Ons gaan na die Kgalagadi-oorgrenspark toe, maar min weet ons van die nagmerrierit wat voorlê. ’n Groot deel van die park lê aan die Botswanakant, en dis presies waarheen ons op pad is.

Uit die park kan ’n mens Botswana binnery waar immigrasiebeamptes jou by die Twee Rivieren-ruskamp help.

Al ons permitte en papierwerk is in orde, en een van die beamptes gee raad en sê ons moet eerder nie die pad van die Nossob-kamp af na Mabuasehube aan die Botswanakant neem nie.

Hulle beveel die pad verby die Ta Shebube Polentswa Lodge tot by die Kaa-hek aan, want dis glo die pad wat die plaaslike mense gebruik. Dis ’n tweespoorsandpad en net vir eenrigtingverkeer. Die beampte merk nogal dié 187 km-roete tot by die Kaahek met sy pen vir ons op die kaart uit.

Ons val op ’n Sondagoggend net ná sewe in die pad. Ek sleep ons Afrispoor Cheetah-boswoonwa met my Ford Ranger 3.2-4x4 met sy outomatiese ratkas. ’n Groot pad loop verby die Ta Shebube Polentswa Lodge en daarna word dit sandpad.

By die afdraai is nie ’n behoorlike rigtingaanwyser nie en die pad is vol van die oulike waaierstertmeerkaaie se gate gegrou.

Die eerste 10 km is ’n geweldige gestampery, en die Ranger en die Cheetah voel die houe. Ons byt die eerste uur vas, maar die pad is naderhand só begroei dat die bosse ons bakkie en wa lelik krap.

In die moeilikheid
In die moeilikheid

Sonder waarskuwing draai die sandpad oor ’n hoë duin en dan is dit erg losgetrap. Ons moet sonder veel spoed hieroor en daar is nie omdraaiplek nie.

Die ouens wat voor ons met hulle 4x4’s hier oor is, het die sandpad behoorlik vol gate gegrou waar hulle vasgesit het.

Ek verloor hier en daar momentum en moet dan terugstoot en weer vorentoe om vordering te maak.

Maar die duin wen en ons val vas en moet onsself uitgrawe. Estelle het later genoeg van die sandryery gehad en selfs gedreig om die laaste 50 km eerder te stap. Maar hier is leeus en ander wilde diere en ’n mens kan ook nie jou wa net hier in die vreemde los nie.

Ons het heeltyd in tweede of derde rat gesleep en kon nie vinniger as 30 km/h in die dik sand ry nie. Ná ’n gespook van amper agt uur het ons uitgeput en verlig by die Kaahek aangekom. Nooit weer só alleen nie!


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep #98 (April 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.