Die Botswana-Kalahari is nie ’n maklike plek vir ’n kampvakansie nie. Jy het die regte voertuig en onderdele nodig, en jy moet selfonderhoudend wees. Maar wie’s bang?

In September 2016 val ek en my vrou, Dani, saam met twee ander paartjies – Tony en Gill Theron en John en Jill Venning – in die pad om van die wilde kampe in Botswana te verken. Ons plan is om na die noordelike dele van die Kgalagadi-oorgrenspark te toer (nie Mabuasehube verder oos nie), dan die park te verlaat en ’n paar dae in die Kaa-konsessiegebied wat verder noord lê deur te bring.

Geen reën het sedert Maart hier geval nie en die hele gebied is so droog soos ’n elandgeraamte. Die panne is leeg, behalwe waar drinktrôe gebou en vol water gepomp is.

Die drie voertuie in ons konvooi – twee Mitsubisi Pajero’s en ’n Toyota Prado – het elk 30 liter ekstra brandstof en 70 liter water.

Ons bring ons eerste aand deur by die Leeupan Guest Farm. Die TV-reeks Meerkat Manor is op dié gasteplaas sowat 22 km wes van Van Zylsrus verfilm.

Die volgende oggend ry ons 13 km terug soos ons gekom het tot by die Middelputs-grenspos se afdraai. Die pad tussen Middelputs en Twee Rivieren (of “Two Rivers”, soos dit aan die Botswana-kant genoem word) is meestal geteer; net die laaste stuk na die parkingang is goeie grondpad.

Ons gooi brandstof in en mik vir Rooiputs, sowat 26 km noord van die Twee Rivierenruskamp. Rooiputs en Polentswa is skaars ’n kilometer van die Nossobpad af – die kampplekke is dus ’n goeie oefenlopie as jy nog nooit tevore selfversorgend gekamp het nie.

Rooiputs het ses kampplekke en ’n lodge naby. By elke kampplek is ’n boom of twee; ’n ronde rietskuiling met ’n puttoilet binne; nog ’n ronde skuiling met ’n metaalraam waaraan jy jou stortsak kan hang; ’n A-raamskuiling vir skaduwee; en ’n kraan bo ’n wasbak. Die water is ondrinkbaar brak. Ons gebruik dit net om te was.

Al die kampplekke lyk basies dieselfde, met die uitsondering van kampplek 4 wat onder ’n groot watertenk is en nie sy eie ablusie- of stortgeriewe het nie. Kampeerders is veronderstel om die geriewe by kampplek 6 te deel, maar dié lê sowat 70 m weg – dis darem net te ver om met jou handdoek en soap on a rope te stap wetende dat ’n leeu dalk vir jou loer...

Kgalagadi
KGALAGADI-SAFARI. Op ’n reis na die Kgalagadipark kan jy byna doodseker wees jy gaan leeus sien, soos dié naby Rooiputs

Saans gaan die blawwende geitjies tekere asof hulle by ’n aandelebeurs werk. Dankie tog hulle is ook later bed toe!

Ons slaap drie nagte by Rooiputs – bedags ry ons rond en verder span ons uit by die kamp.

Wanneer gaan jy weer hierdie soort ooptes om jou hê?

Sesatswe en Swartpan toe

Van Rooiputs af ry ons noord na die Nossobruskamp, waar ons weer brandstof ingooi voor ons nog 60 km aanry tot by Polentswa. Ons sien vreeslik uit na die kamp by Polentswa. Dis omtrent ’n gesukkel om plek te kry.

Polentswa het dieselfde uitleg as Rooiputs, maar net drie kampplekke en… g’n water nie! Nie eens brakkerige waswater nie. Ons is onverhoeds betrap en ’n paar van ons ry die volgende dag terug na die Nossobruskamp om water in vyfliterhouers te koop.

Ons bly by staanplek 2 en hoor later by vorige kampeerders ’n Kaapse kobra en ’n skerpioen met ’n slegte houding noem ook dié staanplek huis! Gelukkig het ons nie een van die twee jafels gesien nie. ’n Leeu kom kuier wel op ons eerste nag. Ons hoor hom in die donker brul en sien die volgende oggend spore by die kampplek.

Ná drie aande by Polentswa takel ons die Polentswa-wildernisroete. Die 4x4-roete begin by dié kampplekke en strek noord tot byna by die Kaa-hek en dan weer terug tot by die Nossobpad. Op pad is twee oornagkolle, Sesatswe en Lang Rambuka. Elke skof is sowat 109 km lank op sanderige tweespoorpaaie.

Ons ry sonder voorval tot by Sesatswe. Dis ’n puik kampplek – beslis een van die bestes in die Botswana-Kgalagadi! Hier’s geen geriewe nie, maar heelwat skaduwee, dis mooi gelyk en in ’n afgeleë deel van die park. Ons voel soos die eerste ouens wat dié deel van die park ontdek. Ons besluit net hier om twee aande te bly.

Ons gaan in elk geval oor ’n dag of wat weer noord ry na Swartpan en die Kaa-hek. En ons het ook onderskat hoeveel brandstof die dik sand vreet...

Kgalagadi
WOESTYNWATERSTASIE. Nie al die kampplekke aan die Botswanakant van die Kgalagadi het water nie. Gelukkig vir Dave-hulle het Swartpan in die noordweste van die park wel gehad. Hulle kon hulle voorraad hier aanvul.

Die volgende kampplek op ons lysie is Swartpan, die mees noordwestelike Botswana-kamp in die Kgalagadi. Op pad soontoe ry ons verby die Kaa-hek waar ons vullis weggooi.

Tot ons vreugde hoor ons by die hekwagte daar is water by Swartpan. Die tweespoorpad soontoe staan vol droë bossies en ons voertuie word nogal sleg gekrap. Vir middagete hou ons stil by ’n klein kamp – Sizatswe – met net een boom wat waghou oor die vlaktes. Van daar af ry ons na Swartpan.

Daar tref ons ’n watertrog vol aasvoëls aan.

Hier is twee kampplekke: Swartpan 1 is die naaste aan die pan; Swartpan 2 sowat 300 m verder. Al twee is lieflik, met groot bome vir skaduwee. Ons kamp by Swartpan 1, maar dié se kraan is droog; ons gaan haal dus water by Swartpan 2 – goeie, drinkbare water.

Swartpan is die gunstelingkampplek van ons toer. Snags kruip ons in ons tente weg vir leeus. Op die tweede dag suiker ’n groot leeuwyfie by die kamp in, kyk dinge uit, draai om en loop mank weg. Sy het duidelik haar poot beseer – dalk is dit wat haar laat omdraai.

Ná twee nagte by Swartpan skuif ons aan na Gnus Gnus, sowat 55 km suid – wat ’n ramp. Die kampplek lyk soos ’n vergete grenspos: vaal en sonder skaduwee. As jy ooit ’n vakansie hier beplan, hou verby.

Dit is so saai dat ons besluit om aan te beweeg na Thupapedi, sowat 30 km verder, in die hoop dat daar niemand is nie. Sukses!

Thupapedi is verlate met hope skaduwee.

Kgalagadi
DIE HUIS ROEP. Dave en sy vrou, Dani, by die Masetlengkampterrein, met die pan in die agtergrond. Hier geniet hulle een van hulle laaste sonsondergange in die park voordat hulle huiswaarts keer.

Kaa se konings

Ná twee nagte by Thupapedi verlaat ons die park om die Kaa-konsessiegebied te verken. Toe ons by die Kaa-hek uitteken, noem ons aan die bewaarder dat ons van plan is om vir twee aande by die Masetlengpan te kamp. Volgens hom het ons ’n permit daarvoor nodig wat ons op die dorpie Zutshwa moet kry. Dit verskil van die inligting in ons Botswana-gidsboeke, African Adventurer’s Guide To Botswana deur Mike Main en The Shell Tourist Travel and Field Guide of Botswana deur Veronica Roodt. Al twee skryf ’n mens kry die permit op die dorpie Ngwantle – baie nader aan die pan.

Maar ons wil nie met die bewaarder stry nie en kies koers na Zutshwa. Ons vat ’n mooi ompad soontoe – ’n ou jagpaadjie wat nou oop is vir die publiek sedert Botswana die praktyk afgeskaf het – en ry al bonsend verby groot troppe bokke.

Ons kom uiteindelik by Zutshwa en volg ’n ou groen bordjie met ’n pyltjie wat die pad na die permitkantoor wys. Ná ’n rukkie kom ons by ’n tweede bordjie, ook met ’n pyltjie wat na die permitkantoor wys. Maar die kantoor is nêrens te siene nie! Ons vra ’n paar inwoners, maar niemand het al van hierdie kantoor gehoor nie. Ons gee moed op en ry na Ngwantle, soos die gidse aanbeveel.

Die grondpad na Ngwantle is in ’n goeie toestand. By die enigste kruising op die dorpie vra ons waar die permitkantoor is. Daar ís ’n vrou wat permitte uitreik, antwoord die mense, maar sy is nie by die huis nie, en nee, hulle weet nie wanneer sy terug sal wees nie. Ons besluit om maar pan toe te gaan en op pad terug vir ons verblyf te betaal.

Dit lyk nie asof die tweespoorpaadjie onlangs gebruik is nie – dis toegegroei en ongelyk. Ek knars telkens op my tande terwyl ek hoor hoe die bosse ons voertuig krap.

In sy gids beskryf Mike Main Masetleng as een van die mooiste plekke in Botswana. Ongelukkig is ons op die verkeerde tyd hier, want alles is maar bra droog en bleek. Maar jy kan jou voorstel hoe die pan en omliggende bome ná somerreëns moet lyk.

Die weer begin draai: ’n Bitter suidewind waai en dis snags snerpend koud. Ons besluit om huis toe te ry via Kang en die Ramatlabamagrenspos.

By die huis aangekom, is ons stowwerig en moeg en die verfwerk van die voertuie gehawend, maar jy kan nie help om ’n bietjie trots te voel dat jy so ’n wilde deel van die Kalahari verken (en oorleef) het nie.

Wenke

Los liefs die Yaris. Jy gaan dik sand in Botswana teëkom en paaie wat erg uitgery is in Suid-Afrika.

’n All-wheel-drive-sportnutsvoertuig met ’n goeie grondvryhoogte behoort te werk. Of ’n 4x4 met laestrek, om veilig te wees.

Kry die basiese dinge reg. Ons is goed georganiseerde kampeerders, met laaie, kaste en ’n yskas in die voertuig. Ons gebruik ’n tweebatterystelsel om die yskas aan die gang te hou. Ek het ook ’n Just Solar-110 Wsonpaneel wat kan opvou saamgevat (justsolar.co.za), waarmee ek ’n bykomende battery gelaai het op dae wat ons nie gereis het nie.

Die ander Pajero in ons konvooi het drie bykomende batterye gehad – een in die enjinkompartement en twee in die wielholte in die kattebak – met ’n Ctek-DC-DCbatterylaaistelsel.

Baie van die kampplekke waar ons was, het geen geriewe gehad nie; ons sonkrag-stortsak was dus noodsaaklik.

’n Kompressor om die wiele te pomp is ook noodsaaklik, net soos ’n GPS waarop Tracks4Africa se kaarte van die gebied gelaai is.

Ons het ’n paar verskillende Kgalagadi-kaarte saamgevat en het gevind Infomap se papierkaart was die bruikbaarste.

En belangrik: Wet Wipes maak die lewe altyd ’n bietjie gemakliker!

Maak jou reg vir herstelwerk.

Ons vat altyd ’n herstelstelletjie van Back on Track (backontrack.co.za) saam vir gaatjies, saam met ekstra smeltdraadjies, gom, kabelstroppe, duct tape, maskeerband, twee sleepbande, ’n kinetiese strop, D-skakels, ’n banddrukmeter en ’n gereedskapskis.

Op die toer het ons die banddruk verminder tot 1 bar op die voorste wiele en 1,2 agter. Dit was natuurlik om deur Botswana se sagte sand te kom en te keer dat ons tande op Suid-Afrika se sinkplaatpaaie uitval!

Stuur ’n e-pos na dwnp@gov.bw om te bespreek. 



Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 148 (Februarie 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.