Ek het al ’n hele paar keer gewonder hoekom mense so verknog raak aan avontuurmotorfietse.

Ja, ja, daar is al die clichés oor die vryheid van die langpad en so aan, maar wat is dit wat ’n mens regtig daaruit kry? 

Daar’s natuurlik die gevoel dat jy so effens meer roekeloos is as gewoonlik, en die opwinding terwyl jy ry, maar dis veel meer as dit. 

Dit gaan ook oor wat deur ’n mens se gedagtes flits terwyl jy vir so ’n tog voorberei – dan begin ek skielik oor nuwe paaie en plekke droom. 

Om op ’n ysterperd deur die landskap te trek laat jou dinge uit ’n ander perspektief sien. Wanneer jy stop, is jy dadelik deel van die landskap, en terwyl jy ry, werk jou sintuie hard: Jy kan partykeer die modder in ’n vlei ruik of die koue van die mis in ’n driffie op jou vel voel. 

En dan is daar natuurlik nog die stille kameraadskap tussen motorfietsryers wat mekaar op die langpad raakloop. 

En helaas, daai storie dat jy vry voel, is nie nonsens nie! 

Op die langpad is dit net jy en jou motorfiets en die minimum bagasie waarmee jy oor die weg moet kom. 

DIE PLAN...

’n Motorfiets-trippie is natuurlik nie alles net maklik nie – probeer ’n slag ’n week vind wat vier werkende mense pas. 

Ons wou soveel as moontlik grondpaaie in die Tankwa-Karoo en Boesmanland in die Noord-Kaap verken. Tussen my, Jurie Wessels, Jean Pierre (J.P.) Pellisier en Werner Viljoen was daar drie KTM 950-motorfietse en een BMW1200 GS. 

Die voorbereiding 

LANGPAD-PARAAT

As jy vir ’n paar dae oor verlate vlaktes gaan ry, moet jy voorsiening maak vir ekstra petrol, kos en water. Gelukkig vir ons is my swaer, Marc Aucamp, ’n ingenieur wie se hande vir niks verkeerd staan nie en hy het vir al die KTM’s ’n spesiale raam van aluminium gemaak wat twee ekstra 5 literkannetjies kan dra.

Ons het ook ’n waterdigte kameratas van 10 liter as ’n bagasietas ingespan. 

Ons het geen noodonderdele saamgeneem nie; slegs ekstra binnebande. 

PADKOS

Ons het besluit om nie die bagasie onder mekaar te verdeel nie. Elkeen moes vir homself sorg. Omdat ons gereeld deur dorpe sou ry, het ons net die basiese kosgoed soos koffie, water, suiker, sout en peper ingepak. 

Deur die dag het ons gepeusel aan biltong en tameletjies en saans vleis gebraai. 

DAG 1

Tankwa-Karoo tot Loeriesfontein: ongeveer 250km 

Sandpad is nie speletjies 

KNETTERKUIER. Dis heerlik om die rustigheid van ’n kampvuur saammet goeie vriende tussen niks en nêrens te geniet.

Ek en J.P. besluit om vir Jurie en Werner, wat eers twee dae later uit Kaapstad en Grabouw kan kom, te wag op Henk van Niekerk se plaas in die Tankwa-Karoo. 

As jy eers oor die Theronsberge is en dan deur Karoopoort ry (so 40km van Ceres af), kry jy daai kenmerkende Karooveld-reuk, net daar waar die teerpad in grondpad verander. Dit voel amper of jy al in Namibië is. 

Die agterryers daag twee dae later, uitasem, by ons op en ons is daar vort in ’n noordelike rigting op die R355. Dis omtrent 43km tot by De Bos, waar ons slap links draai na Uitspankraal en dwars oor die R364 Nieuwoudtville toe ry. 

My motorfiets se nuwe voorwiel is te hard gepomp, en êrens op pad Uitspankraal toe steek hy in die dik sand vas. Ek gly soos ’n onervare ruiter op ’n bloots perd rond en dit voel of my maag by my keel wil uitklim. Om amper te val is wragtig erger as om regtig te val. 

Ek was lanklaas in dié deel van die wêreld. Op pad Nieuwoudtville toe besef ek net weer hoe onbeskryflik mooi dit hier is. Die landskap en plate blomme is soos ’n prentjie op ’n outydse koekblik. 

By Nieuwoudtville klim ons weer op die teerpad, die R357 na Loeriesfontein. Die kwik begin skerp daal, en toe ons uiteindelik op Loeriesfontein aankom, skud die mense by die plaaslike winkel net die kop toe hulle hoor ons beplan om die aand buite te slaap. 

Net voor ons die grondpad na Granaatboskolk aandurf, stop daar ’n man in ’n Toyota Venture voor die apteek en groet vriendelik. 

“Boet,” stel hy homself voor, ’n vriendelike ou. “Nee, manne, daai pad het so by so niks skuiling nie en die lorries het hom uitgetrap ná die reën. Volg my.” 

Buite die dorp, naby die gholfbaan, wys Boet vir ons ’n plekkie tussen bome. Dis besig om sterk skemer te word en dis vrekkoud. 

Ons moet nog kamp opslaan. 

Ek maak my ou weermagponcho aan my motorfiets vas sodat dit ’n skerm teen die ysige wind vorm, en maak my bed langs dit. 

Die polisiekoffie help ook darem teen die koue, moet ek bieg. Die ander manne lê egter in die oog van die wind en is die volgende oggend minder gelukkig… 

DAG 2

Loeriesfontein tot by Raap en Skraap: ongeveer 350km 

Boesmanland, vat my hand 

Ons gaan maak eers ’n draai by ons nuwe vriend Boet Loubser se vliegtuigfabriek op die dorp (hulle bou tweesitplekvliegtuie daar) voordat ons vort is Granaatboskolk toe. Skielik is ons op die pad na die hemel (of die hel, afhangende van jou ryvernuf). 

Die probleem met ’n volgepakte motorfiets wat 300kg weeg, is dat jy teen 120km/h op ’n grondpad nie maklik gestop kry nie – dis amper soos ’n stoomlokomotief wat sonder brieke teen ’n afdraande afry. 

Boet is reg: Dit moet vreeslik gereën het hier in die Boesmanland! 

Gelukkig was ons nie toe op hierdie pad nie. Elke 50m is daar nog ’n klein “portapool” in die middel van die pad. 

“Boet,” stel hy homself voor, ’n vriendelike ou. “Nee, manne, daai pad het so by so niks skuiling nie en die lorries het hom uitgetrap ná die reën. Volg my.”

Die eerste keer dat ek oor ’n blinde hoogtetjie kom en die “swembad” voor my sien, is daar min ruimte om kreatief te wees. 

Middeldeur klief is buite die kwessie, want die modder sal jou beslis verswelg. 

Die enigste opsie is om die klein, droë stukkie spoor aan die kant van die poel te volg. Draai die perd se oor en laat wiel! Gelukkig vir my is ek op ’n baie gewillige perd en hy luister. 

Ná die amperse voorval vat ons dit rustiger tot by die aansluiting met die R358. Op die klipperige wit pad na Pofadder oorval daai absolute gevoel van vryheid my weer. Dis net ons en hierdie reguit stuk pad. Niks anders nie. 

Hier is nie koppies of draaie of droë rivierlope nie. Net die pad, met grasvlaktes aan weerskante en ons wat die landskap met stofstrepe verf. 

Die R358 loop deur Pofadder, al die pad Onseepkans toe. Dis nou ’n mooi pad vir ’n motorfiets. Eers kronkel dit deur klipkoppies en dan ry jy lang ente oor vlaktes en uiteindelik loop dit afdraande tot by ’n rivierloop. 

Moet net nie te mak raak met die hoë middelmannetjie nie! 

Iemand het iets genoem van die Raap en Skraap-gasteplaas in die rigting van Kakamas, dus ry ons langs die Oranjerivier af om daar uit te kom. Donkernag kom ons toe op die reusagtige plaas aan en slaan kamp op op ’n grasperk reg langs die rivier. 

DAG 3

Raap en Skraap tot by Kliprand: ongeveer 280km 

Ongelooflike tonele

Vroegoggend word ons deur Raap en Skraap se plaasbestuurders verwelkom. 

Hulle nooi ons sommer ook terstond om nog ’n nag daar oor te bly, “want vanaand is hier ’n gróót partytjie.” 

Ongelukkig moet ons aanstoot, want ons het gisteraand besluit om weer huiswaarts te begin keer en vandag tot by Middelpos, tussen Calvinia en Sutherland, te ry. 

Ons ry met die R358 deur die Boesmanland terug tot by Kliprand. Dié roete is vir my spesiaal. Dalk omdat ons ’n drinkding by ’n vriendelike winkelier by Kliprand kry of dalk omdat die son water trek. 

Die tonele wat ons begroet, is onverbeterlik. Die vygies kan nie helderder nie en die motorfietse kan nie lekkerder ry nie. Ons is gelukkig om op ’n goeie kampplek af te kom. By die enigste klipkoppie vir myle langs die pad, naby die Rooislootrivier, so 30km buite Kliprand, het ’n boer ’n hek opgesit wat hy nie gesluit het nie… 

Dankie, Oom. 

Foto Adriaan Oosthuizen

DAG 4

Rooisloot tot by Gannapas: ongeveer 350km 

’n Kuiertjie in die Middelpos-kroeg 

Ná middagete in die Hantamhuis op Calvinia stoot ons aan na Middelpos op ’n grondpad sonder naam. Op pad loop ons drie motorfietsryers van Gauteng raak. Ons trek af om oor die fietse te gesels. 

Toe ons by Middelpos aankom, mik ons kroeg toe. Die wedstryd tussen die Springbokke en Nieu-Seeland is aan die gang en dis jolig. 

Halftyd is al die manne eers buitentoe om na die “bikes” te gaan kyk. En hier, soos by soveel ander plekke, kondig ’n paar ouens vasberade aan dat hulle ook so ’n trippie wil doen. 

Op pad Sutherland toe ry ons oor die Gannagapas, ’n grondpad. 

Toe ek die uitsig van bo af bewonder, verbeel ek my ons het ’n verlore wêreld ontdek. Dis ’n onherbergsame terrein met murasies hier en daar. 

Vanaand is die laaste aand van die trip. Ek rits myself in my slaapsak toe in ’n droë rivierlopie hier aan die voetheuwels van die Roggeveldberge en ek is dankbaar. 

Môre moet ons mekaar op Ceres groet, maar op dié reis van 2 000km het ons genoeg avontuur gehad om ons vir eers weer rustig te maak. 


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #25 (Desember 2007) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.