Ek en my vrou, Jessica, het een dag besluit om vinnig ’n draai te ry om na die sojaboonlande op ons verlate plaas in die Noordoos-Vrystaat te gaan kyk.

Die plaas het mooi rantjies, met spruite wat daardeur loop, en daar is baie mooi plekke om te ry.

Ons vierjarige seun, Johan, was saam met ons en ek het net langs die spore gery om uit die modder te bly. Maar daar gaan staan ons Cruiser tot by sy deure in pap modder!

Ek móés probeer uitkom, want daar is geen selfoonontvangs op die plaas nie en die naaste bure is sowat 15 km van ons af weg.

Ek en Jessica (hoogs negatief) het klippe onder die wiele gepak, maar elke probeerslag om uit te kom was tevergeefs. Toe moes ek maar my trots sluk. Die drie van ons het ’n rantjie uitgeklim om ’n selfoonsein te soek.

Met ’n gehakkel en gesukkel kry ons toe my goeie vriend Marco Tromp en sy vrou Claudia in die hande. Hulle was egter 70 km ver en was nog nooit op ons plaas nie. 

Dit het ’n hele paar SMS’e gekos voordat hulle uiteindelik die pad tot by ons kon kry, waar hulle eers lekker vir ons gelag het voor Marco die Cruiser uit die modder getrek het.

Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #83 (April 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus as jy so iets raaksien.