In 1933 stap die Britse reisskrywer Patrick Leigh Fermor oor die breedte van Europa, van die Hoek van Holland af tot by Istanbul. Hy skryf daarna twee boeke oor sy ervaringe, en sê iewers: “Ek het nog nooit iemand ontmoet wat al in Bulgarye was nie. Bulgarye lyk na die donkerste, agterlikste en mins aanloklike land, buiten Albanië.”

Ek moet erken: ’n Deel van my het verwag dat die post-Sowjet-Bulgarye ’n bietjie agterlik sou wees, vol stuurs mense. Maar ek was aangenaam verras: Die Land van die Rose is ’n toeganklike, bekostigbare bestemming, veral vir Suid-Afrikaners. Hier’s die allermooiste berge, ’n ryk geskiedenis, wêreldklasstede, indrukwekkende natuurwonders, eienaardige tradisies, allerlei interessante drankies, heerlike kos en vriendelike inwoners wat regstaan om enige vooropgestelde idees verkeerd te bewys. 

Die wilde weste

Ek en my man, Dennis, ons dogter, Kerry en haar kêrel, Dieter, se tien dae lange reis begin in die suidwestelike deel van die land, in die omgewing van die Rila-berg, die hoogste bergreeks in Bulgarye. 

Die Oosterse Ortodokse Rila-klooster is die grootste en bekendste van sy soort in Bulgarye en is ’n Unesco-wêrelderfenisgebied. Dit lê in die hartjie van die Rilaberge (1 147 m bo seespieël) en is in die 10de eeu gestig deur die kluisenaar Ivan Rilski, later bekend as Sint John van Rila. Dit word wyd beskou as die kulturele en geestelike sentrum van Bulgarye, en was veral invloedryk gedurende die Bulgaarse Herlewingstydperk in die 18de en 19de eeue. 

Die klooster se Geboortekerk van Maria se mure is oortrek met kleurvolle fresko’s deur Bulgaarse Renaissance-skilders. Die grootte en grootsheid van die plek het ons asem weggeslaan. Die Rila-reservaat met sy bekende Sewe Rila-mere lê ’n paar kilometer noord van die klooster. Hier’s verskeie staproetes en in die winter ski mense teen die hange van die berge. 

Die Rila-mere

Ons wil die hoofstaproete verby al sewe mere stap. Die heel boonste een, Salzata (dit beteken “die traandruppel” en verwys na die meer se vorm), is 2 500 m bo seespieël! Om by die staproete se beginpunt uit te kom, ry ons eers ’n steil bergpas uit en kruie daarna vir nog ’n halfuur op skistoeltjies voordat ons die drie uur lange staproete tot bo takel. ’n Stroom stort telkens oor ’n watervalletjie uit die een meer in die volgende, en op die spieëlgladde watermassas sien jy die blou bergpieke se weerkaatsings. 

Soos die meeste lande in Europa is Bulgarye ’n geskiedenisles op sy eie. Voor dit deur die Grieke en Romeine gekoloniseer is, het Trasiese stamme hier gewoon – hulle grafkelders is versprei regoor die land, baie daarvan nog geseël. 

Ons laaste avontuur in die suidweste was ’n besoek aan ’n geskiedkundige terrein naby die dorpie Belchin. Ons stap verby ou grafte en geboue wat verkrummel. Die Trasiërs het glo uitstekende kennis van wiskunde en ingenieurswese gehad en het gedetailleerde juweliersware vervaardig uit goud, silwer en edelstene. 

Van stad tot spa

Ons gaan draai in die hoofstad, Sofia – ’n hartlike plek. Baie van die interessante plekke is naby mekaar geleë, dus is dit maklik om dié stad te voet te verken. Die Ortodokse Alexander Nevsky-katedraal – Sofia se grootste kerk – laat veral ’n blywende indruk. Dis tussen 1882 en 1912 gebou en het plek vir tot 7 000 mense! Die binnekant is versier met dramatiese muurskilderye, mosaïekwerke en gebrandskilderde vensters. In vergelyking hiermee is die Sint George-kerk nie groot of ghrênd nie, maar dit hou die rekord vir die oudste gebou in Sofia – die Romeine het dit al in die 4de eeu n.C. gebou! 

Ná die gewoel van die groot stad is ons volgende stop die dorpie Starosel in die Trasiese vallei. Dit lê min of meer in die middel van Bulgarye, sowat 150 km oos van Sofia. Ons maak kennis met die gebruik van martenitsa – rooi en wit versierings wat aan die bome vasgemaak word. ’n Tipiese martenitsa is gewoonlik twee poppies – ’n mannetjie en ’n vroutjie – gemaak uit garing. Die Bulgare glo hierdie gebruik verseker ’n goeie oes en voorspoed vir die een wat dit opgehang het. 

Die dorpie is bekend vir die Starosel-kompleks, ’n vakansieoord waar ons die spageriewe (masserings en warm swembaddens) ten volle benut, en ook die plaaslike wyne proe in ’n replika van ’n antieke Trasiese tempel.

Skil die jare weg

Ons volgende stopplek is die geskiedkundige deel van die stad Plovdiv – deesdae Bulgarye se naasgrootste stad. 

In antieke tye was dit bekend as Phulippoupolis, ’n belangrik grensvesting van die Bisantynse Ryk. Die Ou Stad is ’n netwerk van klipstraatjies uit daardie era, met die ruïne van ’n antieke Romeinse teater op ’n heuwel. Die kolomme en standbeelde maak ’n dramatiese raam vir die modern stad wat onder dit lê. En dan, net om die volgende hoek, staan 18de eeuse Ottomaanse vakwerkhuise wat versier is met houtbalkonne en pleisterwerk.

Van Plovdiv af ry ons in ’n noordoostelike rigting tot by die dorp Veliko Tarnovo om die Tsaverets-vestingstad te verken. Dié Middeleeuse vesting was tydens die Tweede Bulgaarse Ryk (1185-1396) die hoofstad en lê uitgesprei oor drie heuwels. Steil klipppaadjies neem ons teen een van die heuwels uit tot by die Patriarg se Kerk. 

Hierna mik ons suid na die dorpie Tryavna, bekend vir sy ou klipbruggies en houtsnykuns. Van hierdie basis af besoek ons die Devetashka-grot – dié massiewe spelonk is sowat 2 km in lengte en die “plafon” is op plekke tot 100 m hoog. Vyftien spesies vlermuise kom hiberneer elke winter hier!

Nie ver van Devetashka af nie, is die skouspelagtige Krushuna-waterval. Die water borrel hier uit ’n fontein op en stort dan oor travertynrotse tot in helder poele na benede. Die hoofwaterval is sowat 20 m hoog en ’n mens stap met ’n kort paadjie langs deur ’n woud en oor houtbruggies om daar uit te kom. 

Ons vakansie kom by Varna langs die Swart See tot ’n einde. Dis ’n tipiese kusdorp met verskeie oorde en ’n ontspanne vakansiegevoel. Vir ’n laaste skoot kultuur onderneem ons ’n daguitstappie na Nesebar, ’n antieke vesting op ’n skiereiland sowat 100 km suid van Varna. Dit is deesdae aan die noorde en suide omring deur meer moderne vakansieoorde. 

Ons vlieg uit Varna terug na Sofia en vandaar na Suid-Afrika. Voor dié vakansie sou ek skaars twee keer oor Bulgarye dink; en nou oorweeg ek dit reeds om terug te kom… 

* Beste tyd om te gaan? Ons was in die herfs (Oktober) daar. Hul seisoentyd is van Junie tot Augustus, dan kos alles (veral in die kusbestemmings aan die Swartsee) duurder. Die lente (April en Mei) is ook ’n goeie tyd.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #139 (Mei 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.