Ek en my man, Corno, het sowat nege jaar gelede in Kaokoland vakansie gehou.

Een oggend vroeg het ons in die droë rivierbedding van die Hoanibrivier gery, op soek na woestynolifante. Laatoggend het die soektog nog niks opgelewer nie en ons het koelte onder ’n oorhangrots gaan soek.

Ek het my deur rustig oopgemaak om uit te klim – en dis omtrent die laaste deel wat ek presies kan onthou.

Die Patrol was besig om in die sand weg te sink en ek het kliphard gegil. Ons het in een beweging ingespring, my man het die Patrol aangeskakel, maar ons het eenvoudig al dieper in die grond in gesink.

Die sandkors onder die wiele het meegegee en die water het deurgesyfer.

Die herwinningsplan was eenvoudig: ons sou sand voor en agter elke wiel uitgrawe en klippe in die gate pak. Dan sou ons vorentoe en agtertoe ry totdat die bande vastrap kry.

Ons het egter gou besef die plan gaan nie werk nie toe die Patrol tot op sy aste in die modder in weggesink het.

Die naaste boom was ongelukkig ook te ver om die wenas te gebruik en omdat ons alleen gery het, was ons redelik gestrand.

Ons het nog altyd probeer om nie te ver van die beskawing af te dwaal nie. In ’n stadium het ek dit oorweeg om my marathonervaring te gebruik en tot by die beskawing te draf.

Die geluk was egter aan ons kant. Ons het die vorige dag ’n Engelse paartjie by Purros gehelp om ’n pap battery aan die gang te kry. Hulle het glad nie die omgewing geken nie en ons het ons roetekaart vir hulle gegee. Hulle was van plan om dieselfde roete as ons te volg om olifante te soek, maar sou vroeër as ons vertrek het.

Danksy ’n naamlose geluksgodin het ons dit reggekry om voor hulle te vertrek en net toe ons die Patrol lekker ingegrawe het, het hulle by ons stilgehou. Saam met hulle gids kon ons die Patrol uiteindelik loskry en met die wenas uitsleep. My man se reaksie: “Ek het heeltyd geweet hulle is agter ons ...


Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #59 (April 2014) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy iets raaksien.