Ons jaarlikse gesinsvakansie is dié keer ’n sigeuner-swerftog deur die Noord-Kaap: ry waar die paaie ons vat en slaap waar ons kom. En ons bevind onsself by die begin van die berugte Road to Hell, wat uit die Namakwa-4x4-roete uitdraai.

Vorige reisigers waarsku op die klippe: “turn back!”, “dangerous” en “road to hell”. 
Dit lyk nie te erg nie ...

Die begin is nou wel steil afdraand, maar die padoppervlak lyk nie te rof nie. Sonder om my vrou, Thea en kinders, Jean (18) en Nikita (16) kans te gee om boe of ba te sê, druk ek die neus van die Cruiser af in die paadjie.

Net om die eerste draai verander die pad egter heeltemal: Nou is dit behoorlik steil af en die “pad” is net ’n versameling los klippe van tennisbal-grootte tot rotse.

Eerste rat laestrek en die swaar gelaaide Cruiser wieg en bons oor die groter klippe (rotse!) terwyl die bande glip en grypplek soek. Die klippe kraak en knars onder die kar. 

Ek konsentreer hard om die bande op die regte lyne te laat loop: Die klippe is hoekig met vlymskerp kante. Ná sowat 300 m kry ons ’n gelyker stukkie en ek stop om eers weer asem te haal.

In ’n stadium wieg die Cruiser skerp na regs en instinktief druk ek met my regterhand teen die rotswand om die voertuig weg te hou van skade ...

Thea kyk my skuins aan en vra of ek seker is ons wil hier af. Ek is glad nie seker nie, maar hier is geen omdraaikans nie: As jy eers in is, is dit tot die einde.

Nou raak die slegte pad éérs sleg. Om ’n groot klip aan die linkerkant te vermy, moet ek die regterkant van die motor tot vlak teenaan die rotswand van die pad druk. In ’n stadium wieg die Cruiser skerp na regs en instinktief druk ek met my regterhand teen die rotswand om die voertuig weg te hou van skade ...

Ons luier aan in donkierat en ná nog twee moeilike passies met rotse wat versigtig omseil moet word, kom ons tot onder in die sanderige rivierbedding.

Die son begin nou sak en daar is nog 3,4 km oor na die Gariep. Stilletjies hoop ek daar is nie nog erge stukke wat voorlê nie. Ek neem myself voor as dit so is, kamp ons net daar en draai om in die oggend.

Eers slinger ons rustig voort in die sanderige bedding, omring deur oranjebruin rotsformasies wat lyk asof hulle ook deur ’n geologiese marteltog is. Dan doem nog ’n rant op, nog ’n steil klipperige pad.

Gedagtig aan my voorneme om nie weer net in te foeter nie, stop ek, klim uit en begin die steilte opstap. Dis net 100 m tot die kruin, daarna nog ’n paar honderd meter se kronkelrige klippad en dan is dit weer droë rivierbedding.

Ons kruip oor die rantjie en nog ’n paar kilometer se riviersand bring ons by die Garieprivier. Met ’n gevoel van bevrediging hou ek stil op ’n sanderige kol langs ’n verskrompelde tamarisk.

Die halfmaan hang helder bokant die kliprante. Met die winterkoue wat begin byt, maak ons die vuur dood en almal kruip in hul snoesige slaapsakke in.

Nog voor die môrestond goue stopsels in sy bek vertoon, is ek al uit die daktent. Ná ’n vinnige ontbyt pak ons kamp op. 

Die lang pad terug

Ons trek weg: dis 08:31. Die eerste 3,5 km gaan redelik vinnig en sonder voorval.

Dan doem daardie laaste 1,4 km se steiltes voor ons op. Ek vat die helling in eerste rat laestrek, met die enjin net bokant luierspoed. Ek wil die bande beskerm en ons bly rondom stapspoed.

Thea en Nikita besluit hulle sal liewers stap as ry – sodoende kan hulle ook die pad vooruit dokter. 

Ek speel weer gister se afkom deur my geestesoog: Daar was drie besonder slegte plekke en ek weet dié hindernisse gaan ons regtig toets.
Kort voor lank is ons by die eerste struikelblok: ’n groot rots wat die regterkant van die pad versper. Daar is skrapse verbykomkans links van die rots, maar die linkerwiele moet gevolglik gedeeltelik teen die berghelling uitklim.

Die pad het reeds uitgeskopte holtes waar vorige voertuie gesukkel het. Ons bekyk die ding so, soek die lyn wat die beste lyk, en dan begin ons die ou skopgate opvul met klippe.

Soos die linkervoorwiel die helling probeer klim, begin die regtervoor- en linkeragterwiel skop en ingrawe. Ek trap die koppelaar en rem en gebruik trurat om stadig terug te stoot. Ek weet dit gaan ’n lang dag wees. Dis 09:07.

Ons maak nog pad, pak en wig klippe in sodat hulle hopelik minder sal uitskop onder die wiele. Die tweede keer kom ons uit sonder veel van ’n gesukkel en ek skep ’n bietjie moed. 

’n Paar honderd meter verder aan kom ons by die tweede versperring: die berugte trap. Dis ’n baie steil rotsbank met ’n diep verweerde sloot aan die regterkant (die kant van die afgrond). Ons stop weer en bereken die beste lyne vir die bande.

Almal spring weer in met die padwerk, en gou-gou lyk die slote nie meer so erg nie. Die Cruiser vat die helling, maar graaf homself in as die helling te steil raak. Ek retireer en ons pak nog klippe.

Ek probeer weer en skop weer vas.

Teen hierdie tyd besef ek dat die kleiner klippe nie veel help nie; die bande skop hulle te maklik uit. Dis beter om groot, langwerpige klippe te pak met hul lang kant in die ry-rigting. Sodoende kan die bande hulle nie so maklik tol of uitskop nie. 

Thea gaan staan voor om my te beduie waarom die voorbande te plaas. Dié keer gee ek bietjie meer vet: Ek wil momentum gebruik om die voorwiele óp die rotsbank te kry. Die enjin grom aggressief, die klippe knars en spat, maar die enjinkap lig en die voorwiele grou teen die rotstrap op.

Net toe die agterwiele begin grawe, kom die voorwiele oor die trap en kry kloukans op die soliede rots. Ek voel hoe hys die voorwiele die res van die voertuig oor die klipbank. Ek hou stil vir ’n blaaskans.

Jean vertel met groot oë dat al twee voorwiele momenteel in die lig gebons het met die opbeurslag. 

Nou bly daar nog net één obstruksie oor: Dis ’n groot klip wat die regterkant van die pad versper op ’n besonder steil seksie. Daar is nie genoeg plek aan die linkerkant om óm die klip te ry nie: ’n soliede rotswand staan reg om die onverhoede bestuurder duur voertuigskade te berokken. 

Die padoppervlak is sleg verniel deur vorige voertuie wat duidelik ook hier gesukkel het. Met die afkomslag was dit bloot ’n kwessie van baie stadig met die wiele oor die klip ry, maar met die opgaan is dit doodeenvoudig te steil.

Ons pak pad, maar elke keer as die regtervoorwiel die klip probeer opklim, dan begin die ander bande skop. Hier is die pad net los klippe, nie soliede rotsbank nie, en dis moeilik om vasstrapplek te kry. Ná ’n hele paar onsuksesvolle pogings moet ek bes gee: Die enigste manier wat ons hier gaan uitkom, is om die klip uit die pad te kry.

Ek en Jean gaan sit en probeer die klip met ons bene uit die pad rol, maar die klip is soos ’n ysberg: die grootste deel is onder die grond. Ek vat my geologiese hamer en begin die klip kap, half doelloos maar om darem iets te doen terwyl my brein probeer aan ’n plan dink. Die hamer maak nie eintlik indruk op die klip nie. Jean vat die hamer by my en hou aan kap-kap-kap.

Nou bly daar nog net één obstruksie oor: Dis ’n groot klip wat die regterkant van die pad versper op ’n besonder steil seksie.

Net toe ek hom wil stop, hoor ek die helder klok-klank van die hamer se houe op die klip verander na ’n dowwer geluid.

Ek besef Jean moes ’n kraak in die rots gevind het. Ek en Jean neem beurte om die klip net op hierdie een plek te hamer en na tien minute splits omtrent ’n derde van die rots af. Maar dis net aan die een kant, en die klip staan nog net so hoog. Ons kry egter nie nog krake in die klip nie.

Wel, as ons hom nie kan stukkend kap nie, dan grawe ons hom uit! Die uitgrawings wys gou dat dit nogal ’n groot stuk rots is. Plan D dan: Kom ons grawe ’n groot genoeg gat langs die klip dat hy vanself daarin rol.

Sowat twintig minute later kantel ons die reus om in sy eie vlak graf.

Ons pak weer pad om dit so gelyk as moontlik te kry. Ek reken ons het hierdie oggend meer as ’n ton rots verskuif!

Die laaste sowat honderd meter is relatief goed en ons stop op die kruin van die pas. Die horlosie staan op 11:35. Dit het net mooi 2½ uur gevat om 1,4 km te voltooi.

Thea en die kinders dra wit kwartsklippe aan waarop hulle boodskappe skryf. Hulle pak ’n ry klippe oor die pad om die volgende reisigers twee keer te laat dink voor hulle hier invaar. Jean skryf ewe wintie op die noodwiel se bekleedsel: “Road 2 Hell se gat!”

Ek is bly en dankbaar dat ons ongeskonde hier uitgekom het, maar die wete knaag dat ek eintlik drooggemaak het deur in die eerste plek hier af te gefoeter het. 

Het jy ’n reisverhaal wat jy graag met ons wil deel? Stuur dit na suzaan.hall@media24.com en ons gebruik dit dalk!

* Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #45 (Desember 2012) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon sedertdien verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.