by die parkhek is daai paaie selfs nóg slegter. 

Naby aan die Atlantiese Oseaan rol die mis in. Hierdie mis strek soms tot in die valleie van die Richtersveld – dis hoekom so baie vetplante in die harde omgewing kan oorleef. 

Dis ’n lang rit en dis laat toe ons deur Springbok vlieg. Die Patersons het vanoggend ’n bietjie vroeër weggekom en klaar vir ons inkopies gedoen. Ek kry dit op een of ander manier reg om vergeet om die Landy vol te maak. 

Met ’n senuagtige voet op die petrolpedaal, ry ek verby Kamieskroon en kyk die teken na die Namakwa- nasionale park mis. Ná ’n paar oproepe ry ons terug na Kamieskroon (waar daar niks diesel in die pompe is nie) en kry die grondpad na die Skilpad-padstal waar ons bly. Die padstal is net langs die hek na die park se Skilpad-deel. 

Ons sluit uiteindelik aan by die Patersons, wat alles pligsgetrou reg gedoen het en al vir ure hier is. Hier’s geen selfoonontvangs nie en ons kan dus nie die Christies in die hande kry nie. Maar die volgende dag hoor ons hulle het tot by Port Nolloth gekom en besluit om nie verder te ry nie.

Hulle was so keelvol vir woonwa sleep op die grondpaaie, dat hulle besluit het om vir drie dae by die see te bly!

Teen die tyd het die weer gedraai en ons probeer warm bly by die vuur. Maar die koue wind jaag ons vroeg bed toe. 

Die volgende oggend ry ons terug Garies toe deur ’n stuk land vol granietkoepels, koringlande en blomme, na ’n vulstasie waar daar baie diesel is. Verligting! Dan vat ons die uitsigpad terug deur die Namakwa- nasionale park, via twee opwindende passe en die dorpie Soebatsfontein.

Die weer is nie watwonders nie; tog sien ons baie blomme in die park – en twee luiperds! Ons hou die luiperd vir ’n paar minute dop tot dit verdwyn, en sien dan nóg een laer af op die heuwel. Ongelooflik. 

Ons sien ook steenbokke, klipspringers, baie Ludwigse poue en twee kolhase wat so stil soos standbeelde in ’n kol blomme sit.

Ons kom weer by die Skilpad-padstal aan en ons flans nog ’n ete aanmekaar met boerewors, aartappel en koolslaai. 

Ek word vroeg wakker en sien twee onverwagse voëlspesies: ’n bokmakierie wat op die heining sit en sy hart uitsing en ’n Kaapse flap uitgevat in sy broeivere.

Vandag gaan ons terug op ons spoor deur die park tot by Soebatsfontein, en dan val ons weer in die pad kus toe. Ons sien nie vandag enige luiperds nie, maar wel baie rooihartebeeste en gemsbokke. En die son skyn: Hier’s dus baie blomme. Ons sien ook die oulikste klein rooipensskilpaaie. 

Hulle was so keelvol vir woonwa sleep op die grondpaaie, dat hulle besluit het om vir drie dae by die see te bly!

Ons kom uiteindelik by die myndorpie Koingnaas uit en mik dan vir Hondeklipbaai. Dan is dit terug deur die park tot by die Skilpad-padstal. Gelukkig het die wind gaan lê – die vorige twee nagte was regtig snerpend koud.

Huiswaarts! 

Ná die laaste groot oppaksessie is ons terug op die N14. Op pad na Olifantshoek waar ons plek bespreek het in ’n bed-en-ontbyt, ry ons ’n vinnige draai na die sendingdorpie Pella. Ná te veel so-so storte die afgelope paar dae, sink ek met genoegdoening weg in ’n warm bad… en agterna in die skoon lakens.

* Hierdie artikel het oorspronklik op 14 November 2016 op ons webwerf verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon sedertdien verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.