Die jaar was 1988 en die groep wat dié betrokke Juliemaand in ons buurland sou toer, het uit myself, my vrou, Hettie, skoonpa, Kobus van der Spuy, en Elize Momsen, ’n vriendin van my vrou, bestaan.

Ons vier het in my Nissan Safaristasiewa gery. My swaer, Chris van der Spuy, Hettie se neef, Daantjie Hattingh, Foera Fourie en Jaco Heunis was saam in ’n Land Rover. 

Ek en Chris het baie maande lank oor die Botswana-trippie gedroom en saam planne gemaak en was baie opgewonde om hier te wees.
My eerste kennismaking met die Three-Lane Highway na Kang in Botswana was in die donker.

Die Three-Lane Highway het sy naam gekry omdat daar drie tweespoorpaaie langs mekaar gelê het. Die linkerkantste spore was vir die ou Landies van die ’80’s met hulle smal wielsporing.

Die middelste spore, wat ’n bietjie wyer was, was vir die Chev C20 en Ford F250-bakkies.

Dan was daar ’n derde ry, wat baie wyd was. Dié was vir ente gegruis, maar daai dele was meer gat as pad. Dit was waar die beeslorries, wat beeste van die Ghanzi-plase na die Botswana Meat Commission (BMC) op Lobatse vervoer het, gery het. En bewaar jou siel as jy in ’n verkeerde spoor ry en iemand van Botswana sien jou! Want jy befoeter die spoor so met die sandwalletjie wat jou wiele gooi dat die ou wat ná jou kom baie sal sukkel om lekker te ry. 

Die spore was op talle plekke so diep uitgery dat jy die stuurwiel vir lang ente kon los en die voertuig sou self in die spoor bly.

Ons het laat uit Zeerust weggetrek en omtrent eers teen elfuur die aand aangekom by George en Tarina Joubert, by wie ons sou oorslaap.

Van sokkerballe tot doodskiste

GEBAANDE WEË. Hier kan ’n mens iets sien van die drie rye tweespoorpaaie van die Three-Lane Highway.


George en Tarina het daai jare die enigste winkel op Kang bedryf. George het ál sy voorraad met ’n groot lorrie van Lobatse en Zeerust af aangery, insluitende petrol en diesel in 210 liter-dromme. Dit was egter nooit ’n uitgemaakte saak dat jy brandstof daar sou kry nie. 

Jy moes eers per radiotelefoon seker maak sodat George brandstof vir jou kon uithou.

Tarina was ’n opgeleide verpleegsuster wat baie van Kang se babas in die wêreld help bring het. George was op sy beurt deur die regering aangestel as die opsigter en onderhouer van Kang se aanloopbaan.

Wanneer daar ’n vliegtuig sou kom land, moes George en sy manne sorg dat daar nie beeste, donkies, bokke of mense op die aanloopbaan is nie.
Die twee het ook ’n winkel bedryf en dit was ’n groot lekkerte om deur die Jouberts se winkel te stap. Jy kon enigiets van lekkergoed, klere, perdesaals, medisyne (vir mens en dier), Primus-stowe en paraffien, tot speelgoed, motoronderdele, gewere en doodskiste koop. 

En dan was daar ook so ’n spesifieke geur wat jy net in ’n regte plaaswinkel kan kry.

Die volgende oggend het ons die “driespoor” verder gepak in Ghanzi se rigting. Dit was op dié pad waar ek my eerste les in sandry gekry het. Ek was erg opgetrek met die Safari, maar die ding wou nie lekker in die sand loop nie.

Totdat ’n ouerige omie, wat naby Ghanzi geboer het, my van agter af ingery en laat stilhou het. “Jong, jy skop net sinkplaat,” het hy gesê. My wiele is te hard, het hy beduie, en summier begin om die naaste band af te blaas.

Toe ons weer ry, was ek sommer ekstra in my noppies met my Safari. Ek kon nie glo dat hy nou so lekker loop nie!

Daardie nag het ons sommer so langs die pad op ’n oop kol sand kamp gemaak en almal in ’n ry langs die voertuie geslaap.

ONDER DIE STERREHEMEL. Ons het sommer in die oopte geslaap.

Grotte, goggas en vlermuise

Die volgende dag het ons die Drotskygrotte anderkant Ghanzi besoek. Daar was net ’n tweespoorpaadjie na die grotte met ’n omdraaiplek, verder niks.

Die grotte was ’n absolute belewenis en baie groter as wat ons gedink het. Ons was ook goed voorbereid – Daantjie het ’n rol lyn saamgebring, wat ons aan ’n boom by die grot se bek vasgemaak het en afgerol het soos wat ons dieper in die grot in beweeg het.

Daar was mooi stalagmiete, stalagtiete en eienaardige kalkformasies. Sommige het soos lang druppels gelyk, terwyl ander dun en plat was en ’n spookagtige klank gemaak het as iemand daarteen tik. 

Daar was ook snaakse goggas wat in die totale duisternis geleef het, en natuurlik derduisende vlermuise.

IN ROTS GEGIET. Jaco bekyk die mooi stalagtiete binne-in die Drotsky-grotte.

Op sommige plekke moes ons op ons mae deurseil, terwyl ander plekke groot kamers was. Al lig wat ons gehad het, was ’n 12 volt-battery en ’n skietlamp. Dié het ons ook gebruik om video te skiet, want wanneer ons die lig afgesit het, was dit soos die Egiptiese duisternis uit die Bybel se tien plae.

Vandaar het ons na die Aha-heuwels gery, maar op pad het Daantjie vir ’n paar stoppe twak veewagters langs die pad gekry om vir ons ’n krip vol silwerskoon boorgatwater te pomp. Dié het hulle met die murgbene van ’n springbok gerook, terwyl ons heerlik gebad het. Ai, dit was hemels om die stof van die grotkruipery en stink vlermuismis af te was!

Van daar is ons weer ooswaarts tot by die grootpad na Shakawe. By Etsa no.5 het ons petrol gekoop wat met emmers vir ons afgemeet is.

MAAK VOL. Foera en Oupa Kobus tap petrol oor uit ’n emmer by Etsa No.5.

Fisant: 0; Kettie: 1

Ek onthou ook Daantjie het iewers langs die pad, sommer so in die ry van die Landie se dak af, ’n fisant met sy kettie geskiet. Ons het die dingetjie daai aand gebraai, maar nie geëet nie. Die vleis was net te taai.

Ons volgende bestemming was die Tsodilo-heuwels, waar ons die Boesmanrotskuns wou sien. Die tweespoorpaadjie na Tsodilo was verskriklike dik sand en ons voertuie het swaar getrek en en só het die tog deur die dik sand voortgegaan. 

Gelukkig was die kamp toe nie meer te ver nie en het ons vir twee lekker dae by Tsodilo oorgestaan. Van daar af is ons na die Shakawe Fishing Camp waar ons weer vir twee dae oorgestaan het. 

Maar die sinkplaatpaaie het hulle tol geëis. Op ’n keer wou ek ’n boks uit die Safari laai, maar toe ek dit optel, staan ek net met die buitekante in my hande. Die boks se boom en die inhoud het net so bly staan – die onderkant was deurgeskaaf van die sinkplaatpad.

Van Drotsky’s af is ons by Shakawe deur die grens en het ons twee dae by die Popa-valle gekamp en ’n draai deur die Mahango-wildtuin gery. Ons is ook verder aan deur die Caprivi tot by Katima Mulilo en het net buite Katima onder ’n reuse-jakkalsbessieboom kamp gemaak.

Grille en gille

Ons het verder getoer en is Vic-valle toe, en daarna weer terug na die Chobe- en Moremi-parke in Botswana. By Maun se vliegveld was daar destyds ’n eetplek genaamd die Duck Inn, waar jy smullek-ker slap-tjips en hamburgers kon kry.

Ons het daar by so ’n klein kantoortjie gereël om met ’n motorboot na Guns Camp, ’n lodge op een van die eilande iewers in die Delta, te vaar. Daar het ons weer vir twee dae gekamp. 

Die kampeerdery was maar baie basies, so in ’n Robinson Crusoe-styl, en hulle vuurmaakhout was baie duur. Maar daai ronde palmsade wat in hope onder die bome lê, brand net so lekker in ’n donkie as wat hulle braaikole maak.

Die lodge se mense het vir ons ’n mokoro-rit gereël, wat ’n belewenis was, veral vir my vrou. Ons groep het twee-twee opgedeel en elkeen ’n mokoro met sy eie poler gekry. Ek en Hettie se bootjie het gelek en ek het gras onderin gegooi om droër te kan sit. 

Die heel droogste plek was egter heel voor. Ek is mos ’n jintelman en sê vir Hettie sy moet daar gaan sit, en daar gaat ons, gelaai met koeldranke en kameras. Maar kort voor lank was daar ’n bloedstollende gil soos seker nog nooit in die Okavango gehoor is nie. 

’n Groot spinnekop het op Hettie se skoot beland. Sy nie kon uitspring nie en sy moes maar net bly sit, gril en gil. Dit was nie lank nie of dit het gewemel rondom Hettie. Ek het nie besef die spinnekoppe span hulle webbe tussen die biesies nie en dat die persoon voor in die boot hulle eerste gaan vang nie. 

ALLESBEHALWE MAANSKYN EN ROSE. Die mokoro-rit het byna in ’n egskeiding geëindig.

Tot vandag toe glo sy ek het haar aspris laat voor sit.

Ons kon darem ook die Okavango uit die lug sien en ek onthou nog hoe die vlieënier ’n lang draai met ons oor Chiefs Island gemaak het.
Dit was tyd om huiswaarts te keer en by John en Ursula Seaman se Sitatunga Camp net buite Maun het ons ons voertuie reggekry vir die lang pad huis toe.

Ek onthou dít en ons wonderlike vakansie saam met bakgat mense en baie sports asof dit gister was. Daar was nog nie kampvrieskaste en al die kamp-goeters van vandag nie, maar ons braaivleis was vars en ons bier altyd koud. Die skaaptjops en wors was in ’n groot plastiekemmer met ’n toeknipdeksel in sosatiesous ingelê en die vleis het enduit goed gehou. 

En saans het elkeen in die groep sy drinkgoed vir die volgende dag op die grond gesit sodat dit in die nag koud kon word. Die volgende oggend vroeg is dit dan in ons beddegoed toegedraai en dit het vir die hele dag yskoud gebly. 

So het ons lékker getoer, maar ek moet darem ook erken party van vandag se kampfoefies maak dit nóg lekkerder om op ’n kamp- en toervakansie te gaan.


* Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #94 (Junie 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon sedertdien verander het - laat weet gerus as jy so iets raaksien.