Van die dag dat ek en my broer Francois ons rybewys het, verken ons Suid-Afrika saam. In Desember 2007 besluit ek, Francois en sy vrou, Tania, om Richtersveld toe te gaan.

En die Sederberg en Weskus is mos op pad soontoe – ons ry sommer daar ook aan!

Dag 1: Stellenbosch na Uitspankraal

Uitspan onder die sterre

Die Hilux se bak is stampvol. Op die dakrak is ook nog twee jerrykanne, ’n tafel en ’n geel driemankajak wat soos ’n groot piesang lyk.

Net ná sesuur die oggend draai ons die Hilux se neus noordoos uit Stellenbosch uit, Ceres toe, waar ons die laaste padkosbroodjies eet. Ons mik om middagete op Wupperthal te wees, maar besluit om nie die maklike pad oor Citrusdal en Clanwilliamte vat nie. Net noord van Prince Alfred Hamlet draai ons regs op ’n grondpad wat tot op die randjie van die Sederberg loop. Dis klipperig en ons vorder stadig, maar die landskap is pragtig, amper hipnoties.

Die son sit al hoog toe ons deur ’n klein dorpie ry. Dis net ’n handjie vol huisies en ’n naambordjie wat sê “Polfyntjie”. Die GPS sê dis Eselbank.

Uiteindelik, kort ná een, steek Wupperthal sy kop om ’n draai uit. Ons eet skons met aarbeikonfyt en room en stem saam met D.J. Opperman se woorde teen die muur: Op die groot saaidag van die Heelal het reeds ’n entjie duskant Wupperthal oor die kaal Noordweste ’n sakkie van die Heer se  beste saad per ongeluk gelek, gelek en uitgeval.

Teen sononder is ons iewers tussen Uitspankraal en De Bos. “Vanaand slaap ons onder die sterre,” sê Francois. Ná braaivleis en ’n Amarulatjie bou ons ’n skuiling met die tafel en trommels en raak onder die ontelbare sterre aan die slaap. 

STRANDKAMPTERREIN. Tussen Groenriviermond en Hondeklipbaai het ons net voor sononder van die grondpad afgetrek en rég langs die see kamp opgeslaan.

Dag 2: Uitspankraal na iewers tussen Groenriviermond en Hondeklipbaai

‘King Cones’ op Garies

Vandag mik ons Groenriviermond toe van waar ons noord teen die Weskus gaan opry. Op Garies koop ons King Cones en gooi brandstof in die bakkie. In die Noord-Kaap se somerhitte moet jy vinnig eet – die roomys smelt vinniger as wat jy kan lek!

Op Groenriviermond verduidelik ’n oom vir ons by watter hek ons moet inry vir die sandpad wat kuslangs Hondeklipbaai toe loop.

Die pad is nie op die kaart of die GPS nie – wonderlik! Die sand raak vinnig dik, maar nie genoeg om die Hilux te stuit nie. Francois is agter ’n stuurwiel gebore en ek kan sien hy is in sy element.

Die GPS wys die pragtigste name: Skietloodbaai, Koringkorrelbaai, Grootgeut, Adam se baai, Skuinsbaai, Platbaai, en Bitterriviermond. Môre wag daar Spoegrivierbaai, Enkelduinbaai en, natuurlik, Hondeklipbaai.

Teen halfvyf kry ons ’n knus kampplek reg teen die kus. Ons bou weer ’n skuiling langs die bakkie om die woeste weskuswinde te stuit.

Dag 3: Weskus na Springbok

’n Ou mynveër en ’n robkolonie

Teen halfnege jaag die son ons uit die kooi. Op pad Hondeklipbaai toe ruik ons ’n robkolonie voor ons hulle blink lywe sien. Ons klouter oor rotse om hulle van nader te bekyk, maar maak seker ons steur hulle nie.

Omtrent twee uur se ry en 15 hekke later staan ons langs die wrak van die Aristea, ’n I&J-treiler wat in die Tweede Wêreldoorlog as ’n mynveër gebruik is en op 4 Julie 1945 buite Hondeklipbaai op die rotse geloop het.

Ons ry aan Springbok toe waar ons in die Elkowerogastehuis inboek.

Dag 4: Springbok na De Hoop

Volmaan op die Oranje

Ons staan eers teen negeuur op.

Niemand is regtig uitgerus nie. Die muskiete het ons byna lewendig opgevreet!

Vandag ry ons noord tot op Steinkopf voordat ons wes draai in die rigting van Port Nolloth. So 30km buite Steinkopf vat ons ’n grondpaadjie wat regs uitdraai.

Richtersveld, hier kom ons!

Ons is in die GPS se hande en ry deur Eksteenfontein, verby Kuboes, tot by die hoofingang van die Ai-Ais-Richtersveld-oorgrenspark. Dit is kwart oor vier – dit het ons byna heeldag geneem om by die park uit te kom en dis nog ’n stewige entjie tot by ons kampplek op De Hoop.

Op pad soontoe stop ons by “Die hand van God” – ’n natuurlike verskynsel wat lyk soos ’n reusehandafdruk in ’n massiewe rots.

Akkedispas is die Hilux se taaiste toets tot dusver en hy slaag dit met vlieënde vaandels. Langs die pad bak tientalle akkedisse in die laaste middagson.

Net ná seweuur is ons by die De Hoop-kampterrein. Ons ry met ’n amper onbegaanbare paadjie tot by een van die mooiste staanplekke, net mooi rég langs die Oranjerivier.

Ons vang krappe tussen die rotse en swem in die strome. Om en by negeuur steek die volmaan sy kop agter ’n berg aan die Namibiese kant van die rivier uit. Dit gooi ’n helder weerkaatsing op die rivier en verlig die hele vallei.

R
’N AFKOEL-DIP. As die kwik rondom 45 °C draai, is ’n middagroei op die Oranjerivier ’n lafenis. Die kleinvee komkoel ook graag in die rivier af.

Dag 5: De Hoop na Richtersberg

Rukwinde by Richtersberg

Vanoggend is niemand lus om te pak nie. Eers teen kwart voor twaalf is ons op pad. Richtersberg, ons tweede kampplek in die Richtersveld, is nie ver nie en kort voor lank ry ons in die dik sand die kampterrein in. Die Hilux verdwyn onder die stofwolk.

Dit is wárm, en met die eerste oogopslag ook nie die mooiste kampeerplek nie. Met ’n bietjie geduld kry ons ’n pragtige plekkie aan die rivieroewer – kompleet met sy eie grasperk!

Rukwinde maak dit moeilik om kamp op te slaan, maar teen vieruur is ons klaar en kan ons die kajak in die water sit.

Dag 6: Richtersberg

Stille nag

Vandag is Kersdag en ons slaap laat. Of altans, ons probeer. Ek word kort-kort wakker. Eers is dit die geblêr van bokke en skape wat kort ná sonsopkoms hulle dors by die rivier kom les. En toe – ’n onbeskryflike pyn op my kop! Ek voel hoe iets met klein pootjies en skerp naeltjies hom desperaat in my kopvel probeer ingrawe.

Ek draai om en sien ’n kleingrysmuishond weghardloop met sy twee makkers in die agtergrond besig om die bure se kampplek te inspekteer.

Die kampterrein is vol kleinvee en die kwik staan seker hier by die 45ºC. Ons roei weer op die rivier en gaan verken met die bakkie ’n tweespoorpaadjie wat naby Tatasberg afdraai. Die landskap laat jou met verwondering – die rotse verdwerg die Hilux. Op pad terug na die kamp toe versper ’n trop van omtrent vyftig boerbokke die pad.

Net voor donker kom maak nog twee gesinne hulle tuis by die kamp. Hulle het besluit om ’n kortpad tussen De Hoop en Richtersberg aan te pak, ten spyte daarvan dat die pad gesluit is, en in die proses het een van die voertuie skade opgedoen.

Ek braai hoender vir ons Kersete en Francois brand die pap. Die stilte, rivieruitsig en vriende maak dit ’n spesiale Kersfees.

Dag 7: Richtersberg na Kokerboomkloof

Die klaasneusmuis van Kokerboomkloof

Die son bak ons uit die bed en ons besluit om die park te verken en sommer terselfdertyd die yskas se battery te herlaai.

Tot net voor vyfuur ry ons rustig op die paaie van Richtersberg en Kokerboomkloof. Kokerboomkloof is ver van die rivier af en het geen lopende water nie.

Voor donker verwonder ons ons weer aan dié omgewing. Rotse – groot en klein – versier die dorre landskap en tussenin groei honderde kokerbome met hulle papierbas en bossiekopblare.

Ons sluit ons dag af met ’n lekker vleisie oor die kole en word geselskap gehou deur ’n dapper klaasneusmuis wat kort-kort kom water bedel.

Dag 8: Kokerboomkloof na Onseepkans

Teëspoed by Kakamas

Ons is vroeg uit die vere: Vandag wil ons aanstoot na die Augrabieswaterval toe en weet die klipperige en steil Helshoogtepas op pad na die Helshoogtehek in die ooste van die reservaat gaan ons waarskynlik nog baie lank besig hou.

Die hitte is egter vir ons ’n veel groter uitdaging.

Ons verkyk ons aan die verskeidenheid vetplante tussen die klippe. Naby die parkgrens groei rooi aalwyne met geel blomme in die vorm van ’n duiwelsvurk – sover die oog kan sien.

Ons is hartseer om die Richtersveld te verlaat. Hier voel jy so na aan die natuur.

Ons ry terug Springbok toe waar ons oos draai, Pofadder se kant toe. Op pad Kakamas toe begin die Hilux hoes en proes. Ons sukkel byna ’n uur om hom weer aan die gang te kry. ’n Vuil petrolfilter is die sondaar.

Nadat die son gesak het, slaan ons kamp op langs die Oranjerivier. Hier op Raap en Skraap verbou hulle uitvoertafeldruiwe.

Dag 9: Onseepkans na Kuruman

Bederf op ’n druiweplaas

Vanoggend word ons op die druiweplaas bederf. Ons gasvrou, Glenda Goosen, nooi ons vir ’n toer deur die pakstoor. Ons moet elkeen ’n jas en haarnet aantrek.

Dis ongelooflik om te sien wat agter die skerms gebeur en hoeveel mense aan elke taak werk. Ek vat ’n kans en vra of ons druiwe kan koop. “Nee, ek gee sommer vir julle,” sê Glenda laggend. Op pad Kuruman toe eet ons ons stroopsoet.

Môre ry ons huis toe, met nuwe herinneringe aan dieWeskus, Sederberg en Richtersveld, elk met sy eie bekoring.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg # 49 (November 2008) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.